Andries Bezuidenhout. “Maar hulle is Afrikaans (lees: die Afrikaner) nie goedgesind nie”

Laat ek dit dan maar op rekord hier in my klein hoekie sê. Ek vind waarmee mede-digter Jelleke Wierenga besig is afstootlik. Lees hier. Ek bevraagteken nie haar reg om te sê wat sy wil sê nie, of om op te tree waar sy wil optree nie. Maar haar tirades teen swart sprekers van Afrikaans en oproepe vir mense om by spesifieke politieke partye aan te sluit is iets wat benede die openbare rol van ʼn Afrikaanse digter behoort te wees. Digters het uit die aard van die saak ʼn politieke stem, maar oproepe om by spesifieke partye aan te sluit? Ek weet nie so mooi nie…

Om Jan Rabie aan te haal, uit die boek Halala Afrikaans:

“Afrikaans is die grootste nie-rassige prestasie in ons Suiderland sover. Gesamentlik geskep deur mense van drie vastelande – Afrika, Asië en Europa. En daarom is dit nie die besit van eensydige politieke partye nie, maar behoort dit aan almal wat dit praat, skryf en liefhet. En daarom ook is my taal my beste wapen teen rassisme.”

As die taal dan kwansuis besig is om te sterf, is hiérdie tipe pogings om Afrikaans (weer) vir Afrikaners te kaap die grawe wat die vinnigste in ses voet se rigting spit.

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. “Maar hulle is Afrikaans (lees: die Afrikaner) nie goedgesind nie””

  1. Charl-Pierre Naude :

    (John, ek kan maar net hoop maar ek is jou kompliment waardig.)

    Ek het kennis geneem van Jelleke Wierenga se skrywe waarna Andries hierbo verwys. Ek kan nie daarop ingaan in besonderhede nie; ek sien sy het ook daarna ‘n skrywe op Litnet gehad waarin sy haarself darem “geprobeer explain” het. (mooi stelswyse daai, is dit nie? Die bruin mense van die Stilbaai-omgewing waar ek vasgeval het, gebruik dit dikwels.)

    Maar een punt sal ek wel wil maak. Oor sogenaamde meng-Afrikaans, of Engafrikaans, onder bruin en swart sprekers: Die onkritiese houding teenoor die fenomeen wat bestaan onder bruin en swart sprekers is myns insiens eintlik toe te skryf aan die weerhouding van taalonderrig wat aan enige standaarde voldoen aan hierdie sektor, tydens apartheid. So pleks van transformasie die skuld vir meng-Afrikaans te gee, nee, dis apartheid se skuld. Die soms afwysende houdings teenoor standaard-Afrikaans wat te bespeur is onder die bruin en swart sektor van die taal se sprekers (en moenie vergeet nie, dis die grootste deel van die taal se sprekers) kan regstreeks toegeskryf word aan die voorvarendheid en die uitsluitingsmiddelle van apartheid.

    So ook, die daaruit voortspruitende gebrek aan erkenning vir gestruktureerde taalgebruik wat in hierdie sektor te bespeur is. Ek is self erg bekommerd oor daardie houding van miskenning teenoor streng gestrukturele kommunikasie. Tale verval as daar die genoeg agting is vir struktuur nie, so ook kennis, begrip, en oplaas, menslikheid. Maar “blankes” (wat ‘n self-ingenome ou woordjie, dat mens dit nog steeds moet gebruik wys jou hoe min ons gevorder het in 20 jaar onder die ewe voortvarende ANC!) moet besef dat die rede waarom hulle hierdie insig makliker kry en hul bruin broers en suster die insig dikwels kortkom, is omdat eersgenoemde se onmiddellike voorgeslagte die ontvangers was van die voordele van struktuur – op alle gebiede; en die ander helfte van die taal se sprekers was die ontbeerders van genoemde voordeel.

  2. Andries Bezuidenhout :

    Dankie aan almal vir kommentaar. Charl-Pierre, is dit nie ook belangrik om tussen taalregisters ook te onderskei nie. ʼn Mens praat tog anders op straat as wat jy in die hof of die kerk praat. “Oenang” in ʼn formele konteks het waarskynlik selfs ʼn ander betekenis as “oenang” op straat. Ek is nie ʼn taalkundige nie, maar dis tog ʼn probleem as mense die informele register van ʼn streekstaal as ʼn taalvariant beskryf. Die informele registers van bruin sprekers word gereeld “ge-other”, maar die taal van wit kinders in Pretoriô se winkelsentrums word nie as “variante” gesien nie. Ek het ook Jelleke Wierenga se “geprobeer explain” op LitNet gesien. Ek oorreageer waarskynlik hier bo. Ek het ʼn bruin vriend wat gereeld my spelling korrigeer as ons vir mekaar tik op Skype, so ek neem sulke aanvalle persoonlik op. En ek haat dit om hom as ʼn “bruin” vriend te beskryf, nie weens politieke korrektheid nie, maar omdat ek hom nie as dit sien nie. Ek het meer met hom in gemeen as met baie Afrikaners.

  3. Desmond Painter :

    Andries, ek dink nie jy oorreageer nie; veral nie nadat ek een of twee van haar artikels op die Praag webblad gelees het nie. Myns insiens kan ‘n mens ‘n sinvolle gesprek h^e oor taalvariante, meng-Afrikaans of Engafrikaans, soos Charl-Pierre hierbo doen, maar ek dink die probleem is dat Wierenga se stuk nie eintlik daaroor gaan nie, en ‘n mens haar moet aanvat op die rassistiese diskoers wat haar skrywes informeer eerder as om ‘m argument te begin oor die status van taalvariante ens. Ek dink Zizek s^e iewers iets soos: rassistiese diskoers is ‘verkeerd’ selfs wanneer dit ‘reg’ is (m.a.w., wanneer die persoon wat dit gebruik werklike gebeure en korrekte statistiek aanwend om eintlik ‘n ‘white suppremacist’ boodskap oor te dra; en volgens hom is die probleem met hedendaagse rassistiese diskoers JUIS dat dit ‘reasonable’, feitelik en realisties poog te wees [‘Ek is nie ‘n rassis nie, ek is net ‘n realis’ — julle sou daai een al gehoor het post-apartheid) en ek dink nie Wierenga is ver van hierdie soort rassistiese denke nie. Elk geval, dit is goed dat jy dit gepos het, en dit is myns insiens ‘n belangrike gesprek om te h^e.

  4. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, ek dink nie ek sien kans om Praag nou te besoek nie, alhoewel ek van die mense daar se argumente soms geniet, net omdat dit so vergesog is. Ek is egter bereid om enige argument te oorweeg en op grond van bewyse te weerlê of te ondersteun. Dalk is ek outyds, maar ek glo nie aan politieke korrektheid nie. Dis hoekom ek so die moer in raak as enige standpunt wat “links” is as politiek korrek afgemaak word. My posisie as iemand wat poog om rassisme te beveg is nie weens die feit dat dit kwansuis in die mode is nie (wat ek nie noodwendig dink dit is nie, dis eerder ʼn minderheidsposisie in Suid-Afrika op die oomblik – helaas, aan alle “kante”). Ek het die argumente oor ras en intelligensie, ontwikkeling, ens. – baie daarvan uit evolusionêre biologie en sielkunde – geweeg en dit te lig bevind. Ek skrik dus nie as mense met sogenaamde “rasionele” argumente daaroor kom nie. My reaksie is eerder om die gesprek te voer en om te probeer om mense van my standpunt te oortuig. Ek hou juis daarvan as mense oor biologie begin praat, omdat mense se lywe die plek is waar jy die impak van iets soos armoede en wanvoeding die beste kan sien. ‘n Gesprek oor “ras” kan potensieel geweldig interessant en progressief wees. Ek ken nie Zizek se teks waarna jy verwys nie, maar dit klink vir my soos ʼn cop-out vir die left om te weier om aan sekere gesprekke deel te neem. Aan die ander kant het ek net nie altyd die energie om weer en weer en weer en weer deur argumente oor die biologiese basis van ras te gaan nie. Soms, om eerder by gedigte uit te kom, ignoreer ek maar net die neo-fasciste.

  5. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, toe ek bg. weer lees, lyk dit so al asof ek jou van politieke korrektheid beskuldig. Dis nie my bedoeling nie. Ek dink net die left moet ernstig dink oor dinge soos biologiese verskil, veral as dinge soos genetiese manipulering meer van ‘n werklikheid word. Ekonomiese klas en lyflikheid is nie iets wat ‘n mens kan ignoreer nie en ‘n etiek van gelykheid gaan daarmee moet rekening hou. Maar dis so ‘n bietjie van die punt af. Ek stem saam met jou dat gesprekke oor Afrikaans nie altyd oor Afrikaans gaan nie en eerder as ‘n eufemisme gebruik word vir dinge wat mense nie reguit kan of wil s^e nie.
    Groete
    Andries

  6. Desmond Painter :

    Andries, nee ek het dit nie so opgevat nie… Ek stem in elk geval met jou saam oor PC. Waarmee ek nie saamstem nie is die opmerking oor ‘cop-out’: ek het te haastig geskryf en boonop siek in die bed, so ek het die vergete Zizek stelling geweld aangedoen. Ek dink wat hy, of eerder ek, wou sê, is dat ‘n mens wel aan die gesprekke moet deelneem, maar moet besef dat jou opponent soms die parameters van die gesprek vasgestel het (wat gese kan word, watter vrae legitiem is, ens.) en dat ‘n mens dit soms moet verwerp, omverwerp, of herdefinieer. In die Afrikaans-Wierenga geval sou ek dus (dit was seker die punt wat ek wou maak met die Zizek kwasi-aanhaling) nie wou vasval in ‘n gesprek oor wit vs bruin/swart Afrikaans nie, maar juis haar aanvangspunt, dat Afrikaans so netjies in rashokkies gedink kan word, wou kritiseer. Anders doen ‘n mens die goeie werk om ‘n opregte argument te voer, maar jy reproduseer maar net kategoriee en aannames wat nie nuttig is. Maar ek dink dit is juis wat jy ook eintlik gesê het, so ek wou met jou saamstem! Wat klas en veral lyflikheid betref, ek is dit met jou eens. ‘n Vriend van my skryf nou ‘n tesis oor ‘n ‘kritiese’ neurosielkunde, en dit is verbasend hoe min krities-teoretiese aandag daaraan gegee word.

  7. Desmond Painter :

    Andries, nog een punt hieroor, want iets val my nou by. Jy verwys na rassewetenskap (belangrike onderwerp: ons sien dalk weer ‘n opbloei), maar ek dink hedendaagse rassismes kom dikwels ook anders tot uitdrukking. Die ‘feitelike’ argument is nie ‘n direkte een wat jy dan kan gaan refuteer nie, soos aansprake oor IKs ens nie. Ek is gister hieraan herinner toe iemand s^e, ‘ons regses het die wanbestuur, swak regering en misdaadvlakke van die hedendaagse SA voorsien, so julle liberales voel seker nou lekker stupid oor julle die swartes ondersteun het. Nou weet julle ons was reg.’ Dit is wat ek bedoel daarmee dat rassisme sigself aanbied as ‘realisme’: nie deur wetenskaplike aansprake te maak nie, maar juis deur aan te voer dat hulle aansprake oor swart mense op ‘n alledaagse, ervaringsvlak vanselfsprekend is vir enigeen wat nie in sy of haar ooglede vaskyk nie, of wat nie ‘politiek korrek’ is nie. In hierdie soort situasie is ‘n mens op die agtervoet, en gaan dit nie help jy argumenteer dat misdaad nie erg is nie, ens., want die goed wat die persoon vir jou s^e is inderdaad akkuraat. Iets anders in hulle diskoers as net die ooglopende ‘feite’ moet aangespreek word; dit, eerder as ‘n ‘cop-out’ uit die debat self, is wat ek in gedagte gehad het. As ek nou net daai blerrie Zizek-aanhaling in die hande kan kry! Anyway, lekker dag, en ons kan seker nou bietjie terugkeer digkuns toe…

  •