Andries Bezuidenhout. Wiegelied op die trein na Sydney

ʼn Gedig wat ek op die trein geskryf het. Vir my jongeste suster Hilda, wat noord van Sydney woon.

WIEGELIED OP ʼn TREIN
(tussen Warnervale en Sydney)

Jou kop teen die venster, slaap nou,
want hier is jy veilig my kind.
Voel hoe die aarde in sy stawe wieg,
hierdie wa sal self ʼn stasie vind.
Woude, mere, seilbote en kyk:
die bome langs die spore dans vir jou.
Wuiwend bring bloekoms repe bas
deur dennenaalde aanmekaargelas –
ʼn kombers om jou warm te hou.
Peperboomblomme wat nektar lawa
en bottlebrush om jou beker te was.

Slaap nou, rus moeë reisiger,
ver van jou wieg; geborge, veilig.
Kyk, daar voor is ʼn tonnel
en aan die ander kant is dit lig.
Slaap nou, slaap voor dit donker is.

Vir Hilda, Sondag, 23 Augustus 2009

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •