
Soos almal weet, is September Erfenismaand. Daarom is dit heel gepas dat die Roots Kultuurfees vandag en môre op die kampus van die Universiteit Wes-Kaapland aangebied word en as sulks is dit inderdaad “‘n geleentheid om ons eie kultuur-oorsprong en ontwikkeling te verken en te vier”, soos die Roots-webblad dit stel. Die tema vir die fees is “Spreek, Theta, Talk: ‘n Suid-Afrikaans-Nederlandse dialoog oor die dinamika van taal, kultuur en erfenis.” Op hierdie twee dae word Afrikaans dan ook uit elke moontlike hoek bekyk en gevier – die historiese en wêreldwye verbintenisse, die ontwikkeling en uitdagings van die afgelope jare en die opwindende pad vorentoe. Die organiseerders se missieverklaring stel dit soos volg: “Roots wil nuwe roetes na ‘n nuwe wêreld vestig. Dis ‘n geleentheid waar Suidelike Afrika en Nederlands-sprekende wêreldstreke saamgesels oor Afrikaans en hoe om die gedeelde oorsprong nog verder te ontwikkel. Dis ook die ideale geleentheid om Afrikaans se roots te vier met een groot makietie!”
Die volledige program is hier te vinde. Lees gerus ook die toepaslike gedeeltes op LitNet.
Dan is dit vir ons aangenaam om sommer nou al vir Antjie Krog geluk te wens met haar verjaarsdag môre. Antjie, wat ook een van die organiseerders van bogenoemde fees is, was natuurlik al by verskeie soortgelyke projekte betrokke. (Gaan lees gerus die onderhoud wat enkele maande gelede met haar gevoer is … En sommer ook weer Louise Viljoen se lesing oor haar literêre voormoeders.) Daarom – veels geluk, Antjie; mag hierdie inisiatief van jou (en ander) sommer nog breë spore loop deur ons jaarlikse kultuurkalender!
***
Ten slotte wil ek jul aandag vestig op ‘n uiters lewendige debat wat tans op De Contrabas gevoer word oor literêre tydskrifte en die rol wat hulle te speel het. Wat hierdie debat so besonders maak – afgesien daarvan dat daar reeds 55 kommentare gelewer is – is die feit dat al die rolspelers betrokke is: van hoofredakteurs tot skrywers, van literêre agente tot uitgewers. Ook Ester Naomi Perquin (wat selwers op die redaksie van Tirade dien) sluit hierby aan wanneer sy soos volg op ‘n vraag van Andries Visagie antwoord: “In Nederland, dink ek, is dit net so moeilik om by ’n gevestigde uitgewery te debuteer as in Suid-Afrika. Die leserspubliek vir poësie is beperk en die uitgewer neem ’n risiko. Tog verskyn daar eintlik ongelooflik baie, gemeet aan die grootte van ons taalgebied. En publikasie in literêre tydskrifte, op die internet of voordragte by digterlike bekgevegte (poetry-slams) en feeste bied ook almal moontlikhede.”
Ag, watter plesierige affêre is die gedoente genaamd “letterkunde” nie, nè?!
Vir jul leesplesier volg die liriek van Amanda Strydom se bekende Hoor hoe brom die wind hieronder. Lekker lees aan alles wat nuut is op die webblad (verál Andries, Bernard, Ronél en Yves se nuwe blogs!) en laat ons alte lekke rock in’ie taal vandag. Is mos hoeka onse roots daai, of hoe?!
Mooi bly.
LE
Hoor Hoe Brom Die Wind
Hoor hoe brom die wind om ons huis vanaand
Hoor hoe brom die wind om ons huis
Daar’s varkies in die bone
Ons slaap trippe trappe trone
Hoor hoe brom die wind om ons huisHoor hoe blaas die wolf by die hek vanaand
Hoor hoe blaas die wolf by die hek
Jakkals nooi vir gansie – kom eet vanaand by my
Hoor hoe blaas die wolf by die hekEk kan rock in my taal
Ek maak amok in my taal
En ek kan skok in my taal
Ek kan rock in my taalHoor hoe brul die leeu langs die bed vanaand
Hoor hoe brul die leeu langs die bed
Skilpad wen vir hasie – geen treine by die stasie
Hoor hoe brul die leeu langs die bedVoel hoe beef die grond waar ons huisie staan
Voel hoe beef die grond waar ons staan
Daar’s ‘n apie op ‘n stokkie voor my ma se agterdeur
Voel hoe beef die grond waar ons staanEn ek kan rock in my taal
Ek maak amok in my taal
Ek kan skok in my taal
Ek kan rock in my taal
My asem gly deur my taal
Ek word verlei deur my taal
En ek kan vry in my taal
Ek kan rock in my taal
Ek maak lawaai in my taal
Ek word so kwaai in my taal
Ek kan jou braai in my taal
En ek kan rock in my taal
(c) Amanda Strydom (Amanda Strydom, Didi Kriel)