Die woord “ikonies” het nou al meer as een maal opgeklink en daarom is dit nodig dat ek iets meer daaroor sê. Soos verduidelik, is ikone een van die drie basiese tekensoorte wat deur die Amerikaanse filosoof en logikus Charles Peirce op grond van die verhouding tussen tekens en objekte onderskei is.
Is dit ’n relasie van afspraak/konvensie, noem ons sulke tekens simbole. Verreweg die meeste van die woorde wat ons gebruik, is abstrakte tekens en funksioneer simbolies. Ander voorbeelde is abstrakte verkeerstekens, soos ’n rooi dwarsstreep binne ’n rooi kring en teen ’n blou agtergrond, wat “geen toegang” sinjaleer. Baie van die literêre kodes wat ons inspan om betekenis te genereer, is simbolies van aard, byvoorbeeld die belang van die wending in ’n sonnet.
Is daar ’n relasie van aanwysing of aangrensendheid, het ons met indekse te doen. Deiktiese woorde, soos voornaamwoorde en bywoorde van plek en tyd binne die konteks van ’n verhaal of drama (byvoorbeeld “hy”, “hulle”, “hierdie”, “destyds”, “daar”, ensovoorts), be-teken indeksikaal. Word daar in ’n gedig na verskynsels soos die toenemende kaalheid van takke, verkleurende blare en toenemende kilheid in die lug verwys, hoef woorde soos “herfs” of “najaar” nie eens te val om te weet dat dit daarom gaan nie.
Ikonisiteit bestaan wanneer die relasie tussen teken en objek een van gelykenis of ooreenkomstigheid is. Sekere grafiese verkeerstekens, byvoorbeeld die motortjie waarvan die kronkelende bandspore kruis om die potensiële gladheid van die pad aan te dui, be-teken ikonies. Foto’s en skilderye is dikwels ikonies van die fenomene wat daarop te herken is. Klanknabootsings, die konkrete gebruik van tipografie, ritmies evokatiewe benutting van heffings en dalings is tekens wat in gedigte dikwels opvallend ikoniserend werk.
Soos gesê, is daar veral in die poësie ’n “ikoniseringsdrif” te bespeur. In die drama/teater is indeksikaliteit weer deurslaggewend.
Die tekensoortonderskeidinge is nie absoluut nie en tekens kan, afhangende van die gebruikskonteks, in enige van die genoemde relasies funksioneer, dikwels in meer as een tegelyk. Woorde, talige elemente in die algemeen, is in beginsel eintlik almal simbole wat op grond van konvensie of gedeelde interpretasiereëls verwys. Sommige woorde besit egter iets meer ikonies of indeksikaals as andere, byvoorbeeld klanknabootsende en deiktiese woorde (Van Zoest, 1978:105), soos aangetoon. Ook kan simbole op bepaalde wyses in tekste gerangskik word sodat hulle ikonies begin funksioneer (byvoorbeeld ‘n woordorderangskikking wat ‘n ooreenkoms toon met die volgorde van die gebeure waarna verwys word) of indeksikaal optree (byvoorbeeld woorde wat na herfs of najaar verwys in die denkbeeldige voorbeeld hierbo; of “liggloed”, “geknetter”, “rook”, ensovoorts, wat na “vuur” heenwys).
Volgens Van Zoest (1978:105-106) kan ikone, indekse en simbole verskillende werksaamhede hê in betekenisprosesse en kan ‘n mens aanneem dat die een tipe in bepaalde omstandighede en vir ‘n bepaalde doel doelmatiger sal wees as die ander. Simbole is volgens hom besonder geskik vir redenering en abstrakte denke. Indekse is weer by uitstek tekens met “een indringende existentiële kracht”, sodat ‘n gebaar soms sprekender sal wees as uitgesproke woorde (simbole). Ikone, as die mees fundamentele tekentipe na die beskouing van Pierce, het “een soort directe overtuigingskracht, een onmiddellijke, ‘verleidende’ werking”. Dit word daarom dikwels in propaganda en reklame benut, maar het as ‘hidden persuaders’ veral ook ‘n literêre gebruiksfunksie.
Teoretici beklemtoon dat ikoniese tekens (as “form miming meaning”, of as “the motivated sign”, soos twee van die boeke uit die reeks Iconicity in Language and Literature dit wil hê) “omnipresent in language and verbal communication” is (Nöth, 2001:18; vergelyk ook Fónagy, 1999:4). Tog word dit gereeld uitgesonder (byvoorbeeld deur Van Zoest, 1978:104–105) as ’n besondere eienskap van die literêre, veral die poëtiese werk. Of soos Bronzwaer (1990:97), in aansluiting by Lotman (1977), dit stel: “Poëtisch taalgebruik, actief of passief, is dat taalgebruik waarin wij streven naar maximale iconiciteit van de boodschap[.]” Dit behels taalgebruik “waarmee wij aan de opzegbaarheid van de tekens proberen te ontsnappen” (Bronzwaer, 1993:31), naamlik deur die toevoeging van ’n “Distorter or Modifier, i.e. a system of complementary iconic encoding” (Fónagy, 1999:25).
Die ‘triade van ikoonsubklasse’ (Nöth, 2001:21) wat Peirce voorts onderskei het, is welbekend, hoewel die grense tussen hulle maar bra ‘wollerig’ is, en aspekte van al drie soorte gewoonlik tesame voorkom (Tabakowska, 1999:372; Johansen, 2003:380). Kortliks kom dit daarop neer dat beeldikone – deur Peirce images genoem, maar deur Wybenga & Cloete (1992:179-180), in navolging van Van Zoest (1978:109-111), as topologiese ikone beskryf – meestal in terme van ruimtelikheid, piktorale kontoer of tipografie beskryf word. Beeldikone, die eerste ikoonsubklas dus, appelleer egter nie uitsluitlik aan die gesigsintuig nie (Johansen, 2003:380); klanknabootsende woorde, met die onmiddellik waarneembare similariteit wat dit met die objek van verwysing vertoon, is ook deur Peirce as images bestempel.
Die tweede subklas, diagrammatiese ikone (diagrams in Peirce se terminologie), word in terme van analoë strukture of relasies gedefinieer (Nöth, 2001:21). Hier kan ’n mens byvoorbeeld dink aan die klimaktiserende plasing van ’n kernbegrip aan die einde van ’n versreël of sin, of, soos voorheen genoem, aan die representasie van gebeure in ’n verhaalintrige in dieselfde (chronologiese) volgorde as die gebeure in die werklikheid waarna gerefereer word (die ordo naturalis van die gebeure – vergelyk Nöth, 2001:21). In vergelyking met die sintuiglike basis van beeldikone is diagrammatiese ikone dus besonder abstrak van aard; dit is tipies verintellektualiseerde en veralgemeende objekvoorstellings (Johansen, 2003:381).
Peirce se metaphors, of metaforiese ikone (die derde subklas), refereer (via die interpretante, of ‘idees’, in die menslike gees waardeur die verwysingsfunksies tot stand kom) tipies na meer as een objek op grond van ’n bepaalde ooreenkoms tussen hulle (dit wil sê tussen hulle interpretante). Dit is dus bemiddelde ikonisiteit: “The ideas conveyed by the sign and the idea of its object are mediated by a third idea, the tertium comparationis between the tenor and the vehicle of the metaphor.” (Nöth, 2001:21)
Of soos Johansen (2003:383) dié relasiekompleks beskryf: “A metaphor, according to Peirce, is a relation between two signs in which the representative character of the former is expressed through, and by virtue of, the latter.”
Metaforiese ikone is eweneens kenmerkend verintellektualiseerd en abstrak, en manifesteer op die literêre terrein byvoorbeeld op makrostrukturele vlak in tekste wat allegories of parabolies van aard is (Van Zoest, 1978:110; Johansen, 2003:385). Van Zoest (1978:11) noem die voorbeeld van die siklisiteit in die struktuur van Gerard Reve se roman De avonden, wat ikonies word van die verstikkende geroetineerdheid van die hoofkarakter, Frits van Egters, se daaglikse bestaan. ’n Ritmiese effek, byvoorbeeld die opeenhoping van heffinge om met ’n beskrewe verlangsaming in beweging in ’n poësieteks saam te val, kan as ’n voorbeeld van metaforiese ikonisiteit op mikrostrukturele teksvlak genoem word.
Bronzwaer (1990:99) meen dat ikone as gevolg van lesers se ‘ikoniseringsdrif’ physei (= teken het natuurlike gelykenis met betekende) geïnterpreteer word, sodat ‘n mens kan sê dat hulle dus as merkers van estetiese persuasie – of as merkers van bedoelde perlokusie – gesien moet word. ‘n Verdere opmerking van hom (1990:99) in hierdie verband is egter van groot belang: “De meeste, en de meest betekenisvolle, iconen zijn dus die welke wij niet zozeer in de tekste aantreffen als wel aanbrengen, ontdekken of blootleggen; iconen zijn intentionele interpretatiedoelen.” (Sy kursivering.)
Dié uitlating onderstreep enersyds die retoriese waarde of perlokusionêre krag van ikone as “hidden persuaders”, as effekte of strategieë in die teks wat ‘verlei’, wat die konkretisasie van die estetiese objek (d.w.s. die interpretasie) stuur. Van Zoest (1978:113-114) wys dan ook daarop dat die begrip ikonisiteit heuristiese waarde het vir die interpretasie van ‘n teks.
Andersyds beklemtoon Bronzwaer se opmerking egter die feit dat die ikoniese betekening, soos enige vorm van betekening, eintlik kode-gebaseerd is. Eco (1977) het duidelik uitgewys dat ikonisiteit op sowel waarneming as konvensie berus. Die gelyksoortigheid tussen ikoon en objek bestaan wel, maar dit word bepaal deur kulturele konvensie. Volgens Eco (1977:200) word ‘n bepaalde beeld van ‘n ekspressie eintlik getransformeer om ooreen te stem met ‘n inhoud, ‘n getransformeerde ooreenstemming wat soos volg te kwalifiseer is: “A transformation does not suggest the idea of natural correspondence; it is rather the consequence of rules and artifice.” By die dekodering van ‘n literêre teks speel sodanige “rules and artifice” dan ‘n deurslaggewende rol. Die poësieleser ken byvoorbeeld ikoniese betekenisse aan tekselemente toe op grond van die aan hom bekende poëtiese konvensies en reëls.
Taal is in die eerste plek ‘n thesei-verskynsel, maar deur kodifisering kan dit in bepaalde gevalle ‘n physei-karakter aanneem. Die retor-digter benut of speel in op sodanige kodes (die gekondisioneerde leser se ikoniseringsdrif, want die ikonisiteit van ‘n estetiese teks funksioneer self as ‘n kode – vergelyk Van der Merwe & Snyman, 1990:102) om deur die physei-verskynsel sy boodskap demonstratief te “valoriseer”.
Dit het nou tyd geword om die teorie prakties te demonstreer aan die hand van spesifieke gedigontledings. Volgende bydraes sal hieraan gewy word.
Bronnelys
Bronzwaer, W. 1990. Poëzie en iconiciteit. Forum der Letteren 31(2), juni:93-103.
Bronzwaer, W. 1993. Lessen in lyriek. Nieuwe Nederlandse poëtica. Nijmegen: SUN.
Cloete, T.T. (red.) 1992. Literêre terme en teorieë. Kaapstad: HAUM-literêr.
Eco, U. 1977. A Theory of Semiotics. Macmillan: Londen.
Fischer, O. & Nänny, M. 2001. The Motivated Sign. Iconicity in Language and Literature 2. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins Publishing Company.
Fónagy, I. 1999. Why iconicity? In: Nänny, M. & Fischer, O. 1999:3-36.
Grivel, C. (red.) 1978. Methoden in de literatuurwetenschap. Dick Coutinho: Muiderberg.
Johansen, J.D. 2003. Iconizing literature. In: Müller, W.G. & Fischer, O. 2003:379–410.
Lotman, J. 1977. The Structure of the Artistic Text. (Vertaal deur Ronald Vroom.) Ann Arbor, V.S.A.: University of Michigan Press.
Müller, W.G. & Fischer, O. 2003. From Sign to Signing. Iconicity in Language and Literature 3. Amsterdam/Philadelphia: John Benjamins Publishing Company.
Nanny, M. & Fischer, O. 1999. Form miming meaning. Iconicity in Language and Literature. Amsterdan/Philadelphia: John Benjamins Publishing Company.
Nöth, W. 2001. Semiotic foundations of iconicity in language and literature. In: Fischer, O. & Nänny, M. 2001:17-28.
Odendaal, B.J. 1997. Retoriese strategieë in die poësie van T.T. Cloete. Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.
Tabakowska, E. 1999. Iconicity and literary translation. In: Nänny, M. & Fischer, O. 1999:361-376.
Van der Merwe, C & Snyman, N.J. 1990. Semiotiese fokus op die gedig as estetiese teken-objek. Literator, 11(2), Augustus. (p. 95-108)
Van Zoest, A.J.A. 1978. Peirciaanse semiotiek. In: Grivel, C. (red.) 1978.
Wybenga, G. & Cloete, T.T. 1992. Ikoon en ikonisiteit. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:178-182.