In Mosambiek en al die ander Lusofone lande is die see belangrik. Eenkeer het ek ‘n plakkaatuitstalling bygewoon oor Portugees en die lande waar dit ‘n amptelike taal is. Op die onderskeie plakkate was aanhalings oor die see uit gedigte van figure soos Fernando Pessoa (die grootste digter wat Portugal gedurende die twintigste eeu opgelewer het), Augustinho Neto (die voormalige president van Angola) en José Craveirinha (die enigste digter wat in herkenbare Mosambiekse Portugees skryf) op seetonele afgedruk. Ek was ontroer. In Portugees word die see soos in min ander tale besing.
Uit: Lae wolke oor Mosambiek: ‘n Reisboek (2003)