Min dinge maak ‘n hengelaar so opgewonde soos ‘n geelvis. Dus, as dit die jaar goed gereën het en die water “reg” is in die distrik Harrismith, loop “die geles” behoorlik in die riviere en spruite en word die distrik ‘n hengelaarsparadys.
Ek het as ‘t ware langs ‘n spruit grootgeword. Rietspruit was ‘n entjie se ry van die plaas af en my pa het vis gevang vandat ek kan onthou. Natuurlik wou ek altyd saam.
Eers het ek met ‘n riet en ‘n stuk lyn met ‘n gebuigde speld vooraan probeer om die krappe onder die brug te oorreed om te byt – soos ‘n jong reier ook maar sukkel-sukkel leer.
Kort voor lank het my pa vir my ‘n erdwurm aan ‘n hoek geryg en vir my “ingegooi”. Dan moes ek wag. As daar so ‘n pluk-pluk aan die wit-en-rooi dobbertjie op die water is, sit jy gereed. As die dobbertjie onder die water verdwyn of oor die water skiet, moet jy vaskap.
Partykeer het ‘n krap langs jou beland. Ander kere ‘n glibberige baber. Of ‘n platanna. Of ‘n moddervis. Die eerste prys was egter ‘n geelvis. Dié vis was veral gesog omdat hy hom behoorlik teësit as jy hom aan die hoek het en nie sonder weerstand uit die water laat lig nie.
Daarby is ‘n geelvis wat jy op ‘n sonnige dag uittrek een van die mooiste dinge waarvan ek weet. Daardie glans en kleure en lewenskrag kan jy omtrent nie vir iemand beskryf wat dit nog nie self beleef het nie. Vir ‘n oomblik staan die wêreld stil om te kyk.
Ná die tyd stap jy trots met ‘n klompie visse in die sak na die bakkie toe deur die veld wat na wilde kruie ruik, terwyl die kleinwindswaels sirkels om die brug vlieg waar hulle broei en die rooivinke in die riete zik-zik-zik … zeizeizeizeizei.
Ek kan onthou dat daar in die ou museum in die stadsaal op Harrismith ‘n geweldige groot opgestopte geelvis was. (Dié museum het nog tot aan die begin van die sewentigerjare bestaan.)
“Die 37 pond geelvis!” het Ben Rall van die plaas Langrietvlei onmiddellik gesê toe ek een aand daar in hulle groot kliphuis na dié befaamde vis uit die Wilgerivier verwys het.
‘n Geelvis, en bowenal ‘n bielie van ‘n geelvis, vergeet ‘n ware Harrismitter nie maklik nie.