In die eerste dae van hierdie webblad se bestaan het ek ‘n stuk oor JD McClatchy se book The Vintage Book of Contemporary World Poetry (1996: Random House) geskryf en aangesien hierdie steeds die beste boek oor wêreldpoësie is waarvan ek weet, plaas ek graag weer die stuk wat ek einde April daaroor geskryf het.
Dit is immers ‘n gegewe dat ons digkuns in vergelyking met die meeste ander digkunste besonder klein is. Alhoewel die produksie van ongeveer 20 bundels per jaar binne die klein taalopset van Afrikaans nogals indrukwekkend is, is dit ook so dat daar in Nederland, byvoorbeeld, dié aantal bundels waarskynlik per maand verskyn … Die groot gevaar wat ons digkuns dus in die gesig staar, is die kwessie van eenselwigheid vanweë die relatief min mense wat by die Afrikaanse poësie-produksie betrokke is; hetsy as digter, keurder, resensent, redakteur, uitgewer, ens. Dié situasie word vererger deurdat dieselfde persone herhaaldelik by dié proses betrek word – des te meer as hulle hul onderskeie funksies met onderskeiding vermag. Kennisname van internasionale poësie is myns insiens daarom noodsaaklik ten einde die genetiese poel waaruit die digkuns voortgebring word, te vergroot.
Maar hoeveel van ons digters en/of literatore lees werklik wyer as wat plaaslik op die spyskaart is? En waar gaan ‘n mens verse van hierdie – meestal onbekende digters, vir ons – te lese kry? Wel, die internet is altyd ‘n goeie beginpunt. (Kyk gerus onder “Skakels” elders op hierdie webblad en u sal sommer ‘n hele rits skakels na die meer prominente internasionale poësie-webblaaie daarop vind. Met dié gegewe as vertrekpunt, sal jy sommer vinnig ‘n eie galery van persoonlike gunstelinge kan saamstel.)
Indien jy egter iemand is wat verkies om ‘n boek in die hand te neem, is daar kwalik ‘n beter bekendstelling aan die internasionale wêreld van die poësie as J.D. McClatchy se The Vintage book of contemporary world poetry. Die indeling van dié boek is volgens streke (of taalgroepe) en betrek telkens die mees prominente digters wat in daardie spesifieke streek (of taal) werksaam is. Die resultaat is ‘n bloemlesing bestaande uit 80 digters wat vier-en-twintig taalgroepe verteenwoordig. Wat hierdie bloemlesing egter van enige ander onderskei, is die deeglikheid waarmee McClatchy en sy span die keuse van digters gemaak het en die moeite wat gedoen is om die beste vertalings bekikbaar na te vors en te gebruik. (Daar is selfs enkele gevalle waar hulle nie in staat was om tussen twee vertalings te kies nie; in welke geval beide vertalings geplaas is en persoonlik vind ek dié vergelykende lees besonder opwindend.) Met ‘n aanbevole verkoopprys van net R170.00 is hierdie bloemlesing (van meer as 600 bladsye) boonop ‘n fantastiese winskoop.
Vir diegene wat skepties staan teenoor poësie in vertaling, hou ek graag die Russiese digter Andrei Voznesensky se uitspraak (soos aangehaal deur McClatchy in sy voorwoord) voor: “(A poem) is a crystal, a model of the world, a structure of harmony, a method of thought penetrating to the essence of what is happening, a way of revealing the truth. Poetry knows no borders; it has no capitals and no provinces. Languages are many but poetry is one.” ‘n Vers bestaan volgens hierdie siening dus nie net uit woorde nie, maar essensieel uit “poëtiese idees” – en dít is immers universeel.
Hierdie kommentaar kan ek egter nie afsluit sonder om ook die samesteller sélf aan die woord te stel nie. Aan die einde van sy inleidende betoog sê hy die volgende oor die digters wat hy in sy bloemlesing opgeneem het: “Here are the guardians of memory. Here are dozens of whispered, perplexing, gorgeous, keening, bemused, thoughtful, angry, soaring voices. Here are the songs of the earth.”
Die boek se besonderhede is soos volg:
TITEL: The Vintage book of contemporary world poetry
SAMESTELLER: J.D. McClatchy
UITGEWER: Vintage Books
VERSPREIDER: Random House
ISBN: 0 679 74115 1
PRYS: R170.00
***
Vandag oor ‘n week is dit sulke tyd: die grootste Afrikaanse poësiefees ter wêreld! Ai, ai. En watter vreugde sal dit nie wees as ons daardie Amfiteater by Oude Libertas vól kan pak nie … O, die naelbyt-afwagting wanneer David Kramer op die verhoog verskyn en begin om die eerste ritmes uit sy kitaar los te tokkel voor ‘n see van gesigte wat later met hul koppe skuinsgedraai sit en luister na die beste wat ons digters te bied het terwyl die son stadigaan greep verloor op die berge in die agtergrond. Sjoe. Wat ‘n droom.
Maar onthou ook van die spesiale toevoeging vanjaar: die kunsuitstalling in die voorportaal van die ouditorium wat reeds om 17:00 open. Toegang is gratis en so ook die Distell-wyne en die versnaperinge deur die Oude Libertas Restaurant. So, maak seker dat jy daar is; ontmoet, gesels, geniet, raak opgewonde, wees betrokke en stap sommer in ‘n groep oor na jul sitplekke in die Amfiteater. Bruisend. Opgewonde. Dankbaar. Dit is die fees wat iets baie besonders vier: die lieflike prestasie van ons digkuns.
Hoe dit ook al sy, maak net seker dat jy dáár is, want dié een wil jy nie mis nie … En, indien jy weens omstandighede nié teenwoordig kan wees nie: vertel iemand daarvan. Die senuwees is reeds ‘n siedende gedierte en daar is nog sewe slapies.
***
In die Brieweboks is daar vanoggend ‘n besonderse brief deur Zandra Bezuidenhout waarin sy vertel van haar besoek aan Brugge en ontmoeting met Christine D’haen verlede jaar. Inderdaad iets wat gelees móét word. Andries Bezuidenhout raak weer liries oor die mis by Swakopmund. Dan, ter aanvulling van die gesprek met Andries Visagie wat grootliks oor die stand van ons digkuns handel, het ek ‘n aantal beswymelinge oor bundelverkope en leespatrone kwytgeraak. Gaan lees gerus hier indien dié onderwerp jou interesseer.
En dan is dit vandag Carina Stander se verjaarsdag! Veels geluk, Carina … Mag die nuwe lewensjaar sommer heelwat vreugde en lôrriesvol gedigte en skilderye tot gevolg hê.
Ten slotte, danksy die vriendelike meewerking van Johann de Lange lê daar ‘n magdom vertalings wat vir plasing voorberei is. Maak dus seker dat jy later vandag – en beslis gedurende die naweek – na die webblad terugkeer om jou daaraan te verlustig. Dit is inderdaad pêrels wat hier gesnoer gaan word …
Nuuswekker hervat weer Maandag.
Mooi bly.
LE
Dis einlik onmoontlik om te praat oor die poësie … Vergewe my maar, ek weet nie wat ek doen nie … (En ek sal julle vergewe …)
Hierbo praat ek van gedigte wat van metrum gebruik maak en ander wat dit nie doen nie. Maar alle gedigte maak eintlik gebruik van metrum – dis net dat sommige dit doen op die tradisioneel herkenbare maniere, en ander weer dit doen op vreemde andersoortige wyses. (Ek praat uiteraard van gedigte wat suksesvolle gedigte is.) By Anne Carson is die metrum ‘n metrum van assosiasie, hoe daardie dinge opmekaar volg in die verbeelding. Dis heel “musikaal”, hoor! Maar “musikaal” in aanhalingstekens.
Jy praat oor Spaanse digkunste. Ek ken maar net die paar digters uit Spaans wat ek ken. Maar nou weet ek dat gerrit Komrij vier belangrike Portugese digters uit die eietydse gewrig in NJederlands vertaal het, en daaroor geskryf het in die tydskrif Tirade. Dit gaan terug na circa 2000. AL VIER daardie Portugese digters is “praatstyl”-digters. Een van daardie vier is Nuno Judice, wat al in Suid-Afrika gelees het by een van Antjie Krog se Spier-feeste.
Hallo Louis, dankie vir die geselsie, soos altyd so insugryk van jou kant af. Overgestsynde: jy maak opmerkings wat mens se sienings priem en verdere onderskeidings uitlok.
Ja, ek wil nie te veel nou op my eie werk konsentreer in my kommentaar nie, dis maar slegs gedeeltelik emblematies van enige iets wat hier ter sake is. Jy is reg dat daardie twee ander aspekte die belangrikste is by my werk – en by implikasie (dis wat belangrik is) by ander, soortgelyke werk. Maar ek dink die metriese aspek, hoewel dit ‘n agtergrondaspek is, is WEL onderskeidend. Dit beteken dat ons hier te doen het met ‘n soort digkuns wat van metrum gebruik maak. Daar is wel enkele vertakkings van die poësie wat NIE daarvan gebruik maak nie.
Laat ek weer my vinger prorbeer sit op wat ek sien as ‘n potensiele verwarring in di gesprek. Daar is in hierdie onlangse stroming in Afrikaanse poësie TWEE fasette wat ter sprake is: die verhalende faset, en die “praat-styl” faset. Hierdie is twee AFSONDERLIKE fasette. Verhalende gedigte gaan terug tot by Homeros. En snaaks genoeg, “praatverse” OOK. Die eerste “praatvers-digter was Pindarus! Gaan google hom, dis hoe hy beskryf word. Wat nou hier by ons ter sprake is, is die resente KOMBINASIE van “praat-ritme” met verhalend. Dis wat ter sake is, en wat nie voorheen hier by ons gebeur het nie. Afrikaans neem hierin die voortou. Die plaaslike Engelse poësie is, behalwe vir die respesie van Gabeba Baderoon en Denis Hirson, avers teenoor die kombinasie. Veral Hirson het ‘n paar skitterende “praat”/narratiewe verse in Gardening at night. Dit het die plaalike Engelse poësie vernuwe! En weet jy wat? Hulle moet dit nog agterkom!
SO my vraag is: praat ons van “praat-ritmes” of praat ons oor verhalende poësie?
Die tweede belangrike nuwe faset is dat die verhalende vers by osn nie slegs “gedock” het met losser ritmes nie, dit het gebeur binne die kader van die LIRIESE POëSIE. Oom Gert vertel is nie ‘n liriese gedig nie.
Wat is ‘n liriese gedig? Dis onder meer ‘n gedig waar die vorm en die uiting van die gedig – of dit nou gaan oor die persoonlike liefde en of dit gaan oor die relaas van ‘n geskiedkundige gebeurtenis – op rigtende wyse gemedieer word deur die ek van die vertelstem, of op ooglopende wyses deur die ware identiteit van die skrywende digter. Die strekking daarvan verskil fuindamenteel van die epiek, of ander verhalende vorme.
Sjoe, Charl-Pierre, hoe het die digkuns nie gevorder nie, nè?! Waarskynlik is jou opmerkings rondom metrum-kwessies (veral tov “Oom Gert vertel”) heeltemal korrek; self het ek dit nog nie só gesnap nie. Wat jou digkuns myns insiens egter van die meeste van ons ander stammelinge s’n onderskei, is die visualiteit daarvan en nié die metrum nie. (Jammer, ek weet hoe hard jy werk aan daardie “heffinge” en “dalinge” 🙂 En natuurlik die klank-gevoeligheid van jou verse. Myns insiens is dít dié twee goed (visualiteit & klank) wat jou verse bo die norm vir “praatverse” uitlig.
Terloops, in welke mate is jou kommentare hierbo op die Spaanse digkunste van toepassing? Ek het so spesmaas dat hulle waarskynlik tans die voorbeeld stel tov klankryke “prosaverse”.
Louis jy sê interessante dinge, maar uit jou bogenoemde stellings en ook in Andries Visagie se sieninge is daar veel waarmee ek verskil:
1) Die groot verskil wat ingetree het by my eie poësie met die tradisies wat dit in Afrikaans voorafgaan, is METRIES. Dis ‘n losser metrum. In hierdie opsig kan jy nie Leipoldt se “Oom Gert vertel” en my eie digbundel “In die geheim van die dag” saamgroepeer nie. Nog minder Danie Marais se werk, wat weer op sy beurt baie van myne verskil in soort, veral in Marais se wegbeweeg van bepaalde aspekte van metrum. Metrum is by hom dikwels die metrum van prosa, soos ook by Carver, waar by my eie werk die styg en val van lettergrepe se klemme van kardinale belang is vir die voorkoms sowel as die lees-aanbieding.
Oom Gert vertel se ritme is retories, dis NIE praat-ritme nie, hoewel dit ‘n praatsituasie SIMULEER. Die DAADWERKLIKE LOSSER RITMES in Afrikaans begin so langsamerhand by Barend Toerien (onder die onbetwisbare invloed van Europese digkuns waar die losser metra al geruime tyd aan die orde van die dag is), ook by jou eie werk (ook onder invloed van Europese poësie, dink ek), en ook by Breyten Breytenbach in sommige gedigte. In hierdie drie laasgenoemde digters het ons ‘n wegtrek van die sterk invloed van die mainstream Engelse en Nederlandse historiese tradisie, ook wat beref RETORIESE metra. Hoewel BB en jou eie en Barend s’n wel sterker retories is as myne. En onderling, natuurlik verskil julle OOK hemelsbreed.
2) Die losser ritmes beteken nie noodwendig meer toeganklie poësie nie, allermins! Dis wel by Danie Marais die geval, maar nie by my nie (maar pasop hier ook maar vir die versteekte paaseiers by Marais). Dis die losser metra wat Tomas Transtromer van Swede, of Czeslaw Milosz, opgelewer het. Milosz skryf trouens oor hierdie aspek in sy besinnende opstelle. Dit LYK wel toeganklik, maar dit is nie altyd nie. My eie gedigte, weet ek, kan ek sien hoe mense dit soms te vlak lees hier(in teenstelling met in Nederland, en boonop dan in vertaling daar!). (Waarom sou dit wees? DIE vraag moet benader word. )Trouens die “praat-agtige” style kan veel meer ellipties wees as die retoriese tradisie omdat dit konsentreer op verbeeldingselemente as binding, nie klank- of taalelemente nie.
3) Daar is, helaas, nie minder van ‘n taalspel by sommmige “praat-ritmes” as by die retoriese ritmes nie, maar die losser wewing maak bloot plek vir ‘n fokus op verbeeldingselemente. Dit is beslis waar van my eie soort werk. In die werk van ‘n meer prosa-agtige digter soos Danie Marais, of Anne Carson (wat selfs nie eers altyd met emjhambement werk nie), is daar veel minder van ‘n taal of metriese spel aanwesig, en kom ander modusse, soos die inkorporering van pop- en joernalistieke modusse, aan die bod.
O nee, Jinne. Oom Gert vertel my net mooi niks van Tomas Transtromer, Danie Marais, of Anne carson nie, en ek herken myself ook glad nie rondom die Oom se kombuistafel nie! Maar hy mag maar my koffiebeker veel voltap. Dankie, oom. Ons sal tog nerens wees sonder jou nie. Maar nou moet ek weer in die pad val, Oom. Totsiens. Vir ewig.
Terloops, dit bring ons maar net weer terug by die ou strydvraag: gee jy aan die lesers wat hulle wil hê, of wat hulle “nodig” het? En wie kwalifiseer om dié vraag te antwoord? Die uitgewer wat eerder ten gunste van “beter verkope” gaan besluit? Lê die dinamiese groeipotensiaal van ‘n taal as uitdrukkingsmiddel nie dalk júís op die pad van sy hermetiese poësie nie? Ons sal jaloers moet waak oor die verskeidenheid van ons digkuns, Charl-Pierre. Niemand anders gaan dit doen nie; veral nie binne ‘n “consumer society”-raamwerk nie.
Inderdaad so, Charl-Pierre. Behalwe dat ek van mening is dat die sogenaamde “praat-/anekdotiese-/verhalende vers” waarskynlik van ons oudste digvorme is? Dink byvoorbaald aan Leipoldt se “oom Gert vertel” as ‘n vroeë hoogtepunt en dan selfs nog vroeë FW Reits se “Klaas Geswind en syn perd” en nog vele ander voorbeeld. Marais se “Winternag” word immers allerweë voorgehou as ons digkuns se eerste “liriese” prestasie. Vanweë die enorme impak van ons vernaamste “liriese” digters het die sg. “praatvers” egter myns insiens nooit die erkenning gekry wat dit verdien (het) nie. (Is dit dalk die rede vir Barend Toerien se “miskenning”, byvoorbeeld?) Nietemin, wat waarskynlik wél “nuut” is, is die kritiese besinning oor dié digstyl tans in navolging van die prominensie wat dit in ander digkunste geniet. Die vraag is egter hoekom dan nou? Myns insiens 3 redes: (1) Ons beskik tans oor goeie digters wat dié digstyl bedryf, (2) daar is toenemend oproepe vir meer toeganklike poësie, aangesien (3) die meeste lesers tans waarskynlik meer bedrewe prosa-lesers is as poësie-lesers. Soos wat dit ook maar wêreld-wyd die geval is. Miskien met die uitsondering van die Duitse -, Nederlandse (deels), Oosterse- (veral Chinese)en Ierse digkunste? Die Franse-, Britse- en Amerikaanse digkunste het myns insiens lankal versand; alhoewel daar in die VSA tans wel weer ‘n beweging aan die gang is wat probeer om dié twee groeperinge, as synde hermetiese prosaverse, te versoen. Ron Silliman word as hul kommandant voorgehou en ek beoog hoeka om later vandeesweek ‘n Nuuswekker oor hom te pleeg. Vir wat dit werd is … 🙂
Louis, dis besonder tydig dat jy weer jou inskrywing oor McClatchy se boek van wêreldpoësie plaas.
Dankie sommer vir jou interssante onderhoud met Andries Visagie.
Ek het dit al meermale geskryf, in ‘n onderhoud in die poësietydskrif New Coin, en ook op ander plekke, dat die Inleiding van McClatchy se bloemlesing die beste problematisering bevat van bepaalde skismas wat nou eers aan die bod kom in die Afrikaanse poësie.
Hier dink ek veral aan die skisma “tradisionele soort poësie” (geweldig oorvereenvoudigend die term ek weet”) en sogenaamde “praatpoësie” (nie minder oorvereenvoudigend, bygesê). Dit sal beter wees om van “losser strukture” te praat (let wel NIE slapper strukture noodwendig nie, dikwels juis meer subtiel en dus meer kompleks JUIS WEENS die groter losheid.)
McClatchy se Inleiding bespreek uitmuntend aan die hand van twee pole die poësie van die wereld. En in niks minder as die volgende blyk die kleinheid van die Afrikaanse wêreld die opvallendste: dat van HIERDIE onderskeidings NOU eers hier by ons tuiskom.
Ja, gaan lees maar McClatchy.