Philip de Vos. op 70

 

‘n Paar maande voor ek in Junie 70 geword het, het ek met hierdie yslike beklemming gesit. Skielik het ek besef dis nou of nooit, want hoe vra Vera Charles vir haar vriendin in die musical Mame: “How old are you Mame? Somewhere between 40 and death?”

‘n Paar jaar gelede het ek hierdie opmerking nogal snaaks gevind, maar nou dat ek die 40 met 70 moes vervang, het dit tyd geword om bietjie dinkwerk te doen.

Alreeds vroeg-Januarie het ek die maande begin aftel, en op 2 Januarie het ek besluit dat dit tyd was dat die Muse weer op my skouer moes kom sit, en met ‘n Castle in my hand, (wyn doen ongelukkig niks vir my kreatiwiteit nie) en met Moessorgski se Pictures an an Exhibition op die CD-speler, begin ek toe versies te skryf vir dié werk.

Vir die laaste paar maande van 2008 het ek gereken dat ek nooit weer versies sou skryf nie, en het ek oor my eie woorde begin wonder:

 

Is die Muse

straks ‘n mite

of by ander

op visite?

 

 

Ek besef toe Windhoek Draught wou beslis nie werk nie maar Castle het gelukkig die ding gedoen en kort daarna was die eerste versie op papier:

 

DIE OU KASTEEL

Sal iemand weer die snare pluk

en sing om middernag?

Sal iemand weer die snare pluk

tot met ‘n nuwe dag?

Die ou kasteel

is afgebreek;

sy stene lê versprei.

Dis onkruid, gras

en disselplant.

Die blomtyd is verby.

Die mure het só trots gestaan.

Waar het die koning heen gegaan?

Wie sal ooit die koning mis?

Die tyd het álles

weggewis.

 

Later in Januarie was al die versies vir Prente by ‘n Uitstalling klaar, en ‘n paar dae voor my verjaarsdag in Junie, net ingeval Alzheimers straks voor die deur lê, skryf ek toe 13 Engelse versies vir Robert Schumann se Kinderszenen.

My verjaarsdag het gekom en gegaan en ek het daarna nie veel anders gevoel nie, behalwe toe ek hoor dat twee van my ouer-wordende vriende al hoe meer kranklik word, en ek besef dat ten spyte van stywe litte die rympie-deel van my brein darem nog werk.

In Julie terwyl ek vir ‘n vale fietstrap in die gym, kry ek ‘n idee om Engelse versies vir Vivaldi se Vier Seisoene te skryf. Al daardie blikkies Castle, die versies op papier en ‘n kleinerige bierpensie het bewys dat die Muse my darem nog nie heeltemal verlaat het nie.

My 70ste jaar was darem nog steeds nie die einde van alles nie, want my uiters talentvolle, oorwerkte, musikale vriendin Tertia Visser-Downie stel toe voor dat sy die klavierparty vir die Moessorgski-musiek instudeer en dat ons die werk uitvoer met haar as pianis en met my as voorleser van my verse.

En hiermee bly ons nou al maandelank besig en sien ons ook terselfdertyd die land en ontmoet ons nuwe mense. Die afgelope naweek het ek en Tertia juis vir drie dae by Darling se Voorkamerfest opgetree en Tertia moes hierdie tegnies-veeleisende werk 12 keer uitvoer.

En elke keer wanneer ek my Engelse weergawe van Die Ou Kasteel lees, word ek keer op keer bewoë oor die laaste woorde van my versie:

 

THE OLD CASTLE

Who plucked the strings

at midnight?

Who sang before the dawn?

The castle walls

have fallen down;

the song

the song has gone.

The owl hoots at midnight.

A starling greets the day.

The castle walls

have fallen down.

The king

has gone away.

 

My 70ste jaar het toe onverwags een van my mees kreatiewe jare geword en ek kan daarvoor dankbaar wees, en ook vir die feit dat ek mense se reaksies op my versies eerstehands kan ervaar – en dit het absoluut niks met egosentries wees te doen nie.

En ja, op 70 huil ek makliker as ooit tevore oor my eie woorde …

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •