
Op sy onlangse blog het Desmond Painter my ietwat voorgespring met ‘n bespiegeling rondom kandidate vir vanjaar se Nobelprys vr Letterkunde wat oor ongeveer twee weke van nou af aangekondig word. Oudergewoonte is die internet boepensdik van al die heerlike bespiegelinge oor wie se naam vanjaar uit die hoed getrek gaan word. Onwillekeurig dink ‘n mens aan digters soos Ernesto Cardenal (Nicaragua), Roberto Juarroz (Argentinië), Adonis (Sirië) en Hans Magnus Enzensberger (Duitsland). Om nie eens te praat van ons eie twee kandidate wat vanjaar (so glo ek graag) ‘n besonder sterk kans het nie … En wat van prosateurs soos Amos Oz, Carlos Fuentes, Philip Roth, Haruki Murakami en ‘n magdom ander? Selfs Bei Dao (China/VSA) is elke jaar ‘n sterk gunsteling, maar net soos dit die geval is met Salman Rushdie sal só ‘n toekenning waarskynlik met té veel politieke bagasie gepaardgaan. (En wat van Tomas Tranströmer?!)
Nietemin, groot was my verbasing toe ek op De Contrabas lees dat niemand minder as Bob Dylan op dié stadium as gunstige kandidaat bejeën word nie. Volgens die Deense literator, Anne-Marie Mai, gaan die toekenning na alle waarskynlikheid vanjaar na ‘n Amerikaanse skrywer gaan; veral na aanleiding van die Akademie se voormalige hoofsekretaris, Horace Engdahl, se gewraakte uitspraak jeens die Amerikaanse letterkunde verlede jaar. Volgens The Guardian se berig van 1 Oktober 2008 het hy gesê dat die Amerikaanse skrywers te selfgesentreerd is. “The US is too isolated, too insular. They don’t translate enough and don’t really participate in the big dialogue of literature,” het hy glo gesê. Later het sekretaris Engdahl dié bewerings probeer ontken en beweer dat dit ‘n misverstand is. Maar nou ja, die skade was gedoen.
Verdermeer word die argument dat Bob Dylan voordeel mag trek uit ‘n regstellende stem ten gunste van ‘n Amerikaanse bekroning, word ook op Knack se webblad gevoer. Ook hulle haal Anne-Marie Mai aan wat beweer dat Dylan se nominasie al vir etlike jare voor die komitee dien, maar telkens oor die hoof gesien word; skaamteloos lewer sy egter nou ‘n betoog ten gunste van bekroning vir hom, aangesien hy “de experimentele romantische en modernistische tradities van de wereldliteratuur verder gevoerd en met populaire uitdrukkingsvormen versmolten (heeft).” Na haar mening kan Dylan op dieselfde vlak geplaas word as skrywers soos Alexander Poesjkin, Charles Baudelaire, Walt Whitman, Johann Wolfgang Goethe en John Keats.
Nou ja, toe. Indien ‘n liriekskrywer bekroon moet word, is ek dit heeltemal eens dat onse Bobbie ‘n besonder sterk kandidaat is … En selfs wanneer sy lirieke met die Amerikaanse digkuns vergelyk word, staan hy waarskynlik ‘n neuspunt voor die meeste ander … Maar ‘n bekroning vir hom ten koste van soveel ander onvergeetlike skrywers?! Sjoe, darem seker nie, of hoe?
Hoe dit ook al sy, solank ons net kan aanhou met asemhaal, sal ons mettertyd wel weet.
As toegif vanoggend plaas ek die laaste strofe uit “A Hard Rain’s A-gonna Fall” wat waarskynlik as Bob Dylan se mees beroemde liriek beskou kan word. Die res van die liriek – asook al die ander – is hier te lees.
***
Maak ook net seker dat jy Yves T’Sjoen se nuwe blog te lese kry; dis absoluut fassinerend. Cas Vos ‘n huldeblyk vir IL de Villiers gestuur en Hennie Aucamp gesels alte heerlik met Bernard Odendaal in die Brieweboks oor die Liedteks as deel van die poësieskat in Afrikaans. Intussen het Jakkie van der Colff sy (of haar) beswaar teen Bernard Odendaal se resensie van Jelleke Wierenga se bundel, Bloot mens, na LitNet geneem en hom (of haar) tromop geloop teen twéé geïnspireerde reaksies, naamlik die van Koos Sas en Marna Duvenhage. Gaan lees gerus. Ai, ai, dis altyd só jammer wanneer mense hoor maar nie luister nie.
Nietemin, ‘n lekker (musikale) dag word jou toegewens.
Mooi bly.
LE
Oh, what’ll you do now, my blue-eyed son?
Oh, what’ll you do now, my darling young one?
I’m a-goin’ back out ‘fore the rain starts a-fallin’,
I’ll walk to the depths of the deepest black forest,
Where the people are many and their hands are all empty,
Where the pellets of poison are flooding their waters,
Where the home in the valley meets the damp dirty prison,
Where the executioner’s face is always well hidden,
Where hunger is ugly, where souls are forgotten,
Where black is the color, where none is the number,
And I’ll tell it and think it and speak it and breathe it,
And reflect it from the mountain so all souls can see it,
Then I’ll stand on the ocean until I start sinkin’,
But I’ll know my song well before I start singin’,
And it’s a hard, it’s a hard, it’s a hard, it’s a hard,
It’s a hard rain’s a-gonna fall.
© Bob Dylan (uit: A Hard Rain’s A-gonna Fall)
Louis, ek sal 3 Afrikaanse digbundels by jou kom koop om op te maak vir my onoordeelkundige koopgedrag!
Ek sou ook ‘n paar jaar wag wat Marias betref. Rushdie is nie op my kortlys nie: want sy mees onlangse werke was nie vir my so besonders nie (dikwels goed, maar nie uitstaande nie); en omdat geen land groot genoeg sal wees om daardie ego DAN te huisves nie!!
Ek is mal oor Murakami, maar ek dink daar is genoeg skrywers wat die Nobelsprys meer verdien as hy om ons darem nog ‘n dekade of wat besig te hou.
Die Akademie is seker maar so ge-puzzle deur Coetzee as die res van ons… Maar Booker of te nie, ek sien uit na Summertime.
Natuurlik stem ek saam met albei van julle hierbo … Na wie dink julle verwys ek met “ons eie twee kandidate”? Nietemin, Desmond, môre het ek vir jou ‘n verrassing; sien solank uit daarna. Maar hel, watter boekwinkel ondersteun jy?! Dink jy dat ek nie ook Marias se boek op bestelling het nie? Nietemin, ek stem saam met sy naam in die hoed, maar is hy nie ook nog aan die jonger kant nie? Toegegee, so was Pamuk en Coetzee egter ook, nè. (Dink jy dat die feit dat Coetzee aanhou publiseer ‘n verleentheid is vir die Sweedse Akademie? Veral as hy na alle waarskynlikheid nie eens die Booker-prys gaan wen nie?)