
Die afgelope 10 dae het Xander, ons kleinkind wat 19 maande oud is, by ons gekuier. Uiteraard was een van die eerste aankope deur oupa en ouma ‘n CD met kinderliedjies vir die klein woelwater se luisterplesier. En ai, watter vreugde was dié musiek nie vir hom (én ons) nie! Later het hy selwers geweet watter knoppies om by die klankstelsel te druk om sý musiek bandeloos deur die huis te laat bulder. Dan warreldans hy minute lank op die mat en tussen stoele deur terwyl hy op sy manier saamsing en lag.
Wat ons telkens verstom het, is hoe intens hy reageer op die ritmes en klanke van die liedjies; selfs die herhalende woorde en frases word in ‘n japtrap aangeleer en geassimileer. Pure poësie. Iets wat my laat wonder: Wat gebeur dan met die mens dat hy só vinnig hierdie spontane aanvoeling vir ritme en klank verloor? En die bykans kinderlike verwondering met die wêreld? Ai, hoe hartseer is dit nie …
Nietemin, ek onthou meteens dat ek onlangs iewers die opmerking raakgelees het dat wat die digkuns van ander kunsvorme onderskei, die kwessie van empatie is. Dat jy inderdaad nie oor iets ‘n gedig kan maak indien jy nie empaties daarmee kan “identifiseer” nie. En sinisme dan? Want hoe dikwels slaan daar nie ‘n siniese toon deur in ons digkuns nie … Is sinisme dalk juis die uiterste vorm van empatie?
Maar ag, liewe leser, watter wonderlike plek sou die wêreld nie gewees het indien ons daarin kon slaag om ons ekstase ten opsigte van ritme en klank en nuwe ontdekkings enduit te behou nie … En dalk is juis dít die poësie se uiteindelike doelwit: om ons deurgaans te herinner aan dit wat ons met verloop van jare verloor het. Amper soos om jou skaduwee raak te trap. Of wat praat ek alles?
As toegif plaas ek graag die laaste strofes uit Marlise Joubert se gedig “met jou geboorte” aan die einde van vandag se Nuuswekker. Die volledige vers kan in Marlise se gedigtekamer gelees word.
***
Nuwe leesstof op die webblad vanoggend is Johann Lodewyk Marais en Charl-Pierre Naudé se inskrywings. Johann vertel van die legendariese Wopko Jensma terwyl Charl-Pierre deur middel van ‘n interessante eksperiment pertinente vrae opper rakende die gewaande skeidslyn tussen prosa en poësie. As skaduteks herinner ek jou aan die artikels hier en hier wat in ‘n groot mate aansluit by dié eksperiment van Charl-Pierre. En, ter afsluiting, iets wat John Waine gesê het: “Poetry is to prose as dancing is to walking.”
Lekker lees en geniet die naweek wat op hande is. Nuuswekker hervat weer op Maandag.
Mooi bly.
LE
met jou geboorte
vir Xander (26.03.2008)
met jou geboorte was ek in ‘n land van eenderse huise
was ek tussen sneeu en wind vasgevang
maar my lyf was donsig en liggewend soos ruite
wat die water in kanale verhelder
die groen dieptes snerpend binnelaat
die misterie van geboorte en dood laat kring
en ek was verheug
ek was verstom dat jy so klein en ver
soos ou skilderytjies teen mure van galerye hang
dat jy so onbekend is soos die fietse in stegies
wat met my na ‘n ander toekoms draai
ek het op ‘n brug gestaan tussen gewels
ek het na die sonarbeelde in water gestaar
ek het al die bote opgelet groot en klein
vasgemeer op donker singende bloed
ek het jou gesig verbeel
en ek was verstom dat ek jou tóé reeds
onvoorwaardelik liefhet
© Marlise Joubert. April 2009