My vriend Frik Steyn van die plaas Venus naby Mont Pelaan in die distrik Harrismith sê nou eendag:
“Jy weet, Dwaalspruit het die regte naam.”
Die vorige jaar se goeie reën het naamlik daartoe gelei dat hierdie spruit, wat rondom Pelaan ontspring en later in die Meulrivier invloei, sy loop op ‘n hele paar plekke verander het.
Op die plaas Groothoek loop die spruit nou skaars nog onderdeur die bruggie in die grootpad – daar waar hy altyd geloop het. Daar het die spruit nou byna heeltemal toegeslik en oral staan die riet hoër en weelderiger as wat ek dit nog ooit gesien het.
‘n Entjie verder af met die spruit se loop lê ook ‘n groot stuk vlei waar selfs in die winter nog baie water was. Vir watervoëls behoort dit hierdie somer ‘n ideale kuierplek te wees. (Ek het my nou die dag by die bruggie aan ‘n hamerkop verkyk.)
Dat Dwaalspruit vol verrassings kan wees, het ek al geweet toe ek nog op Mont Pelaan op skool was. Moes ons dan nie meer as een keer op ‘n Maandag ‘n draai ry om by die skool uit te kom omdat die spruit oor sy walle geloop het nie? En was die spruit dan nie vol geelvis nadat dit goed gereën het nie?
Dwaalspruit is inderdaad ‘n spruit vol kronkels. Op ‘n topografiese kaart kan hierdie kronkels mooi gesien word. Langs die spruit is daar ook nog heelwat ou lope van die spruit te siene. Of osbogte – daardie mooi woord waarmee die geograwe ‘n ou loop van ‘n rivier of spruit benoem.
Ja, my vriend Frik het Dwaalspruit al goed bekyk. Daarom weet hy dat die spruit se naam so gepas is.
En natuurlik het ook daardie digter dit geweet wat lank, lank gelede aan hierdie onrustige, hebbelike spruit sy naam gegee het.