Statistiek tov verkope & leespatrone

 

Graag verskaf ons die volgende statistiek ter aanvulling van die gesprek met Andries Visagie wat enkele dae gelede op die webblad geplaas is. Dit vind ook ten nouste aansluiting by vroeëre insette ten opsigte van verkope en leespatrone.

Met al onderstaande gegewens inaggeneem, bestaan daar min twyfel dat dit tans besonder goed gaan met die Afrikaanse digkuns nie. Ook met die Versindaba-webtuiste – waardeur die Afrikaanse digkuns aan ‘n groter en breër leserspublikek bekend gestel word – gaan dit bo verwagting goed.

Samevattend kan die volgende opmerkings na aanleiding van die statistiek hieronder gemaak word:

  • ‘n Leserspotensiaal van 47.2% is waarskynlik indrukwekkend binne enige digkuns in die wêreld vandag. Iets wat weereens bewys: die belangstelling is inderdaad daar. Maar hoe transformeer ons die “lees” van poësie na beter verkope van digbundels? Dít is die uitdaging.
  • Die lys van topverkopers soos van die uitgewers ontvang, asook die verkope by Protea Boekwinkel, vertoon ‘n gesonde balans tussen toeganklike en minder-toeganklike poësie. Die verskeidenheid ten opsigte van styl, tema en aanbod is myns insiens waarskynlik die Afrikaanse digkuns se grootste prestasie tans.

 

Ten slotte – ‘n uitnodiging: Kom ons práát hieroor in ‘n poging om ‘n bepaalde strategie te kan ontwikkel ten opsigte van beter bemarking en verkope. Dit is immers ons oortuiging dat etlike van die knelpunte wat die afgelope jare rondom ons digkuns geopper word, ter syde sal val indien ons beter verkope kan registreer.

Daarom – lekker lees, raak opgewonde en neem deel!

Die statistiek is soos volg:

 

A.    LEESPATRONE

Op Maandag, 9 November, en Woensdag, 11 November, het Beeld en Die Burger ‘n meningspeiling op hul webblad gedoen ten einde te bepaal hoeveel van hul  lesers poësie lees en hoe gereeld.

Faktore wat dié steekproef beïnvloed, is soos volg:

·         Die peiling was slegs vir 1 dag op die internet.

·         Die peiling was slegs op die onderskeie webtuistes te vind.

·         In totaal het 5,024 lesers op die peiling gereageer (Beeld = 3,908. Die Burger = 1,116)

Die vraag was “lees jy gedigte?” en die resultaat was soos volg:

 

Ja, gereeld

Ja, maar net soms

Nee, glad nie

BEELD

521

1,338

2,049

DIE BURGER

249

265

602

TOTALE

770

1,603

2,651

PERSENTASIES

15.3%

31.9%

52.8%

 

Die afleiding wat hieruit gemaak kan word, is dat 47.2% van die deelnemers wél poësie by geleentheid lees. Die uitdaging is dus om enersyds die gereelde lesers van die digkuns se betrokkenheid te bekragtig en andersyds om die “soms”-lesers in dié mate te inspireer dat hulle “gereelde”-lesers word.

Ten opsigte van die Versindaba-webblad lyk die afgelope maand se leespatrone soos volg:

·         Aantal besoeke = 5,755.

·         Aantal unieke besoekers = 3,391.

·         Besoeke kom vanuit 66 lande.

·         Besoeke uit Suid-Afrika = 4,679 uit 162 sentra, met as vernaamste Wes-Kaap ( 1,999) en Gauteng (1,465).

·         Besoeke uit Vlaandere = 309.

·         Besoeke uit Nederland = 178.

·         Vernaamste ander lande: Verenigde Koninkryk (96), VSA (59), Duitsland (46), Suid-Korea (36), Nieu Zealand (33), Kanada (24), Namibië (23) en Australië (16).

