Op skool was ek soos enige ander jong Afrikaanse literatuurverslaafde van my ouderdom versót op Breyten Breytenbach en Etienne Leroux. Omdat hulle briljante skrywers was, natuurlik, maar ook omdat hulle as individue uitgestaan het, beide kleurvol en domastrant ánders in ‘n wêreld van eenderskleurige en dikwels eenogige eenselwigheid. Tronkstraf, ‘n Viëtnamese vrou, die Kabbala, swart outfits en lang hare: komaan, you couldn’t beat that!
Maar ek het ‘n ander Afrikaanse literêre held ook gehad, ‘n skrywer wat, meer as enigiemand anders, méér nog as Breytenbach en Leroux, ‘n soort estetiese en stilistiese wurggreep op my eie jeugdige skryfpogings gehad het. ‘n Skrywer wat my literêre ontvanklikheid verdiep het met sy vakmanskap en vlymskerp insig in die menslike kondisie. Dit was Hennie Aucamp, daardie onverpoosde meester van die Afrikaanse kortverhaal.
Ek het Aucamp se kortverhale, uitmuntend in hulle wêreldklas beheersing van die genre en deurtastende, ontroerende en altyd deernisvolle uitbeelding van menslike weerloosheid, een vir een verslind en onmiddellik slaafs probeer nadoen. Maar tog was dit een van die ander genres wat hy bedryf het, tussen die laat 1970s en die vroeë 1990s ongeveer, wat my jeugdige gretigheid vir woorde en die wêreld veral aangevuur het. Dit was sy kabarettekste, Met permissie gesê, Slegs vir almal en ander, waarvoor ek Hennie Aucamp die meeste bewonder het.
Waarom? Moeilik om te sê. Dalk was dit die mengsel van dramatiese onmiddelikheid en doelbewuste verliteratuurdheid wat my aangespreek het; dalk die vervaging van die grense tussen highbrow en lowbrow literatuur, teater en musiek; dalk die camp sensibiliteit. Of miskien was dit die verloopte stedelikheid van die wêreld wat Aucamp se kabarette, ten spyte van hulle Suid-Afrikaansheid, óók opgeroep het; daardie hartland van ‘n modernistiese kultuurbelewing wat nou nog net in die verbeelding bly voortleef, en vir my altyd as eerste assosiasie aan die woord ‘Berlyn’ sal bly kleef.
Hoeveel middae het ek nie saam met ‘n vriend in Brackenfell se Spur gesit (toe kon jy nog bottomless koffie bestel as jy ‘n klein bordjie tjips deel) en sketse maak vir wat ons eie kabaret sou wees nie. Liedtekste, monoloë, klein grepe teater, ‘n hele warhoofdige warboel van literêre en musikale vergrype: ons het dit ywerig en ambisieus voortgebring. Die werkstitel van ons kabaret was Brackenfell Hotel, en dit het ‘n sentrale karakter gehad. Sy was ‘n vrou van bedenklike sedes en onberispelike kultuur, ‘n deurleefde, wêreldswyse reisiger, ‘n woordgoëlaar en ‘n danseres, ‘n besielende liggaamsgenoot, dweepsiek oor die erotiek en, ja, ‘n kenner van die Kama Sutra sowel as Die Bybel – en ons het haar Miss Jesus genoem…
Al wat eintlik van hierdie kabaret-in-wording oorgebly het, is die liedteks wat hier volg (dit het jare terug ‘n poësiekompetisie van die Stellenbosse ASK roemloos gaan staan en verloor…):
Miss Jesus
(vir Hennie Aucamp)
Miss Jesus is die messias
die redder in die salon
wat sy noem ‘Die Dias’
oor sy van ver plekke kom
van Amsterdam aan wal
of op ‘n skip van Lissabon
Miss Jesus, wanneer die donker val
vanaand in die salon
soms sing sy kabaret
soos ‘n madame uit Berlyn
in haar visnetkouse en rooi korset
maak sy water van ons wyn
ja en soms dra sy gedigte voor
van Breyten en ene Breton
jou glas bly vol, jou hart loop oor
vanaand in die salon
en altyd preek sy redding
liefde, reise, die middernagson
Miss Jesus lei ons kring
vanaand in die salon
so glase omhoog: ‘Miss Jesus!’
en dan die koue ent na die peron
alles was tog so goddêm obvious
eenmaal in die salon