Philip de Vos. buite in die reën

 

foto: Philip de Vos
 
 
Partykeer gebeur daar vreemde dinge met my – of miskien moet ek liewer oorslaan na die verlede tyd.

 

Dit het reeds in Cricketstraat, Bloemfontein in die 1940’s begin.

 

 

Om die waarheid te sê, het my pa – wat glo volgens sy ma met die helm gebore is – alreeds destyds geluide in die nag gehoor en party oggende alreeds by ontbyt vir ons vertel hoe hy die vorige nag wakker geword het en gehoor het hoe mev. Smith met haar pantoffels slof-slof die gang af na die kombuis toe sukkel. Die enigste probleem was dat mev. Smith by wie hy in sy jong dae loseer het, alreeds jare lank koud in haar graf gelê het.

En toe, in my hoërskool-jare trek ons na Hillside, so vier myl buite die dorp: ‘n lekker ruim huis wat aan die voet van ‘n koppie geleë was. Maar waarom het ek altyd hierdie snaakse gevoel gekry as ek by die sitkamer verbystap en wat was daardie vreemde geklop teen my kamerdeur daardie aand in Januarie en toe ek dit oopmaak, was daar niemand aan die ander kant nie?

En in Kaapstad, baie jare later in die 80’s, trek ons by ‘n huisie in wat versteek gelê het in ‘n klein stegie in Kampstraat, Tamboerskloof. In die tuin was daar ligkolle teen die mure en die geur van jasmyn en suurlemoenbloeisels, maar binnekant ….

Soms het radio’s sommer vanself aangeskakel of ‘n blaasverwarmer het skielik ‘n lewe van sy eie gekry sonder dat jy eers ‘n knoppie gedruk het.

En wat van daardie aand toe ek foto’s in my donkerkamer in die agterplaas afgedruk het, en die radio wat met flitsbatterye werk wat reeds maande tevore die gees gegee het, skielik vanself aanskakel en die volgende wysie begin speel:

 

Just Molly and me

and baby makes three

in my blue heaven …

 

Wel – in hierdie blue heaven van my het ook ander vreemde dinge gebeur toe ek in die 1980’s agterkom het dat ek kan versies skryf.

My eerste boek O togga! ‘n Gogga was pas in 1984 gepubliseer en toe ek agterkom dat ek kan versies skryf, was daar g’n keer nie en elke maal as ek vroeg-soggens ‘n versie neerpen, het ek onmiddellik vir Annari van der Merwe by Tafelberg Uitgewers gebel om my nuutste meesterstuk aan haar voor te lees.

Een oggend was dit:

 

Buite in die reën,

buite in die nag

is ‘n gruwelike ding

wat lê en wag …

Hy kla

hy steun

hy lag

hy ween

hy wag

in die wind

vir alleenloopkind.

 

Maar daardie oggend het ek nie vir Annari of enige iemand anders gebel nie, want dit was al veels te laat want ek moes reeds om 10:00 by die Nico Malan-operahuis wees vir repetisies.

Toe ek by die kafeteria instap, gaan sit ek langs Kobus Steyn waar hy saam met die ander sangers sit en koffie-drink. En toe hy my sien, was sy eerste woorde: “Lees vir ons die versie wat jy vanoggend geskryf het wat begin met die woorde:

 

Buite in die reën

buite in die nag.”

 

Ja, vreemde dinge het al oor die jare met my gebeur…

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •