Philip de Vos. ‘n Brose jong maagd van Benoni

 

Dit het begin daardie dag toe Kerneels Breytenbach vir my vra waarom ek nie limericke skryf nie, en my antwoord was dat limericke Engels was soos komkommertoebroodjies en dat hierdie tipe versie in geen ander taal sou werk nie. Maar – toe het ek nog nie geweet dat my Volkswagen gesteel gaan word en dat dit êrens in Benoni gaan beland nie. En toe skryf ek my eerste limerick. Maar – dit is ’n ander storie …

Wat is dit omtrent hierdie 5-reëlige versie dat dit ons al vir soveel jare bly kielie? Groot kuns is dit miskien nie, maar grote plesier wel.

Die enigste probleem is, dat soveel mense probeer limericke skryf en dan verskyn daar soveel gruwelikhede – en hier dink ek spesifiek van wat ’n jaar of wat gelede op Litnet gebeur het en hier was daar beslis meer kaf as korrels.

Om ’n limerick te kan skryf, moet jy kan dans, en ons ou volkie kán mos. Hoe anders doen jy dan die langarm? Maar sodra baie mense met woorde op papier probeer dans, glip hulle en beland hulle plat op hul gatte – en die rede is dat hulle nog nooit van metrum gehoor het nie.

Ongelukkig kan ek letterlik gesproke, glad nie dans nie, figuurlik kan ek wel, en ek weet darem hoe om op tone te trap.

Limericke het heel onskuldig begin toe Edward Lear gedurende die Viktoriaanse tydperk sy limericke begin skryf het. Vir die ore van destyds was dit seker vreeslik snaaks, maar vandag klink dit maar uiters flou:

 

There was an Old Man of Dundee

Who frequented the top of a tree;

      When disturbed by the crows,

      He abruptly arose

And exclaimed, “I’ll return to Dundee.”

 

Maar kyk net wat met ’n kerel uit dieselfde dorp gebeur het in hierdie anonieme limerick van 1927:

 

There was a young man of Dundee

Who was plumbing a girl by the sea.

      She said: “Stop your plumbing,

      There’s somebody coming!”

Said the plumber, still plumbing, “It’s me!”

 

Limericke het al hoe gewaagder geword, ja miskien ’n bietjie te vieslik vir hierdie ordentlike literêre blog.

Die probleem met limerick-skryf word goed vasgevang in die volgende:

 

The limerick packs laughs anatomical

Into space that is quite economical.

      But the good ones I’ve seen

      So seldom are clean

and the clean ones so seldom are comical.

 

Om vulgêr te raak is maklik genoeg, en ek ken beslis ál die P-woorde in Afrikaans, maar stout-wees is ’n ander saak, en die lelikste woord wat ek nog ooit op skrif gestel het, is daardie goeters wat pikkewyne maak:

 

 ’n Jong pianis uit die Noorde

Speel die aakligste nare akkoorde.

      Sy spel op piano

      Klink erger as ghwano

En dit is te vreeslik vir woorde.

 

Vieslike limericke lê die wêreld vol. Gaan lees gerus (en bloos terselfdertyd):

LIMERICKS – the famous Paris edition, complete and unexpurgated. 1700 examples with notes, variants and index (gepubliseer deur Castle Books)

 

Maar ongelukkig is ek ordentlik … en ek skryf slegs ordentlike limericke en ek moet erken die ordentlikes is moeiliker as die ander. Dit is iets wat ek wel agtergekom het toe ek limericke vir ’n skoolboek moes skryf. Hier is twee:

 

’n Suinige man genaamd Tjaart

Het skilfers gekry in sy baard.

      Toe sê hy vir Bettie:

      “Nou het ons confetti

Vir ons tweetjies se troudag in Maart.

 

’n Antie wat woon in Napier

Was vreeslik verlief op ’n mier.

      Toe’t haar man vir die grap

      Op die gogga getrap …

Nou’s daai mier van Napier oor die muur.

 

’n Limerick het 5 reëls en dis ’n kwessie van jou hoofkarakter in die eerste reël voor te stel en dan in 4 reëls jou storie te vertel met ’n kinkel in die laaste reël.

Hier is twee van my gunstelinge deur anonieme skrywers:

 

There was a young lady called Sheba

Who once loved a playful amoeba.

      This queer blob of jelly

      Would lie on her belly

And blissfully murmer: “Ich liebe!”

 

There was a  young lady from Spain

Who once got quite sick on a train:

      Not once – but again

      And again and again

And again and again and again.

 

En my eie limerick wat alles begin het? Ek het so ’n verbleikte groen Volkswagen gehad, wat gesteel is (waarom weet ek nou nog nie) en daar verander iemand dit in ’n stock car en daar moes ek al die pad Benoni toe vlieg om dit uit te ken.

Op pad terug Kaapstad toe skryf ek toe my eerste limerick:

 

’n Brose jong maagd van Benoni

Sê immer en altyd: “Ninoni!”

       Haar kêrel sê: “Jinne!

      Ag, kom tot jou sinne,

Want ek kan dit glad nie meerhoni.”

 

Daarna kon ek nie ophou nie. Ek het selfs in die middel van die nag wakker geword terwyl ek die metrum op my matras uittokkel:

 

Die onskuldige Jochebet Jansen

Het verval in ’n toestand van waansin.

      Sy’t geskree en het later

      Haar sopnat gewater

Toe sy sien hoe verspot lyk ’n man s’n.

 

’n Dwerg wat werk by Vodacom

Dink al wat vrou is, hou van hom.

      En as hy suip

      Wil hy net knyp.

Maar kan skaars by hul boude kom.

 

There was a young lady from Ottery

Who once took some lessons in pottery.

      She gave a big wheeze

      And a terrible sneeze

And got all her pottery snottery.

 

Na drie maande het ek vir myself gesê: Dis nou finish en klaar, maar toe weet ek gelukkig dat ek myns insiens my beste limerick geskryf het. Die skop lê in daardie laaste woord, en ja, my metrum was korrek:

 

Die goeie tant Hentie Breda

Se man het haar vreeslik gepla.

      En toe sê tant Hentie:

      “Ag, los tog my pentie.

Hou op om my klere te dra!”

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •