Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
29 September 200915 February 2011

Bernard Odendaal.Woorde, soek geraak

Wat hieronder volg, was oorspronklik bedoel as kommentaar op sommige van die blogbydraes deur Yves T’Sjoen op hierdie webblad. Maar dit het toe onvoorsiens iets geword wat nie meer slegs hóm raak nie.

******

Beste Yves, baie dankie vir jou prikkelende blogbydraes op Versindaba.

Jou skrywe oor “Hugo Claus & de vertaler” het ek gelees nadat ek ’n resensie oor Breyten Breytenbach se oorblyfsel / voice over geskryf en op hierdie selfde webblad gepubliseer het. Die relevansie van wat jy oor Claus se ‘hertalings’ van anderstalige poësie in Nederlands gesê het vir ’n beskouing van die ‘transformerende variasies’ van Magmoed Darwiesj se werk in Breytenbach se bundel, val ’n mens dadelik op.

Breytenbach se oorblyfsel / voice over verteenwoordig wesenlik ’n uitbouing van sy eie oeuvre, ’n andersoortige aanpak van reeds bekende temas in sy werk – eerder as wat dit ’n bemiddeling van Darwiesj se werk vir Afrikaanse lesers beoog, of dat dit om ’n strategiese versterking van Breytenbach se posisie in die (Suid-)Afrikaanse, of selfs internasionale, literêre konteks gaan. So oordeel ek, in elk geval.

Tog dra die literêre invoer via die Darwiesj-omsettings ook ’n relatiewe nuwigheid die Afrikaanse (spesifiek die Afrikaner se) kultuurtradisie binne.  Die simpatie wat Breytenbach naamlik via die Darwiesj-hertalings vir die hedendaagse Palestynse situasie wek, kontrasteer met die Afrikaner se tradisionele identifikasie met die oudtestamentiese Israeliete en ook met moderne Israel.

Was daar enige kulturele of ideologiese oorwegings wat, na jou wete, meegespeel het in Claus se keuse van gedigte vir sy ‘hertalings’?

’n Volgende vraag: As sulke ‘hertalings’ as eintlik behorende tot die ‘oorspronklike’ oeuvre van ’n digter beskou kan word, kan dit sonder meer tot die kanon van die bepaalde literêre sisteem ‘vorder’? Hoort sulke werk byvoorbeeld in poësiebloemlesings van daardie letterkunde?

Voorts: Is daar voorbeelde van antologieë wat breë oorsigte oor die Nederlandstalige digkuns bied, wat wel vertaalwerk in Nederlands insluit? Ek het die dertiende druk van Deleu se Groot verzenboek in my besit, maar dit lyk nie vir my of daar vertalings in voorkom nie. Bevat die “dikke Komrij” en ander Nederlandstalige bloemlesings enige vertaalde gedigte?

In die Afrikaanse Groot verseboek (die belangrikste poësiebloemlesing in ons taalgebied) is onder die oorspronklike samestellerskap van D.J. Opperman geen vertaalwerk opgeneem nie. Sedert Groot verseboek 2000, toe Opperman se mantel op André P. Brink se skouers geval het, het die situasie egter verander. Ek, en ook ander resensente, het elders reeds hieroor geskryf, maar ek skets kortliks die toedrag van sake vir jou.

Brink het in 2000 naamlik die insluiting van gedigvertalings deur Uys Krige gemotiveer as ’n wyse om reg te laat geskied aan Krige se beeld as invloedryke stimuleerder van nuwe ontwikkelings in die Afrikaanse poësie sedert die 1950s.

In die 2008-weergawe van Groot verseboek sluit Brink ook vertalings deur ander digters uit die onlangse 4 tot vyf jaar in: H.J. Pieterse (sy bekroonde Duino-elegieë van Rainer Maria Rilke), H.P. van Coller (3 gedigte van die Vlaamse digter Luuk Gruwez, naamlik as enigste bydrae deur Van Coller), Cas Vos (sogenaamde Uruk-fragmente, gebaseer op die Mesopotamiese Gilgamesj-epos), M.M. Walters (enkele vertaling uit Aki no kure / Herfsskemering – ’n Bloemlesing Japannese gedigte) en Antjie Krog (Afrikaanse omdigtings van Boesmanvertellings en –liedere;  uit: die sterre sê ‘tsau’).

Sulke insluitings gee erkenning aan die feit dat (gepubliseerde) poësievertalings ’n nogal opmerklike verskynsel in die Afrikaanse poësie aan ’t word is. Maar daar is ook gewonder waarom Brink belangrike ander werk in hierdie verband links laat lê het: Krog se omdigtings van liriek uit die verkeidenheid inheemse Suid-Afrikaanse tale (Met woorde soos met kerse, 2002), Walters se vertalings uit die Sjinese poësieskat (Shih-Ching. Liedereboek, 2003), Daniel Hugo se vertaalde keure uit Gerrit Komrij en Herman de Coninck se Nederlandstalige oeuvres (onderskeidelik Die elektries gelaaide hand, 2005, en Liefde, miskien, 1996), Barend J. Toerien se vertaalde keur uit Christian Morgenstern se Galgenlieder (Houtjies van die galg, 1997) en, van ietwat verder terug, Rosa Nepgen se Eugenio Montale-vertalings (Die geel van suurlemoene skyn, 1979), selfs Karel Schoeman se vertaalde Middeleeuse gedigte (Uit die Iers, 1970) – om net voorbeelde te noem wat op mý boekrak staan.

Dat die belangstelling in die rol van vertaalde werk en in die resepsie van anderstalige literatuur(debatte) binne die Nederlandstalige literêre sisteem groeiend is, soos jy in jou bydrae oor “Hugo Claus & de vertaler” aantoon, is dus besonder relevant vir die situasie in Afrikaans.

In die Afrikaanse letterkunde, soos jy waarskynlik goed weet, het ons naamlik die toedrag van sake dat Nederlandse literatuur naas of saam met Afrikaanse werk ondersoek en onderrig word. In die verlede is byvoorbeeld ‘n hele aantal Nederlandstalige poësiebloemlesings in Suid-Afrika saamgestel, uitgegee en voorgeskryf. (Ook talle Laaglandse prosa- en dramawerke, begelei van Afrikaanse aantekeninge, is hier heruitgegee en bestudeer.) Daar is, meer as dertig jaar gelede, selfs ’n geskiedenis van die Nederlandstalige letterkunde in Afrikaans geskryf. (Aanduidings is dat ’n opdatering in die afsienbare toekoms kan volg.)

Die  literêr-kritiese en kreatiewe neerslag van hierdie blootstelling (’n opvallende voorbeeld van sistemiese import) is oral in die Afrikaanse literêre produksie te sien. Trouens, ’n mens sou selfs ’n aardige Afrikaanse poësiebloemlesing kon saamstel wat net gedigte bevat wat, op verskillende vlakke en wyses, na Laaglandse impulse heenwys.

Deesdae is die import uit veral die Engelstalige wêreld na Afrikaans waarskynlik groter as uit die Nederlandstalige.

******

Net nadat ek vroeg vanoggend bostaande kommentaar aan jou neergeskryf het, kry ek op die voorblad van ons streekskoerant ’n berig te lese oor net een van die talle gruweldade wat elke dag in ons land gepleeg word.

’n Jong vrou van Thabong, ’n ‘swart’ woonbuurt net buite die stad Welkom in die hartjie van die Vrystaatprovinsie, loop een winterse Sondagoggend twee jaar gelede deur die veld werk toe. (“Thabong” is ’n Sotho-woord wat “Daar is blydskap” beteken.)

Twee mans met messe keer haar voor. Sy moet uittrek. Om die beurt verkrag hul haar. Nog verbylopende mans kom by. Nie om te keer nie, maar mee te doen. Naderhand is hulle tien. Hulle stoei eintlik onder mekaar om ’n beurt te kry. Vaginaal óf anaal, maak nie saak nie. Partykeer is daar selfs twee tegelýk. Hulle vloek haar aanhoudend. Snou haar vernederende aanmerkings toe wat soos houe op haar neerreën.

Ná die tyd sleep die twee met die messe haar saam na elders, waar hulle die verkragting voortsit…

Die verrinneweerde vrou kry sedertdien ongeskiktheidspensioen, want sy kan nie meer werk nie. Kruip chronies beangs in haar huis weg. Sy’t ’n “lewensgevaarlike virus” in die aanranding opgedoen. (Kodewoord vir MIV-positiwiteit, wat nie openlik van iemand in ons land gesê mag word nie.)

En hier sit ek en skryf aan jou oor digterlike taal – “hertaling”, “vertaling” en wat nog!

In die Groot Tesourus van Afrikaans slaan ek plek-plek na, op soek na die juiste woorde vir my gemoedstoestand ná die lees van die berig. Weersin, ontsetting, teensin, afkerigheid, verskriktheid, wrewel, verfoeiing, afsku, afgryse, toorn…

Maar niks wil dit vir my benoem nie; nie eens woorde wat nog met ’n Bybelse gesaghebbendheid klink nie.

En vir die verwoeste vrou? Is daar woorde in jóú taal, Yves, sag en salwend, uitverkore genoeg?

Bernard 

 

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Bernard Odendaal. Oor digkunsvertaling

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: "Kinderlê" deur Lynthia Julius
  • Resensie: "Miniatuur". (Johann de Lange)
  • Boekbespreking: “Taboek” (Riku Lätti)
  • Resensie: “Stil gesprek” (Jan Pretorius)

Nuutste bydraes

  • AVBOB Persverklaring
  • Joan Hambidge. Die dood as solesisme
  • Onderhoud met Marthé McLoud oor “Ontbloot”
  • 100 Duitse Bestes: Rainer Maria Rilke (1875-1926) (II)
  • Joan Hambidge. Oosterse digkuns  Deel I

Nuutste kommentaar

  1. Ilse on 100 Duitse Bestes: Rainer Maria Rilke (1875-1926) (I)9 June 2025

    Dankie vir die lieflike vertalings!

  2. Heleen Louw on Jacobus Swart. Franz Kafka4 June 2025

    Treffend uitgebeeld. Jou vermoe om die essensie van 'n lewe' te omskryf is iets besonders vir my. En dan jou…

  3. Caren Kearley on Resensie: “Dawerende stiltes” (Caren Kearley)4 June 2025

    Dankie Maria, jy is welkom om my te kontak as jy een wil bestel. carenkearley@gmail.com. Ek is Ninni ewig dankbaar…

  4. Joan Hambidge on Ilse van Staden. Deursigtige oggend3 June 2025

    Beeldskoon hoe hierdie gedig vloei.

  5. Charl-Pierre Naude on Charl-Pierre Naudé. Mymering28 May 2025

    Hierdie is 'n interessante kommentaar deur jou, Hans. Dankie. Ek kou nog daaraan ... Ek moet nog jou opstel waarna…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d