Andries Bezuidenhout. Mevrou Buitendag se blou Maandag

Hierdie is een waaraan ek nog torring. Soos mevrou Buitendag, wil die ding net nie rigting kry nie.

MEV BUITENDAG MAAK GEREED OM KANTOOR TOE TE GAAN
Today’s grey skies, tomorrow is tears
We’ll have to wait ‘till yesterday’s here.
– Tom Waits

Sy hoef nie te huil nie, die strykyster stoom self,
wasem wat kreukels moet temper. Plat, idiote, plat!
Die bloes skif al, die kragie rafel om haar stywe nek,
van baie was, van baie stryk, van baie aan mekaar se laste dra.

Dan knak haar elmboog as sy haar bra se knippie inhaak,
as sy haar hande deur die moue steek, knope vasworstel.
Here, nou staan ek nie meer naak voor U nie.
Ja, Here, hoekom o hoekom, hoekom o hoekom?

ʼn Kalkoen se hol, weet sy, dís hoe haar agterkop lyk
omdat sy alweer met nat hare gaan slaap het. Borsel tem,
laat die grys slierte in gelid aantree om deur ʼn rek in plek
gehou te word. Anders staan hulle orent. Ystervark.

Saam met die mierleeugate waaruit haar oë loer
sal hulle haar sekerlik opsluit. Wandelende gees.
Here, ek wandel deur ʼn dal van doodskaduwee,
grote God, hoekom o hoekom, hoekom o hoekom?

Maak die deur oop, byt die besoedeling stuk-stuk af.
Nog ʼn dag hou oorgeklank aan flikker; karatefliek
op ʼn nimmereindigende langafstandsbus.
Heiland, laat hierdie voertuig spoedig by die terminaal intrek.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •