Andries Bezuidenhout. Om klank te verpak

Ek het vergeet hoe dit is. Die laaste album waaraan ek gewerk het, het aan die begin van 2005 van die fabriek af gekom. Toe winkels toe.

Om die tipe musiek wat ek pleeg op te neem is anders as om ʼn digbundel te publiseer. Daar ís dele wat ooreenstem. Die taligheid. Die uitleg van die omslag. Die omslag het só belangrik geword, veral noudat mense eerder hul musiek direk van die web aflaai. Vir ʼn tydjie nog gaan musiek in ʼn omhulsel beskikbaar wees, iets wat jy kan vashou soos ʼn boek en dit opmaak, dit lees. Maar om musiek op te neem en te meng is anders as woorde. Dis ook anders as om kleure in olieverf te meng. Ek voel sekerder oor woorde en kleur as oor klank.

Dis duur om CD’s te vervaardig. Om die musiek ook op te neem. Jy betaal per uur in die ateljee. Jy betaal musikante vir hul tyd en talent. Maar ek verwys nou na die oordrag van klank na laserskyf en die druk van die omslag met ink op verpulpte bome. Jou platemaatskappy neem oor. Hulle neem die meester en ontwerp na die fabriek toe. Die drukkers maak kleurskeidings. Die laserskyffabriek maak ʼn “glass master” – seker ʼn glasmeester in Afrikaans.

Dan kom die eerste klompie aan, in dose verpak. Jy haal een uit die kartondoos, die sellofaan, die plastiekomhulsel – soveel verpakking vir klank – en dan sit jy dit in ʼn masjien om te luister hoe dit klink. Dis jóú CD hierdie een – die een wat jy toevallig eerste raakvat.

Sê nou dis nie jou CD nie? Sê nou dis ʼn vreemde stem wat wegval met iets oor “dans” en “Afrikaans”, of ʼn gestorwe Boeregeneraal?

Dan hoor jy die eerste note waaraan jy soveel ure en dae spandeer het. Moes jy nie eerder die perkussie ʼn bietjie sagter gemaak het nie? Kan jy die woorde hoor? Hoe klink dit op ʼn transistorradio se krakerige luidsprekertjie? Hoe klink dit vir iemand wat vir die eerste keer daarna luister? Jy sal nooit weet nie. Jy’t heeltemal perspektief verloor.

Ek wens hulle bel nou: “Roof, kom haal jou CD’s.”

Bel nou!

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •