
Hierdie week hou die Duitse poësie-webblad, Lyrikline.org, omtrent gróót makietie. Hulle vier naamlik hul 10de bestaansjaar met ‘n verskeidenheid aktiwiteit en voorlesings in Berlyn en elders in die wêreld. Hul program betrek 50 digters uit 25 lande, waaronder Argentinië, Griekeland, Nederland, Vlaandere, Nigerië en die VSA. En wie uit ons beskeie taaljie pronk prominent op hul webblad as “nuwe stem”? Niemand minder as Antjie Krog nie … Ai, ek wonder of ‘n mens óóit sal kan bereken hoeveel van die statuur wat die Afrikaanse digkuns internasionaal geniet, as gevolg van Antjie en Breyten Breytenbach se optredes en suksesse is?! (Daarom, uit erkenning aan haar teenwoordigheid in dié gesogte ruimte plaas ek heelonder een van Antjie se gedigte wat daar geplaas is.)
Maar terug na Lyrikline.org: met 500,000 besoekers per jaar is hierdie poësieblad by verre die grootste ter wêreld. Boonop word dit as ‘n internasionale netwerk bedryf wat deur 40 internasionale medewerkers in stand gehou word en onder andere deur UNESCO geborg word. En na 10 jaar kan hulle spog met 5,500 gedigte deur 600 digters op hul webblad, asook 6,600 vertaalde gedigte in 49 tale. Verdermeer kan die webblad gelees word in vyf wêreldtale, waaronder Engels, uiteraard. Lees gerus die volledige berig deur De Contrabas.
***
Op ‘n meer persoonlike noot: Nog ‘n vreugde vanoggend is die feit dat ons eie webblad vandag ses maande oud is … En wat ‘n vreugdevolle (dog leersame) tyd was dít nie gewees nie! Iets wat ons in ‘n groot mate dankbaar stem, is uiteraard die 70,000 besoekers-kerf wat gedurende die naweek verbygesteek is, en andersyds die enorme welwillendheid jeens hierdie inisiatief uit soveel oorde. Indien daar in gedagte gehou word dat hierdie webblad ‘n baie spesifieke en bra eksklusiewe fokus het, en terselfdertyd ‘n besonder klein taalgroep bedien, vergelyk ons blad besonder goed met monster-webblaaie soos De Contrabas (waarskynlik die grootste in Nederlandstalige gebiede) en Lyrikline waaroor hierbo berig is, aangesien hulle tans net 3½ maal groter is as ons eie bruidsblad. Mmm, maar die hoop beskaam nie, nè? Miskien word dit my gegun om in 2019 te kan berig dat ons ook ‘n halfmiljoen besoeke per jaar ontvang … Ai, ai, ai. Nogtans is dit met ‘n verleë glimlag dat ek vanoggend weer my eerste Nuuswekker van 1 Mei lees: só ambisieus, en tog onbeskaamd opgewonde was ek darem nog selde in my lewe.
‘n Mens besef egter terdeë dat niks hiervan moontlik sou gewees het indien dit nie was vir almal wat steeds tot hierdie webblad bydra of bygedra het nie; hetsy direk óf indirek. Baie, baie dankie daarvoor. In die besonder natuurlik ook aan jóú wat hier sit en lees; dit is inderdaad jóú klieks en ondersteuning wat hierdie inisiatief sterk maak. Soos ek aan die slot van my eerste Nuuswekker gesê het: Hierdie is júlle webblad; so, maak hom tel … En natuurlik, soos altyd: ‘n Gróót dankie vir ons webmeester wat nogeens ‘n nuwe rekenaar-program (en ander vaardighede) in ‘n rekordtyd moes aanleer en tans sóveel onbaatsugtige ure bestee ter instandhouding van hierdie inisiatief. Dankie, Marlise. Jy is weergaloos.
***
Ten slotte – daar is twee opwindende plasings op die webblad vanoggend: Yves T’Sjoen het ‘n nuwe blog oor die skrywer as handelsmerk geplaas, terwyl Melt Myburgh die tweede deel van sy drieluik oor “vreemde liefdes” geplaas het. Lekker lees en geniet die (ouer) vers van Antjie Krog hieronder.
Mooi bly.
LE
grond
onder bevele van my voorgeslagte was jy besithad ek taal kon ek skryf want jy was grond my grondmaar my wou jy nooithoe ek ookal strek om my neer te lêin ruisende blou bloekomsin bees wat horings sak in Diepvleirimpelend drink die trillende keelvelin tafsytossels in leksels gomin doringbome afgegly na die leegtesmý wou jy nooitmy verduur kon jy nooitkeer op keer skud jy my afrol jy my uitgrond, ek word langsaam naamloos in die mondnou word geveeg om joubeding verdeel verkamp verkoop versteel verpandek wil ondergronds gaan met jou grondgrond wat my nie wou hê niegrond wat nooit aan my behoort het niegrond wat ek vergeefser as vroeër liefhet© Antjie Krog (Uit: Gedigte 1989 – 1995, Hond Uitgewers, 1995)
Baie dankie Maria, sulke kommentaar maak alles die moeite & tyd werd wat ek aan die webblad spandeer!
Geluk en dankie! Dit is letterlik ‘n fees, van kwaliteit informasie en vermaak! Ek wonder wat hou Daniel Hugo so besig – ek sou graag meer van hom hier wou sien – sy staaltjies oor taaldinge is altyd so hartverskeurend heerlik (jammer vir die oordrywing, maar sy woorde doen net iets aan my). En Marlise, jou doring, dankie VERAL VIR JOU TYD wat jy so op die tegnologie se ewig evoluerende truuks moet spandeer.