
Die Israeliese Nasionale Biblioteekdienste het die Duitse Museum van Moderne Literatuur te Marbach gedagvaar om die oorspronklike manuskrip van Franz Kafka se roman Der Prozess (“The trial”) aan hulle terug te besorg. Dié manuskrip is in 1988 deur Sotheby’s tydens ‘n veiling vir die bedrag van 2 miljoen US dollar aan die museum te Marbach verkoop. Die Nasionale Biblioteekdienste van Israel probeer egter nou om deur middel van ‘n regsgeding weer die manuskrip in hul sorg te kry, aangesien Kafka dié manuskrip aan sy jarelange vriend, Max Brod, nagelaat het en laasgenoemde die wens uitgespreek het dat dit na sý dood aan die Israeliese Biblioteekdienste geskenk moet word vir bewaring. En dít nadat Kafka, wat in 1924 aan tuberkulose beswyk het, by monde van sy testament dit onomwonde gestel het dat al sy manuskripte verbrand moet word.
Brod het egter sy vriend se versoek geïgnoreer en voortgegaan met die publikasie van The Trial, The Castle en Amerika. In 1939 moes Brod Praag egter inderhaas verlaat en het na Tel Aviv voor die Nazis uit gevlug. Na die dood van sy vrou het hy ‘n verhouding met sy assistent, Esther Hoffe, begin wat na sý dood in 1968 klaarblyklik voordeel uit Brod se niksseggende testament getrek het deur haar eienaarskap van die betrokke manuskrip te verkondig as synde ‘n geskenk deur Brod aan haar.
Meir Heller, die Israeliese Biblioteekdienste se regsverteenwoordiger, het hul saak soos volg gemotiveer: “The National Library of Israel, which is a library of the Jewish people too, understands that in the will of Dr Max Brod he asks that these documents should be placed in a public archive and he names the National Library as the first option for that.” Hierop het Ulrich Raulff, direkteur van die Duitse Literêre Argief heftig gereageer en gesê dat die manuskrip op ‘n wettige manier in 1988 bekom is. “As far as I’m aware, [the inheritance] was reviewed and deemed legitimate by an Israeli court in the 1970s. In which case, the fact that the papers were delivered to Sotheby’s cannot be considered illegal,” het hy bygevoeg.
Nou ja, toe. Kafkaeske in die ekstreme, lyk dit my. Gaan lees gerus die volledige berig op Haaretz se webblad, of by The Guardian.
***
Goeie nuus is dat die kaartjies vir vanjaar se Versindaba nou beskikbaar is. Dit kan van vandag af by enige Computicket gekoop word en van môre af, direk by die Oude Libertas Amfiteater, óf by Protea Boekwinkel op Stellenbosch. Aangesien die twee dagsessies, naamlik Sessie 3 & 4, in ‘n kleinerige lokaal met beperkte sitplek plaasvind, sal dit raadsaam wees om jou kaartjies vir dié twee sessies vroegtydig aan te skaf.
Nuwe plasings op die webblad is ‘n heerlike inskrywing deur Philip de Vos oor limerieke terwyl Andries Bezuidenhout ons weer met ‘n gedig oor mev. Buitendag se blou Maandag verras.
Lekker lees en hou maar die blou eenkant weggesluit in ‘n kas, hoor. (Behalwe as jy ‘n ondersteuner van die Blou Bulle is, natuurlik. Dan mag jy maar in jou blou frokkies pronk vir hierdie week. Ons sal verstaan …)
Mooi bly.
LE