Ek en my geliefde en sy dogter Mia het onlangs vir twee weke weggeloop en in die kleindorpse katedraal van Trompsburg gaan skuil. Gaan skryf en wyndrink en kuier in die plaaslike hotel – die Midway, bekend aan vele Gautengse kunstenaars wat jaarliks afkoers KKNK toe. Daar het ons saam met die eienaars Joan en Alberto rugby gekyk en goedige bakleierye oor ons onderskeie provinsies uitgeryg. Hulle skree onderskeidelik vir die Cheetahs en die WP; ons skree onderskeidelik vir die Bulls en die Haaie. Nie dat die eintlik saak gemaak het nadat die Bokke sulke groot ore vir die All Blacks aangesit het nie…
Ons was knus weggesteek in vriende Andries en Irma se lieflike huis. Trompsburg is ‘n plek vol ruimte en windpompe, en sawens kan jy in die stilte die getjiertjierie van die pompe hoor, nou en dan onderbreek deur ’n uil se eensame, vraende whoo-hoo. Bo teen die bult in Molenstraat, reg langs die dorp se tennisbaan, waarheen die dorp se kinders middag na middag stroom om hul balvaardighede te kom slyp. (Trompsburg is bekend om sy tennis, en hul spanne wen jaar na jaar die streeksliga.)
Vrolike, laggende kinderstemme so laatmiddag bring ‘n groot gevoel van hoop. Iewers is daar nog gelukkige kinders. En so beteken dit dat alles nie grou en verlore is nie, al het ’n vorige palm psalm so geskimp… (Skies, ek weet hy was reeds op die blog, maar nou maak dit veral sin.)
hond blaf, ons bluf/iewers klink die diep gesang/van die maan se swanger gang/en o, my lief, in ’n kleindorpse katedraal/is ons albei immense/en is ons albei verdwaal
Die grootste vreugde het egter van skuins oorkant ons gekom. Oom Klasie se vrou se beskuit. Ek ken nie haar naam nie, dink dis tannie Elsie. Sy maak anysbeskuit soos dit sekerlik in Bybelse tye ontwerp is. Mens wil gedigte skryf oor daardie beskuit. Ek het probeer, maar die woorde wou nog nie verby die anys stu nie. Dit is van daardie beskuit wat jy so in die koffie doop en dan vinnig moet hap voordat dit uitmekaar slons. En dan moet jy boonop nog ekstra koffie skink, want jou koppie is half leeg geslurp deur daardie beskuit.
Kos kan soos woorde wees, het ons weer ontdek. Dit maak iets meer as net die maag vol. Jou hart raak ook betrokke. Ons het sakke vol teruggebring. Elke oggend as ons so die sakkie-koffie brou en in haar beskuit inhap, onthou ons weer die kinderstemme. Onthou ons die windpompe en die uile…
Beskuit is soos woorde. Miskien lê die gedig in daardie eenvoudige sin. Mens moet hom net gaan ontgin.
Jy sal my seker onthou as een van die Smit-tweeling, Sak en Jop. Ek woon op Parys en sal graag meer van jou wil hoor.
Goete.
Ek het trompsburg opgeroep en sien toe dat Stoffel Bekker iets geskryf het.
Eintlik is ek op soek na Yvonne en Tom van den Heever, ek weet nie wat Yvonne se van nou is nie en ek wil vreeslik graag weer met hulle kontak maak.
Is daar miskien iemand wie weet waar ek hulle kan kontak. Dalene Deysel
Ronel Nel se terugdink aan haar kuiertjie op Trompsburg laat my sommer terugverlang na die dorp en sy rustige omgewing. Ek is daar gebore, ons het op die plaas gebly en ek is weg in 1963 na matriek. Verlede maand het ons seuns van die 1963 matriekklas op die dorp bymekaar gekom en oor al die goeie ou dinge gesels. Dit was nou ‘n behoorlike : Onthou jy nog- byeenkoms. Ons ou skool is nou ‘n Engelse Hoerskool en die koshuis, waar ek 12 jaar gebly het is gedeeltelik omgeskep in ‘n Laerskool. Dis te pragtig daar en die skool bedien ook talle omliggende dorpe. Sal die oudleerlinge tog nie van hulle laat hoor nie. Trompie-groete. Stoffel Bekker.