Ten opsigte van vergelykende statistiek met soortgelyke poësie-webtuistes wêreldwyd, vertoon Versindaba besonder goed:

·         Aantal besoek: 50.46% bokant wêreldgemiddeld.

·         Aantal bladlese: 16.09% bokant wêreldgemiddeld.

·         Gemiddelde tyd op die webblad deurgebring: 37.34% bokant wêreldgemiddelde.

 

B.    TOPVERKOPERS

 

Ons het by die twee vernaamste uitgewers van digbundels, NB Uitgewers en Protea Boekhuis, navraag gedoen ten opsigte van die verkope van digbundels wat in 2008 en 2009 verskyn het. Die volgende inligting is ontvang. Aangesien verkoopsyfers as vertroulik beskou word, is slegs die rangorde verskaf. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die datum van verskyning ‘n bepalende invloed op die rangorde het. Hierdie is dus ten beste slegs ‘n relatiewe aanduiding.

NB Uitgewers se lys van Topverkopers sien soos volg daaruit:

2008

TITEL

OUTEUR

1

Staan in die algemeen nader aan vensters

Loftus Marais

2

Noudat slapende honde

Ronelda S. Kamfer

3

Vervreemdeling

IL de Villiers

4

Kwansuis

Piet van Rooyen

2009

TITEL

OUTEUR

1

oorblyfsel / voice over

Breyten Breytenbach

2

Al is die maan ‘n misverstand

Danie Marais

3

Deur die oog van ‘n naald

Mathews Phosa

4

Vuurwiel

Joan Hambidge

5

Die algebra van nood

Johann de Lange

6

oogensiklopedie

Gilbert Gibson

7

Woud van nege en negentig vlerke

Carina Stander

 

Protea Boekhuis se lys van Topverkopers sien soos volg daaruit:

2008

TITEL

OUTEUR

1

Retoer

Andries Bezuidenhout

2

Van roes en amarant

Pirow Bekker

3

Vlamsalmander

Hennie Aucamp

2009

TITEL

OUTEUR

1

Die panorama in my truspieël

Daniel Hugo

2

Lang reis na Ithaka

Dolf van Niekerk

 

Ten opsigte van verkope by Protea Boekwinkel op Stellenbosch sien die prentjie soos volg daaruit. Maar – hou asseblief in gedagte dat hierdie gewoon die verkoopspatroon binne ‘n spesifieke mark reflekteer.

Ten eerste, digbundels wat die afgelope twee jaar verskyn het:

 

TITEL

OUTEUR

Jaar van publikasie

1

Deur die oog van die naald

Mathews Phosa

2009

2

Staan in die algemeen nader aan vensters

Loftus Marais

2008

3

Noudat slapende honde

Ronelda S. Kamfer

2008

4

Vermaning

Lucas Malan

2008

5

Die panorama in my truspieël

Daniel Hugo

2009

6

Vlamsalmander

Hennie Aucamp

2008

7

Al is die maan ‘n misverstand

Danie Marais

2009

8

Vuurwiel

Joan Hambidge

2009

9

oorblyfsel / voice over

Breyten Breytenbach

2009

10

Retoer

Andries Bezuidenhout

2008

11

Kamermusiek

Johan Myburg

2008

12

Vervreemdeling

IL de Villiers

2008

13

Woud van nege en negentig vlerke

Carina Stander

2009

14

Die algebra van nood

Johann de Lange

2009

15

Lang reis na Ithaka

Dolf van Niekerk

2009

         

 

Verkope by Protea Boekwinkel op Stellenbosch vir alle digbundels sedert 2002 sien soos volg daaruit:

 

TITEL

OUTEUR

Jaar van publikasie

1

Ingrid Jonker – Versamelde werke

Ingrid Jonker

1975

2

Die twaalfde letter

Daniel Hugo

2002

3

Liefde Miskien(vert. Daniel Hugo)

Herman de Coninck

1996

4

Om te lewe is onnatuurlik

Gert Vlok Nel

1993

5

Die aandag van jou oë

Petra Müller

2002

6

Digter wordende

Antjie Krog

2009

7

Deur die oog van ‘n naald

Mathews Phosa

2009

8

Afstande

Lucas Malan

2002

9

Staan in die algemeen nader aan vensters

Loftus Marais

2008

10

Sloper

Louis Esterhuizen

2007

11

Noudat slapende honde

Rondelda S. Kamfer

2008

12

Watervlerk

Ilse van Staden

2003

13

[en die here het foto’s geneem oor vanderbijlpark]

Ronel Nel

2002

14

Die burg van Hertog Bloubaard

HJ Pieterse

2000

15

Passies en passasies

Marlise Joubert

2007

         

 

 

 

 

C. SAMEVATTENDE KOMMENTAAR

Graag hou ek die volgende voor in ‘n poging om ‘n bepaalde greep op bogenoemde statistiek te bekom. Hou asseblief in gedagte dat my kommentaar bespiegelend van aard is en gebaseer is op my spesifieke ervaring as boekhandelaar binne ‘n bepaalde marksopset.

Na my mening kan ons vier kategorieë van potensiële kopers identifiseer, te wete –

Kategorie A:            Toegewyde kopers wat meestal al die vernaamste bundels wat jaarliks verskyn, koop. (10 +) Voorkeur: Enige bundel wat in die algemeen as belangrik beskou word.

Kategorie B:            Ingeligte kopers wat jaarliks slegs die bundels waarby hulle aanklank vind, koop. (5 – 10 per jaar) Voorkeur: Enige bundel wat persoonlik as belangrik beskou word.

Kategorie C:            Somtydse kopers wat slegs onder spesifieke omstandighede, bykans impulsief, bundels koop wat vir hulle weens bepaalde omstandighede van belang is. (3 – 5 bundels per jaar) Voorkeur: Waarskynlik meer toeganklike poësie.

Kategorie D:           Kopers wat selde indien ooit ‘n digbundel koop; meestal as geskenk vir iemand anders. (1 – 2 digbundels per jaar) Voorkeur: Na gelang van omstandighede, maar waarskynlik toeganklike of “kultus”-poësie.

 

Maar watter faktore beïnvloed die verkope van ‘n digbundel?

 

 

  1. Die reputasie van die digter, optredes en ook algemene sigbaarheid.
  2. Bemarking. Hier gaan dit primêr oor die oordrag van inligting en kennisname.
  3. Mediadekking. Hieronder resorteer resensies, onderhoude en beriggewing wat uiteraard met bewusmaking te make het.
  4. Die voorkoms en verkoopsprys van ‘n bundel, maw die “goeie waarde vir geld”-beginsel.
  5. Leserslojaliteit. Indien ‘n koper met ‘n vorige aankoop plesier gehad het daarmee, is hy of sy uiteraard meer geneë tot ‘n volgende aankoop. Daarom dat ‘n suksesvolle verkoper tot voordeel is van die digkuns in sy geheel.
  6. Informele en entoesiastiese gesprekke tussen poësieliefhebbers, hetsy privaat of binne leeskringverband.
  7. Pryse, toekennings en ander maniere van bekroning.

 

 

Met bogenoemde in gedagte kan die volgende afleidings dus gemaak word tov die topverkopers:

 

·         Dat twee debutante heelbo staan op NB Uitgewers se lys vir 2008 is in die eerste plek te danke aan die gehalte van die verse en die prominente dekking van dié uitstaande bundels in die media. Al sewe bogenoemde faktore het dus ‘n gunstige impak op verkope gehad en gevolglik is al vier kategorieë kopers by die verkope geaktiveer.

·         Die twee bundels in onderskeidelik die 3de en 4de plek se sukses is waarskynlik grotendeels vanweë die gesonde reputasie van die digters. IL de Villiers se kopers waarskynlik vanuit Kategorieë A, B en D, terwyl Piet van Rooyen weer na alle waarskynlikheid Kategorieë A en B betrek, met ‘n bepaalde lojaliteitsfaktor uit Kategorie C onder mede-Namibiane.

·         Op die NB-lys vir 2009 staan Breyten Breytenbach in die 1ste plek, waarskynlik met ‘n sterk inset deur die eerste drie faktore en in ‘n mindere mate die oorblywende vier. Kategorie kopers is myns insiens Kategorie A, B en D.

·         In Danie Marais se geval geld Faktore 1 tot 6, myns insiens, met kopers vanuit Kategorieë A en C, met in ‘n mindere mate kategorieë B en D daarby. Dieselfde geld vir Mathews Phosa, Joan Hambidge, Johann de Lange en Carina Stander se onderskeie posisies op die Topverkoperslys. In die geval van Mathews Phosa vermoed ek is daar waarskynlik ‘n sterker inset van Kategorie D kopers as wat dit die geval is by die ander digters in dié groep.

·         In die geval van Gilbert Gibson se “oogensiklopedie” is dit voortydig om kommentaar te lewer, aangesien die bundel maar enkele weke gelede verskyn het. Nietemin, ek vermoed dat al sewe faktore ‘n rol in verkope gaan speel en dat die meeste aankope vanuit Kategorieë A en B sal kom.

·         Op die Protea Boekhuis-lys vir 2008 beklee nog ‘n debutant die 1ste plek, in hoofsaak vanweë Faktore 1 en 2, myns insiens. Mediadekking was nié so uitvoerig nie en dikwels met gemengde “seine”. Kopers kom daarom waarskynlik uit Kategorieë A, C en D, met ‘n sterk oorwig tov Kategorie C agv Andries Bezuidenhout se dubbel-impak as musikant en digter.

·         Die twee bundels in die 3de en 4de plek op Protea se 2008-lys se verkope is waarskynlik grotendeels vanweë die gevestigde reputasie van die digters. Hennie Aucamp se kopers kom waarskynlik uit Kategorieë A, B en D, terwyl Pirow Bekker weer na alle waarskynlikheid weer meer kopers uit Kategorieë A en B lok.

·         Op Protea Boekhuis se lys vir 2009 domineer Daniel Hugo die verkope; grootliks omrede bykans al die faktore gunstig teenwoordig is en verkope derhalwe deur kopers uit Kategorieë A, B en C na vore kom. Die sukses van Dolf van Niekerk se bundel tov verkope word na alle waarskynlikheid gevoed deur die sukses van sy vorige bundel, maw Faktor 5. Kopers resorteer myns insiens primêr in Kategorieë A en B.

D. SLOTSOM

·         Bundels met goeie, toeganklike poësie aktiveer bykans al sewe faktore en betrek kopers vanuit al vier kategorieë. So ook digters met ‘n bepaalde “kultus”-aanhang soos Ingrid Jonker, Gert Vlok Nel en Andries Bezuidenhout.

·         Sodra ons egter met ‘n bundel te make het met minder goeie, dog toeganklike poësie, swaai die potensiële kopers dus weg van Kategorieë A en B met ‘n oorwig by Kategorieë C en veral D.

·         Daarteenoor lê die oorwig vir “moeilike” poësie weer uitsluitlik by Kategorieë A en B. Maar, anders as wat dit waarskynlik met minder goeie “toeganklike” poësie gesteld is, is die reikwydte van faktore meer gunstig.

 

Met al bogenoemde in ag geneem is dit dus duidelik dat ‘n webblad soos hierdie ‘n enorme rol te speel het in die bewusmaak, bemarking en oordrag van inligting ten gunste van ‘n bepaalde publikasie. So ook in die poging om gesprekke te laat ontstaan in ‘n poging om die  31.9% “somtydse”-lesers gereelde lesers (en kopers!) van digbundels te maak.

A luta continua.

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •