Spesiale Nuuswekker – Barend Toerien oorlede

Barend Toerien

Barend Toerien (1921-2009)

Barend Toerien is Vrydagoggend oorlede en meteens is dit asof daar ‘n gat in ‘n mens se kop oopval: so skielik?! En tog – hoe anders? ‘n Mens het immers gewéét dat Barend op 88 jarige ouderdom al ‘n gevordere leeftyd begin bereik; immers het hy sélf die afgelope paar jaar al telkens begin praat van die “gordyntjies” wat hy maar solank een-een begin toetrek. Tog was die kwessie van “dood” nie met die vitale “Bul van Porterville” te rym nie: energiek, kwasterig, uitgesproke … Met soveel uiteenlopende passies: van sy geliefde sport-uitsendings en sepies tot ‘n doelgerigte poging om op hoogte te bly met elke nuwe digbundel wat verskyn of elke berig oor die digkuns in die koerante. Ure sou hy in die boekwinkel kom deurbring en rustig sit en lees; altyd met ‘n oorskouende gesprek van die stapeltjie nuwe bundels agterna.

In sy digkuns was hy inderdaad sy tyd ver vooruit. Sy vernuwing ten opsigte van tema én tegniek is iets wat ‘n mens maar eers die afgelope twee dekades by verskillende digters begin waarneem: die satiriese kyk, die humor; tesame met die effens ongewone gebruik van punktuasie. Maar altyd, altyd uitgesproke met onwrikbare integriteit en eerlikheid. ‘n Eerlikheid wat mense dikwels op die onkantvoet betrap het, want vir sy takt was Barend nou nie juis bekend nie.

So is daar een insident wat my vir die res van my lewe sal bybly. Dit was kort na ons eerste ontmoeting toe ek aangebied het om hom Seepunt toe te neem vir sy onderhoud met Daniel Hugo, pas na die verskyning van die versamelbundel te viering van sy 85ste verjaarsdag, Om te onthou (saamgestel deur Louise Viljoen). Op pad terug het hy my bedank vir my moeite en heel vriendelik het ek geantwoord dat dit ‘n absolute plesier was. Hierop het Barend met sy tipiese kwasterige toon vir my laat verstaan dat ek nie “nice” moet probeer wees nie; natúúrlik is dit moeite. Nou ja. Genoeg om te sê dat ek my bloediglik vererg het vir sy aanmatigende toon en my kar tussen twee strome verkeer links van my deur geflits het om dit in die geelstreepsone tot stilstand te bring. Ek het na hom gedraai en vir hom vertel dat wanneer ek sê dat dit nie moeite was nie, dit beslis nié moeite was nie. Ek wóú immers Kaap toe gaan en dit was vir my lekker om hom saam te neem aangesien ek lankal met hom oor digkuns en diesulke dinge wou gesels. Vir etlike tellings het hy my geskok aangekyk; gaandeweg besef dat ek heeltemal ernstig was. Geglimlag. En toe was ons vriende, want só was Barend: jy praat reguit of jy hou jou bek. Daarna het vele gesellige etes by Surfside in die Strand gevolg.

En nou is hy weg. Een van die ware karakters in ons digkuns. Ons almal is inderdaad soveel armer as gevolg daarvan. (Gaan lees gerus die gepaste huldeblyke wat reeds in Die Burger en Rapport verskyn het.)

Die feit is: Ons gaan hom mis.

Ter ere van Barend, sy lieflike gedig Van swem in die rivier hieronder.

Louis 

 

Van swem in die rivier

 

Die rivier moet agter die berg wees, ‘n bergstroom

met kliprante

en orals is tolbos, kanette, waboom

en suikerbekkies opgewen tot ewigdurende beweging

om silwer-dons suikerkan aan weerskante

die dag-as-die-son-reg-bo-gaan-staan-lang.

 

Maar dis nie genoeg nie. Daar moet heide wees:

Wit, pienk en wit-en-swart;

hoogsomer verg dit en ‘n waterhondjie-settees

op die omgekeerde plafonskildery op die water.

Ook moet daar disas wees, “die rooi hart

druppend langs die soom.” En ‘n mierleeukrater.

 

Dan moet die klipwalle so effe oopmaak

tot ‘n strand

van die helderste wit sand wat jou oë seermaak

met vrede-voëlspoortjies en ‘n suikerkan vir skaduwee

en besembos en slangbos al om die kant.

En iewers is boegoe en ‘n sonbesie.

 

Trek jou dan vinnig uit, voel heling

deur jou voete styg;

en duik nou af deur die helder bruin water – die opwelling

van borrels soos soene op jou lyf – tot jou longe

skree Lug! en jy die oppervlakte breek, hyg,

en neerval op die sand, en in jou are, Lofsange! Lofsange!

 

Uit: Versindaba 2006. Marlise Joubert (samesteller), Protea Boekhuis, 2006

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •