Poësie as blaasbalk of vergrootglas?

Poësie as vergrootglas

“Ek sal nie wil veralgemeen nie, maar ek sien of hoor nie dat skrywers ‘n belangrike bydrae lewer tot openbare kwessies nie. Miskien omdat daar onder hulle nie enige konsensus is oor belangrike beginsels, of dalk sommer net omdat die owerhede voel daar’s geen rede vir hulle om in gesprek te tree met vrydenkers of mense van die burgerlike samelewing nie. Dis seker ‘n saak van magsverhoudinge.”

Hierdie aanhaling uit Woordfoël se tweegesprek met sy alter-ego Blackface is as lokteks deur ons webmeester op die voorblad van hierdie webblad geplaas. En as sulks is dit nogal ‘n ernstige aanklag teenoor ons as digters en die Afrikaanse digkuns. Hoekom? Sekerlik omrede die digkuns nie in ‘n vakuum ontstaan nie en derhalwe nie die luukse het om hom (of haar) van die omringende realiteit te distansieer nie.

Nadat Charl-Pierre Naudé sy nuutste blog oor “Die onmisbare waarde van burgerlike ongehoorsaamheid” gedurende die naweek geplaas het, was ek vroeër die week gekontak deur drie persone – waaronder ‘n gewaardeerde vriend wat die vrymoedigheid geneem het om my selfs telefonies te skakel – wat by my wou weet: Wat het hierdie blog-inskrywing met die poësie te make? Wel, het ek probeer antwoord: sekerlik word ons almal geaffekteer deur gebeure van ‘n politieke aard? Selfs ‘n eenvoudige handeling soos om ‘n Nestlé-produk te koop, word deesdae ‘n politieke keuse. (Gaan lees byvoorbeeld die berig hier.) Sedertdien het Charl-Pierre se blog seker tot een van die mees indringende gesprekke nóg op die webblad gelei. Ook Bernard Odendaal se nuutste blog – wat hy in antwoord geskryf het op Yves T’Sjoen se inskrywings – sluit hierby aan. Lees veral die slotgedeelte van sy diepsinnige inskrywing. Dít is die realiteit wat ons as digters omring, liewe leser. Hoe om dít in woorde raak te vat; die poësie karteer immers óók die emosionele landskap van ‘n volk, is dit nie?

So kan ek byvoorbeeld Adorno se bekende uitspraak kort na afloop van die Tweede Wêreldoorlog hier aanhaal: Om ‘n gedig na Auschwitz te skryf, is barbaars, het hy gesê. (“Nach Auschwitz ein Gedicht zu schreiben, ist barbarisch.”) Vele digters het Adorno egter hierop geantwoord met gedigte wat met brutale krag hierdie vooropgestelde barbaarsheid weerlê het: Tadeusz Rózewicz, Zbigniew Herbert, Wislawa Szymborska, Paul Celan, Vasko Popa, Miroslav Holub en nog vele ander het die verskrikking van hul tyd suksesvol onder vers gebring. Party ernstig, ander speels; party besinnend, ander weer met ‘n ironiese kyk. Soos Zbigniew Herbert sélf by geleentheid gesê het: ‘n Volk kry die digters wat hy verdien. Inderdaad. En dan sluit die skitterende bespreking van Breyten Breytenbach se Voice over op die webblad Words without borders vreemd genoeg naatloos aan by al bogenoemde gesprekke.

En ons? Waarna gaan ons gryp in hierdie tye? Die blaasvlam of die vergrootglas? Dalk eerder drank of Prozac? Mmm, keuses, keuses.

As ironiese kommentaar volg Bertolt Brecht se gedig hieronder.

***

Nog toevoegings tot die webblad gister is Charl-Pierre Naudé se huldeblyk aan IL de Villiers, asook Hennie Aucamp se antwoord op Desmond Painter se blog-inskrwying van enkele weke gelede. Lees gerus ook Andries Bezuidenhout se lusmaker oor ‘n besonderse item tydens Aardklop. Ai, dit klink omtrent plesierig … (Veral die gedig, “Rent-a-husband” is ‘n móét lees.)

Ten slotte, aan almal wat hierdie week by Aardklop betrokke is; hetsy as deelnemer óf toeskouer: Maak’it aan!

Lekker lees aan alles en probeer tog ‘n bloeiseldeurtrekte boom vind iewers in jou dag.

Mooi bly.

LE

 

Bad time for poetry

 

Yes, I know: only the happy man

Is liked. His voice

Is good to hear. His face is handsome.

 

The crippled tree in the yard

Shows that the soil is poor, yet

The passersby abuse it for being crippled

And rightly so.

 

The green boats and the dancing sails on the Sound

Go unseen. Of it all

I see only the torn nets of the fishermen.

Why do I only record

That a village moman aged forty walks with a stoop?

The girls’ breasts

Are as warm as ever.

 

In my poetry a rhyme

Would seem to me almost insolent.

 

Inside me contend

Delight at the apple tree in blossom

And horror at the house-painter’s speeches.

But only the second

Drives me to my desk.

 

(c) Bertolt Brecht (vertaal deur John Willitt en Ralph Manheim)

Uit: The poetry of survival (Penguin Books, 1991)

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •