Philip de Vos. op 11 November om 11:11

 

Waarom ek ja gesê het, weet ek tot vandag toe nie, maar in November 1999 het ek nog nie die wysheid van die ouderdom gehad nie en het nie geweet wanneer om nee te sê en dit te bedoel nie.

 

Ewenwel, daar lê dit toe vir my voor: 5 dae op die Otter-wandelpad saam met ‘n klomp gekke wat dink dis plesierig om berge te oorkruis, hulle pad deur ‘n oerwoud oop te kap en dan uiteindelik ‘n rivier deur te steek.

 

 

En van die heel begin af was ek bewus dat die ergste vir my voorlê. In die Seepunt-biblioteek neem ek ‘n video uit oor hierdie staproete en dit moes ek liewer nooit ooit gedoen het nie. Die hele vyf dae is met allerhande groteske tonele uitgebeeld – veral daardie heel laaste dag wanneer die stappers die Bloukransrivier met rugsakke en al moes oorsteek. En toe hierdie video verfilm is, was dit op een van daardie onweersdae toe die rivier in vloed afgekom het, en dit wys in grafiese detail hoe die arme stappers teen die rotse geslinger word voordat hulle soos nat rotte half-lewend op die oorkantste oewer neerstort.

Toe het ek alreeds besef: ek gaan die laaste week van my lewe tegemoet en daar is geen kans vir omdraai nie, want in ‘n oomblik van waansin het ek ja gesê.

Ek was nog maar altyd iemand vir die stilte van my binnekamer, en is nie in die minste sportief aangelê nie en daar pak ek toe al-bewend ‘n ysliike rugsak van 12 kilogram vol klere en kos en ‘n enkele blikkie bier wat ek heel aan die einde van die staptog sou drink.

Die eerste dag was seker een van die heel ergste in my hele lewe. Met ‘n rugsak wat teen dié tyd reeds 50 kilogram swaarder was, was daar van beweeglikheid min sprake en toe kom ek agter ek moes allerhande rotse en waterpoele daarmee oorsteek, voor ‘n karige 5 minute se blaaskans by ‘n waterval.

En na daardie aaklige eerste dag het dit aand geword en ek moes met ‘n klomp vreemdelinge ‘n houthut deel vir ‘n hele nag. Snorkendes en wind-latendes in die nag is ook nie eintlik my idee van plesier nie.

Vier dae van hel het verbygegaan en toe lê die laaste, die ergste voor: om die Bloukransrivier oor te steek.

Vir ‘n hele paar jaar lank al, is daar hierdie vreemde ding wat keer op keer opduik. Elke keer as ek na ‘n digitale horlosie kyk, staan daar 11:11. So erg het dit later geword dat ek ‘n outydse horlosie met wysers aangeskaf het, want daardie 11:11 het nou by my begin spook. Wat op aarde kon dit beteken? My heel laaste uur op aarde miskien? En dit was die aaklige gedagte wat my daardie vierde nag in die hut blootsrug gery het.

Een van die dinge wat die stappendes in ag moes neem by die Bloukransrivier was watter tyd van die dag dit raadsaam was om dit oor te steek. En laagwater daardie dag was presies om 11:11.

Daardie nag kon ek nie slaap nie, en het dit stadig-aan lig geword in die hut met al sy slapendes. En toe dit net lig genoeg geword het om iets te kon uitmaak, sien ek die woord DEATH wat iemand op die stowwerige ruit geskryf het. En toe skielik kom ek agter dit is 11 November. Ja, my laaste dag het aangebreek.

Vroeg-oggend het ons begin stap, want om by die rivier te kom, sou ongeveer 5 uur vat. In my 100 kilogram rugsak het ek ‘n notaboekie en pen gehad waarin ek my laaste gedagtes kon neerskryf, en in plaas van terugdink aan die mooi dinge in die lewe, dink ek aan die teks wat ek moes skryf vir die comic wat ek en Piet Grobler destyds maandeliks in Insig gehad het.

En in hierdie laaste angstige oomblikke van my lewe skryf ek toe my rymende teks oor Nero wat so graag van sy ma wou ontslae raak.

Elke paar tree moes ek stilstaan om net gou ‘n paar reëls neer te krap en toe ek eers begin skryf het, het ek half en half van my lot om 11:11 vergeet:

Nero was ‘n nare bybie –

ongetwyfeld en nie maybe …’

 

en ‘n paar minute later:

Op een sê hy sy sy eerste woord

en daardie eerste woord was MOORD.

 

En toe – ‘n halfuur voor my eindbestemming– die Bloukransrivier met skerp rotse waar ek my einde sou vind, hoor ek skielik ‘n klapgeluid êrens in die see, en daar in die verte sien ek ‘n skool dolfyne …

My laaste woorde vir die comic was neergepen:

Hy speel viool en sê bedees:

Dis vreeslik nice om wees te wees!

 

Wat ‘n wonderlike einde. Dolfyne in die verte en die teks vir my comic wat na-doods in Insig sou verskyn.

Waarom dit so maklik was om die Bloukransrivier om 11:11 oor te steek, weet ek tot vandag toe nie. Om enkeldiep tot by die anderkant uit te stap, was nie eintlik my idee van hoe my einde moes wees nie.

Maar my staptog van hel was verby, en die teks van Nero was veilig in my rugsak. En toe kon ek uiteindelik daardie bier drink wat reeds vir vyf dae vir daardie oomblik lê en wag het.

En hier is dit nou al tien jaar later en ek is nog steeds in die land van die lewendes.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •