Onderstaande is ’n praatjie wat ek vanaand, op taaldag 14 Augustus 2009, op uitnodiging moet lewer tydens ’n byeenkoms van die Bloemfonteinse Kultuurvereniging. Die BKV is ’n Afrikanerkultuurorganisasie. Daar is versoek dat die praatjie meer populêr van aard moet wees. So gevra, so gedaan.
*****************
Bly of gly? Afrikaners se ervaring van ontheemdheid, soos dit tot uitdrukking kom in enkele onlangs gepubliseerde gedigte en liedjies
Dames en here,
ken u – of u kinders, of familie of vriende van u se kinders – nie die volgende situasie alte goed nie? (Pynlik goed nie, moet ek eintlik vra.) Dit word uitgebeeld in Herman van den Berg se liedjie “Pêlle in exile”, op sy 2003-album Proe die aarde. Ek speel die eerste strofe daarvan.
Op ’n Saterdagaand
In ’n ver-ver land
Kom die pêlle getrou bymekaar
Soos ’n ou ritueel
word die braaivleis maandeliks gereël
Hulle praat soos gewoonlik oor kaalvoetdae
En politiek in Suid-Afrika
En krap in die vuur
Wat met skimme speel teen die muur
Maar soms word hul skielik net stil
As hul onthou hoe die wêreld verskil
Van die land waar die son heeldag skyn
En teen die aand soos ’n vuurbal verdwyn
Die geluk bly maar ’n skyn
As jy glo jy’s in exile[.]
Om ontheemd te voel, ontuis en vervreemd hier op die ondermaanse, is sekerlik nie ’n ervaring uniek aan die Afrikaanse wêreld nie. Trouens, ook nie aan enige onderdeel van die groter wêreld van vandag of van die verlede nie.
Ek lees in die Amerikaanse tydskrif National Geographic van Oktober 1998 dat, na berekening, byvoorbeeld 60 miljoen Europeërs hulle tuistes tussen die 16de en 20ste eeue verlaat het. En volgens beraming het meer as 70 miljoen mense, om redes wat wissel van gedwonge verhuisings tot die wekroep van onbekende verre plekke, in die 1990s tussen lande gemigreer. In daardie selfde uitgawe is voorspel dat migrasie een van die grootste uitdagings gaan wees om te hanteer in die 21ste eeu.
Onvrede met die hede, en ’n nostalgiese hunkering na die verlede of ’n idealistiese uitsien na wat in die toekoms nog verwerklik moet word, is kenmerkend van een van die mees basiese geestesingesteldhede, naamlik die romantiese. Romantici kan mos só verlore voel in die wêreld – en ervaar ons dit nie maar almal een of ander tyd nie? C. Louis Leipoldt het dié belewenis al amper ’n eeu gelede in die gestalte van die sekretarisvoël treffend uitgebeeld:
Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou penne agter die ore styf,
Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?
Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,
Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?
Die ontheemding waarop ek vanaand wil konsentreer, is nie dié romanties geïnspireerde vervreemdheidservaring nie; eerder die ontheemding wat ’n resultaat is van veral die onlangse sosiopolitieke ontwikkelinge hier by ons. Maar ek betrek die romantiese ontheemdheid, want digters en liedskrywers strewe juis om uit die tydelike, unieke belewings iets algemeen-mensliks aangaande die vervreemdheidsgevoel te haal.
Bowendien: Dié van u wat realisties geörienteerd is, wat weet om te leef deur u op die bereikbare en vormbare hier-en-nou toe te spits, sal dalk kan getuig hoe ongemaklik, frustrerend of terneerdrukkend dit kan wees om met mense saam te leef wat gedurig dink die goeie ou dae was die beste – of wat droef-berustend bly sug en sê dat dinge dalk ééndag beter sal word.
Romantiese siele, as hulle daarin kan slaag om hulle nostalgie of hulle idealisme te tem en in te span tot denke en dade wat die onbehaaglike, verstarde hede omwoel tot nuwe vrugbaarheid, kan egter ook baie besielend wees. Baie van die groot hervormers van die geskiedenis was wesenlik romanties van geaardheid – realiste wat realisties genoeg was om te bly droom, soos wyle dr. Anton Rupert ongeveer sou sê.
En beide hierdie elemente – die frustrerende sowel as die inspirerende van die ontheemdheidservaring – gaan ek ter sprake bring.
Ek wil weer vir u ’n lied speel. Dis ’n verontrustende liriek deur Gert Vlok Nel. (Die jaar waarin hy dit geskryf het kom ter sprake in die liedteks.) Dis ’n lied wat hoofsaaklik die treurige ontvlugtingsdrang van die romantiese gesindheid uitdruk, maar wat ook die meeste van die temas aanraak wat ek vanaand wil aanroer. Die titel van Nel se lied is – waarskynlik doelbewus en dus op betekenisvolle wyse – in Éngels, naamlik “Epitaph”, oftewel “grafskrif”. Daar is ook ’n verwysing na “my mooiste dorp”; dis natuurlik Beaufort-Wes, waar Nel grootgeword het.
Laasnag het ek gedroom dat ek weer in 1975 woon, die jaar toe ek laas gelukkig was.
Toe het ek afgekom by die trap & vir my water getap in die kombuis dit was so stil in die huis.
Die mooiste jare is verby.
Anyway, & toe het ek gedroom dat ek in ’n jaar so ver as moontlik van 1998 af gaan woon.
Laasjaar het ek gedroom dat ek weer in my eie mooiste woorde woon in my mooiste dorp & dat ek weer gesond begin te word.
Toe het ek wakkergeskrik & iets was nie pluis nie ek was so lost ek was nie in my eie huis nie.
Die mooiste woorde is verby.
Anyway, & toe het ek gedroom dat ek in ’n taal so ver as moontlik van Afrikaans af kan gaan woon.
In my boyhood het ek ’n meisie gehad sy was beautiful beyond Afrikaans sy kon heelnag my so hartseer dans & sy was somehow Gert se laaste stance.
En toe het sy gedroom dat sy in ’n lyf so ver as moontlik van my lyf af gaan woon.
Die mooiste liefde is verby.
Anyway, & en toe het ek gedroom dat ek by haar lyf so ver as moontlik van my eie lyf af gaan woon.
Somewhere het ek gedroom dat ek my eie begrafnis bywoon & Pa was daar & Ma was daar & al my geliefdes soos in my gelukkigste jaar.
Maar die mooiste was dit die mooiste was dit dit was dat ek afgebuk het na die grond & myself gesoen het op my eie mond.
Die mooiste drome is verby.
Anyway, & toe het ek gedroom dat ek in ’n droom so ver as moontlik van hier & nou af kan gaan woon.
Laasnag het ek gedroom dat ek weer in 1975 woon, die jaar toe ek laas gelukkig was.
Toe het ek afgekom by die trap & vir my water getap in die kombuis dit was so stil in die huis.
Die mooiste jare is verby.
Anyway, & toe het ek gedroom dat ek in ’n land so ver as moontlik van Suid-Afrika af gaan woon.
& toe het ek gedroom dat ek in ’n land so ver as moontlik van Suid-Afrika af gaan woon.
(Beaufort-Wes se beautiful woorde, 1998)
Die twee datums wat Gert Vlok Nel in sy lied noem, verteenwoordig ’n soort “daarvoor” en ’n soort “daarna”. 1975 was die jaar vóór die Soweto-opstande en 1998 is ’n paar jaar ná die totstandkoning van die nuwe Suid-Afrika in 1994. Dis ongeveer die tydperk waarin die Afrikaner se politieke selfvertroue tot in sy fondamente geskud is – waarin die afkeer wat Afrikanernasionalisme en Apartheid by ander mense gewek het, oorweldigend duidelik geword het – sodat die Afrikaner, omdat hy nie langer in onreg wou bly voortbestaan nie, van sy politieke mag afstand gedoen het.
Die gevolg was dat die nuwe regime die persepsies van die geskiedenis begin dikteer het, dat die Afrikaner se bestaan in hierdie land alte eensydig negatief geteken geraak het. En dat selfs baie Afrikaners alles (weer!) vir soetkoek opgeëet het. Wat D.J. Opperman al in 1968 in sy versdrama Voëlvry geskryf het, is dikwels as wáár ervaar: “Ons volk is in die wêreld voëlvry verklaar…”
Die titel van I.L. de Villiers se digbundel van verlede jaar druk die gevoel van baie Afrikaners as gevolg hiervan kernagtig uit: Verveemdeling (2008). Op die voorblad van die bundel verskyn ’n foto van Tatanka-Iyotanka, oftewel Groothoofman Sittende Bul. Ook die openingsgedig van die bundel gaan oor hom. Hy was een van die laaste opperhoofde van die inheemse Indiaanse stamme wat hulle – tevergeefs – verset het teen die Amerikaanse federale regering wat die Indiane al verder uit hulle tradisionele gebiede verdryf het. Ek lees die laaste paar strofes van die gedig:
[…]
Jy het dit in ’n droom gesien, Turende Buffel:
hoe hul jou neerskiet: oorlopers van jou eie stam.
Maar jy wou dans, skuim om jou dun mond,
met die ou gedaantes om die geestesvure
in die skemer van die vaders. Koeël in die keel
en nog een tussen albei oë het jy eers gehurk,
gaan sit, en soos die groot bul van die trop
keiserlik omgekantel. Toe het jy voortgehuppel
met die krygergeeste, vry, om die vure van sterre
op die oop, ewige prairies van Wakan Tanka,
hy wat self sy uitverkore manne ver na sonne lei
en hulle na die aarde terugbring as die tromme dreun.
Nou wag ek: dat jy in jou portretraam
ligweg vir my oogknip, dat die Dans
van geeste net ná sonsak gaan begin, dat ek saam
kan huppel met die geeste van my vaders en jou vaders,
met vroue uit die kampe, vegters vir hul eie plek, hul eie son,
helde en skandemakers, tot vir eers ons oggend sterf in dooie kole,
en die oorlopers en nuwe heersers kla dat hul onrustig slaap.
Onsalig, o Tatanka, kyk ons na mekaar:
twee geeste in ons eie foto’s van vergeet –
ons tuur saam uit ons skreefgrot oë
want ons weet.
By sommiges het dié vervreemdheid ’n drang ontketen om hulle te distansieer van Afrikanerskap, selfs van Afrikaans en van Suid-Afrika – soos ons in Gert Vlok Nel se lied kon hoor. Die identiteitsvraagstuk, wat ’n lang geskiedenis in onder meer die Afrikaanse poësie het, is weer sentraal gestel. “I am no longer one of us”, is die veelseggende titel van een van Breyten Breytenbach se gedigte in die bundel Papierblom, uit dieselfde jaar (1998) as Gert Vlok Nel se lied.
In die gedig “Ai tog!” uit haar bundel Kleur kom nooit alleen nie, skryf Antjie Krog in 2000 soos volg:
ek is moeg
vir dié wat so hewig tuiskom teen die Afrikanerbors
die ou prostate met die gekroonde tande en die bifocals
die male vanity van die wat die laaste woord spreek
oor die voorwaardes van by hulle hoort
ek is moeg
vir hul onbetaamlike haas om te brandmerk, in te stoet en op te pis
almal sit helaas met ’n spul stinkende identiteite in die skoot
(en ’n taal gestroop van die grammatika
van menslikheid en berou)
mens sê maar gereeld
mens is niemand se Afrikaner nie
mens praat niemand se taal nie
mens is nie ’n moer iemand se meriete nie
mens is drolwit en pisswart
mens skyt graag op die manne
wat werk by die nuwe barcounter van identities
[…]
Regverdigheidshalwe moet darem gesê word dat Krog nie in haar bundel volstaan met hierdie afwysing van Afrikanerskap nie. Sy poog om in die bundel haar Afrikaansheid te rekonstrueer in gesprek met die Afrika-konteks. Die argument is dat persoonlike heling en ’n eie identiteit ontstaan deur die belydenis én aanhoring van wat skend en skeiding maak. Kortom: deur wedersydse respek en medemenslike liefde. Wanneer voldoen word aan hierdie menslikheidsvoorwaarde, so word in die bundel gesuggereer, is ook iets soos ’n meer spesifiek Afrikaanse identiteit akkommodeerbaar.
Een uiting van die meer afstandelike houding met betrekking tot Afrikanerskap is die bevraagtekening, selfs verwerping, van die voorrang van Standaardafrikaans – ook as medium vir die digkuns. Ek dink, wat die meer onlangse poësie betref, aan digters (en soms ook liedjieskrywers) soos Koos Kombuis, Gert Vlok Nel, Ronel Nel, Toast Coetzer, Danie en Loftus Marais, maar veral ook weer aan Antjie Krog as ’n belangrike (in haar geval redelik spaarsamige) benutter van wat soms Loslitafrikaans (Afrikaans deurspek van Engelse en Anglisistiese uitdrukkings) genoem word. Na aanleiding van ’n radio-onderhoud met Daniel Hugo in 2001 het Krog te kenne gegee dat sy dit juis doen ter ondermyning van die sg. “hoogdrawendheid” van Standaardafrikaans.
Daar is by sommiges die gevoel dat Standaardafrikaans so vervleg is met die ideologie van Afrikanernasionalisme dat dit iets onegs het, iets gemaaks – iets “oorgeklank”, soos die titel van ’n gedig deur Loftus Marais beweer. Dié gedig klink so:
onthou die oorgeklankte stories toe ons kinders was
en ons wat daarna kyk en na seep en skoon pajamas ruik
[…]
die amerikaanse huisgesin wat afrikaans kan praat
modern, republikeins, gejaag, altyd liefdevol tydens krisisse
al is een kind verstandelik vertraag
en die manne van viëtnam wat in uur lange aflewerings
en met besielde temalied, ál die kommuniste skiet
terwyl daar in die agtergrond woude wieg en hutte brand
al is ons, jy onthou, elke aand eindeloos vermaak
het ons tog wel vermoed daar’s fout: die monde op die kassie
het nooit presies by hulle woorde gepas nie
êrens op ’n radiostasie was stemme besig
met die regte woorde, met grappe wat ons nie kon snap nie
ons, saans, in sitkamers vol standaard-afrikaans[.]
Vandaar, dit wil sê uit protes hierteen, dat Loftus Marais in dieselfde bundel van hom (Staan in die algemeen nader aan vensters, 2008) ’n beskrywing van die Kaap plaas in die mond van ’n spreker van Loslitafrikaans:
Ook aan die Kaap geskrywe
nou dié ou prossie-transvestiet check haar hare
in die baai se antique spieël: cumulus chic
met ’n boeing vir ’n haarnaald, final touch
en kwit, sy glitter van die sequins
maak nie saak the time of day
[…]
sy skryf haar memoirs, grand, met klip
as hoekstene, standbeelde, monumente
en, ever the dame, try poëties wees
al maak sy die verlede en hede
meer glamorous as wat dit eintlik is
vergewe ons haar waar sy haar mis-shawl
laat val, en staan: Lady Capetown
floor-lit deur die hawe
en daai smile dan smile, met geskiedenis as backdrop
[…]
Gepaardgaande met die Afrikaanse identiteitsvraagstuk moet dus ook Afrikaanse kultuurpessimisme as ’n belangrike tema van die onlangse Afrikaanse digkuns genoem word. Pessimisme oor die handhawing en uitbouing van (die Afrikaanse) kultuur, dit wil sê ook oor die voortbestaan van Afrikaans en die nut en waarde van poësie, het ’n opvallende tendens geword.
Dis ’n siening wat al meermale deur Breyten Breytenbach in sy gedigte uitgedruk is, maar selfs nog sterker uitgespreek staan in sy jongste digbundel, Die windvanger (2007). Woorde soos “vergeet”, “vergetelheid”, “verdwyning”, “verderf”” en “dood” deurspek die bundel. Afrikaans, die taal van sy gedigte, word herhaaldelik as “die dooie taal” bestempel. By Breytenbach se bundel kan ’n hele lys onlangse publikasies in hierdie verband geplaas word.
Een voorbeeld nog: Marius Crous situeer die wanhoopwekkende Suider-Afrikaanse situasie by die breër postkolonialistiese diskoers in sy debuut, Brief uit die kolonies (2003). Die koloniale onderneming met sy geweld en hiërargiserende denkpatrone word as ’n besonder negatiewe ervaring (’n “hellehool”) vir sowel veroweraar as verowerde uitgebeeld. Verydeling en selftwyfel is by die blanke die resultaat wanneer dekolonialisering plaasgevind het (daar word byvoorbeeld gevrees dat Afrikaans en die Afrikaner sal verdwyn soos “’n prehistoriese dier”), terwyl die voormalige “bevrydingsvegters” die ou bewind naboots en selfs oortref in hulle arrogansie en korruptheid as maghebbers.
Die laagtepunt van bedruktheid word in die laaste drie gedigte van die bundel bereik. Die digter bely dat hy hom instinktief aan die kant van die onderdrukte voel; dat hy verkies om “die bedmaat” te wees van die “vyand” van die maghebber. Maar in die postkoloniale omgewing het hy nou die “hofdigter/ van die nuwe regime” geword – en voel hom daarom eerder geneë om binnewaarts te ontvlug na ’n geslote, persoonlike wêreld: in sy huis-soos-’n-gevangenis, of selfs sy “skedel” in (wat onder meer die doodsimboliek betrek).
En tog, ek wil nou iets sê wat sal klink of dit glad nie strook met die voorafgaande nie: dat dit gelukkig is dat hierdie vertwyfelings juis in Afrikaans uitgedruk staan. Dis ’n soort eie waarheids- en versoeningsondersoek wat gedoen word. En hoewel dit soms voel of dit met meer felheid geskied as die werklike verrigtinge van die kommissie wat ’n dekade gelede plaasgevind het, is dit dalk oorwegend ’n heilsame ding. Dis ’n skoonmaakproses, ’n purgering selfs, sodat slegs wat wesenlik en houdbaar is, uiteindelik sal oorbly. En hopelik sal onsuiwerhede, soos rassisme, seksisme en ander onverdraagsaamhede, asook te veel selfingenomendheid en selfoorskatting, weggewas word.
Daaruit kan gesonde groei dalk voortkom.
Onthou u die – toe nogal rédelik klinkende – voorspelling van Olive Schreiner sowat ’n eeu gelede?
“Ná vyftig jaar se geveg en stryd teen die Boer, sal daar geen Boer meer in Suid-Afrika wees wat Afrikaans (the Taal), behalwe as ’n kuriositeit, praat nie; net die groot Engelssprekende Suid-Afrikaner sal oorbly.”
Ek kan aan minstens twee kragte dink wat destyds gegeld het tot uiteindelike verydeling van Schreiner se verwagtings. Eerstens: Alhoewel die Boere die Anglo-Boereoorlog verloor het, het die Bittereinders gesorg dat dit nie in oneer was nie. Daarom het genl. Koos de la Rey tydens samesprekings tussen die twee Boererepublieke oor vrede met Brittanje, op 30 Mei 1902, met integriteit kon sê:
“U spreek van geloof – wat is geloof? Here, u wil, nie my wil, geskiede! Ek vernietig my onder Gods wil!”
’n Ander krag was die vertroosting en inspirasie wat die opbloei van die Afrikaanse letterkunde gebied het, met name die Afrikaanse poësie van mense soos Eugène Marais, Jan F.E. Celliers, Louis Leipoldt en Totius. Dit het die herstel, die versterking van die Afrikaner se selfbeeld help bemiddel.
Ek is van mening dat twee soortgelyke kragte tans in die guns van die Afrikaanse kultuur tel. Die beëindiging van die alom verdoemde Apartheidsbestel was minstens deels die handewerk van Afrikaners. Daardeur is die moontlikheid geskep om, in die oë van die wêreld en – belangriker nog – ons eie oë, uit die morele dongas na die hoër grond te beweeg.
Tweedens: Daar gaan BAIE aan in die Afrikaanse kuns- en vermaaklikheidswêreld, en ook heelwat wat van hoë kwaliteit is.
En wéér kan Afrikaanse mense troos en inspirasie uit die eietydse dig- en liedkuns put, tussen die selfkritiek deur.
In 2000 verskyn ’n bloemlesing met die sprekende titel Nuwe verset, saamgestel deur Daniel Hugo, Leon Rousseau en Phil du Plessis. Daarin word ’n toenemende misnoeë uitgedruk jeens die “nuwe onregte en nuwe onheile” van postapartheid-Suid-Afrika: die ontoeganklikwording van geleenthede vir byvoorbeeld Afrikaanssprekendes; die verval van infrastruktuur, moraliteit en omgewing; (gewelddadige) misdaad en (omgekeerde) rassisme. Die derde afdeling van die bloemlesing, met die titel “Ons het die waarheid vertel”, weerspieël ’n aanspraak op openhartigheid, asook die uitspreek van waardes of voorwaardes vir ’n werkbare saambestaan alhier. Dit is dus ’n demokraties opbouende verset wat gevoer word, en wat selfs beskryf is as ’n voortsetting van “die sogenaamde struggle-poësie van die jare sewentig en tagtig”. In solobundels uit die afgelope klompie jare kom sodanige verset redelik wydverspreid voor.
Die aangeleenthede waarteen die verset gerig is, is natuurlik ook belangrike redes waarom soveel jong mense die land verlaat.
Hoe ook al, dit is dan daar in die buiteland dat baie Suid-Afrikaners séér bewus word van hulle eintlike identiteit. En die dinge wat Afrikaanses klaarblyklik die meeste mis daar in die vreemde, is familie, die Suid-Afrikaanse landskap, sy ruimtes en kenmerke, en die Afrikaanse taal.
Ek haal uit ’n gedig van die jong Francilie Hoek aan, ’n meisie wat in Londen moet werk en wat vir LitNet se poësiewerkswinkel van 2008 ingeskryf het.
Vir die dagreis Kaap toe
(op ’n London tube vanaf Westminster)
na my droomlandskap
my godland
met sy geheime baaie
en berge wat blou impressionisties toring
the next station is London Bridge
change at London Bridge for Northern Line
British Rail and mainline European services
die tower van ’n plat berg, ’n enkel bos
waar mense nog bid vir reën
the next station is Bermondsy
en in my skouersak
modieus met etniese patroon
twee kaalgatperskes
en ’n boerneefgedig op my vodafone
[…]
die mense bondel uit die oorvol trein
en iemand praat Afrikaans
this train is now ready to depart
please mind the closing doors
ek bly alleen op die platform agter
en wonder wanneer ’n mens vir jou land lief word
toe ek uiteindelik met die roltrappe boontoe gaan
besef ek
liefde is soos bekering
party mense het nie ’n dag of ’n datum nie [.]
’n Ander treffende onlangse voorbeeld is te vind in Kaapse digter Danie Marais se 2006-debuutbundel in die buitenste ruimte. Marais het ’n klompie jare in Duitsland gewoon en –werk op grond van sy huwelik met ’n Duitse vrou. Om verskillende redes verbrokkel die huwelik tussen hulle. Die ongelukkige ervaring in die vreemde funksioneer egter eintlik as ’n gedeeltelike aanduiding van ’n ontheemdingsbelewenis in die algemeen, spesifiek ook van Suid-Afrikaners in die buiteland. Marais verwerk die mislukking van die huwelik eers behoorlik wanneer hy teruggekeer het na sy geboorteland; met name wanneer hy, soos uitgebeeld in die slotgedig van die bundel, tydens die bywoning van ’n kursus in Duitsland drie jaar later tot die besef kom dat Afrika, spesifiek Suid-Afrika, sy eintlike heimat is – dat dit dáárdie land is, en alles wat daarmee geassosieer word, wat brandend in sy gemoed leef. Teen die einde van dié gedig, met as titel “Vlamdans van herinnering”, besef hy, daar waar hy in Duitsland sit:
[…] niks
is so vlambaar
soos eensaamheid en stilte nie.
Hier brand ’n gedig soos ’n olietenkskip
so groot soos ’n nag
kontinent
vir my alleen.
Hier is die woord “ma”
’n wolkekrabber
in ligte laaie;
die woord “pa” ’n brandstapel
vir name en plekke
wat dreig om my te vergeet.
[…]
Daar is moed te skep uit hierdie dinge. Ook uit die feit dat iemand soos Rian Malan, wat Suid-Afrika in die apartheidsjare verlaat het en eens Afrikaans as een van die lelikste tale op aarde beskryf het, teruggekeer het hierheen, en nou in Afrikaans ’n lied soos die volgende skryf en sing:
Bloekomboom daar langs die stroom
Laat staan my bloekomboom
Hy is mooi vir my
Al is sy tyd verby
Ek wil langs hom lê en in sy skadu droom
Afgesaag, afgemaai
Hulle sê die boom moet waai
Hy’s ’n alien
Hy’s ’n nare uitheemse ding
Kap hom af van Harare tot Tafelbaai
Maar ek sê:
Alien, ook inboorling
Hy’s nes ek, my bloekomboom
Hy hoort nie hier, maar hy sit wortels neer
Doer onder in die land se donker are …
[…]
Die Afrikaner se geskiedenis het, naas die skandvlekke, ook sy momente gehad waaruit steeds inspirasie te put is – en nie net deur Afrikaners nie.
Vroeg verlede jaar stuur Herman van den Berg aan my die wysie van ’n liedjie wat, so het hy geskryf, oor ’n Ier gaan – een wat in die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het. Kan ek hom nie met woorde help nie? vra hy.
Via my oud-kollega Jaap Steyn kom ek toe op die spoor van ’n artikel deur André Wessels van Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat. Dié artikel, wat eintlik ’n geannoteerde weergawe is van ’n toespraak wat die Britse historikus J.L. McCracken hier by die Boereoorlogmuseum gelewer het, is in 1978 in die Christiaan de Wet-annale gepubliseer. Daarin word vertel hoe ’n hele aantal Iere aan die kant van die Boere geveg het, en hoe hulle, tesame met die Boere, deur Ierse vryheidsgesindes in Ierland, Amerika en op die Europese vasteland met heldeverering bejeën is. Dié stryd van die Boere teen die Britse oormag het die Iere geïnspireer in hulle eie vryheidstryd, sodat hulle enkele dekades later hulle gedeeltelike onafhanklikheid van Brittanje kon verkry.
Ek speel ten slotte “Lied van die Ierse vryheidsvegter”, vanaf Herman van den Berg se album Dit is wat dit is (2008).
Lied van die Ierse vryheidsvegter
My perd slof aan met kop wat hang
Rondom heers ’n grootse swye
’n Arend sweef oor kloof en krans
soos verlang oor verre tye
soos verlang oor verre tye
Die maande agter ons lê vaal
soos die Hoëveldse leegtes
en verder terug vervaag Natal
sy gebergtes en gevegte
Ons strompel eind’lik uit Transvaal
Delagoabaai lê voor
’n Skip wat ek moet huis toe haal
na ou Ierland waar ek hoort
Land van seë en grys kastele
Land van glens en grasse van smarag
Land van wind en fel verledes
Land van droom oor vryheid wat wag
Ons wou vir goed en reg hier stry
met die Boere teen Brittanje
MacBride en Botha sy aan sy
by Spioenkop en Talána
Maar hoe met min die oormag keer?
Net die Bittereinders bly
om voort te veg vir bietjie eer
en soos Ierland veel te ly
Refrein
Ek bring van hier ’n taai geduld
stille drif wat nie wil blus nie
Die vryheid is ’n ereskuld
wat my nimmer sal laat rus nie
O, Ierland met jou groen en grys
Ierland mooier as ’n vrou
gemartelde en paradys
sterker keer ek dié keer terug na jou
Refrein