
Een van die grootste frustrasies wat ‘n boekhandelaar in die gesig staar, is swak dienslewering deur ‘n verskaffer: versending na verkeerde adresse; versendings wat laat arriveer; boeke wat as beskikbaar aangedui word, maar nie meer is nie; en dan lig hulle ‘n mens nié hieromtrent in nie – jy moet dit maar mettertyd deur middel van osmose vasstel; verkeerde hoeveelhede wat afgelewer word; verkeerde titels wat afgelewer word, ensovoorts, ensovoorts. Die lys is legio.
Dit wil egter voorkom asof Amazon ‘n ideale oplossing gevind het: volgens ‘n e-pos wat aan die media uitgelek is, gaan hulle voortaan ‘n minimum boete van £500 hef indien ‘n verskaffer nie die diens lewer wat aan hul voorgeskrewe stel voorwaardes voldoen nie. Dié voor die hand liggende maatreël het uiteraard nie algemene byval gevind nie, veral nie onder die geledere van kleiner verskaffers nie: “It appears to be a way for Amazon to try and get more money out of publishers at a time when publishers don’t have the margin to give,” het Liz Thomson, redakteur van die internet-forum BookBruch, aan The Independent se verslaggewer gesê. En Amazon.co.uk se reaksie? “We are constantly looking at our business to find ways in which we can lower prices, increase selection and improve the shopping experience for the benefit of all our customers.”
Nou ja, toe. Dis natuurlik een van die voordele wanneer jy ‘n groot rolspeler is; jy hét immers genoeg gewig om rond te gooi en ‘n geskarrel te veroorsaak.
Ai. Ek wonder hoe haalbaar só iets in Suid-Afrika is? Sou dit nie fantasties gewees het indien die verskaffer die boekhandelaar deur middel van goeie diens in staat kon stel om die gehalte diens – ten opsigte van prys én betroubaaheid – aan die kliënt te lewer wat hy (veronderstel) is om op aan te dring nie?
Ek hoop dat die diens wat jý vandag ontvang, alle verwagting oortref. En onthou om vanaand om 20:30 na Leeskring te luister op RSG. Dan gesels Daniel Hugo met Jelleke Wierenga oor haar debuutbundel Bloot mens.
Mooi bly.
LE