
Nou ja, toe. Waaroor kan my weeklikse Nuuswekker oor boeke vanoggend anders handel as oor die Versindaba, wat vandag begin, se geleentheidsbundel? Dit is immers die Versindaba se uitgespelde doelwit om die Afrikaanse digkuns te reflekteer soos dit tans daaruit sien. Dit was die oogmerk in 2005 toe die eerste fees plaasgevind het, en vyf jaar later is dit steeds die primêre fokus. Ook van hierdie webblad. Daarom dat daar probeer word om uitsluitlik digters wat tans aktief betrokke is by poësie-produksie te betrek ten opsigte van fees én webblad. Een van die vernaamste voortvloeisels uit dié ingesteldheid is beslis die bloemlesing van deelnemende digters wat elke jaar ter ondersteuning van die fees verskyn, want dié publikasie is veel meer as ‘n memento van ‘n besonderse geleentheid: dit is inderwaarheid ‘n momentopname en as sulks enig in sy soort.
Vanjaar se bloemlesing, wat weer deur Marlise Joubert saamgestel en deur Protea Boekhuis uitgegee is, is geen uitsondering nie. Nicol Stassen, hoofdirekteur van Protea Boekhuis, stel dit soos volg in sy inleiding: “’n Mens word in die besonder getref deur die diversiteit van Afrikaanse poësie. Dit wil ook voorkom of die verskeidenheid daarvan (beide in temas en tegnieke) oor die afgelope vyf jaar selfs toegeneem het. Die diversiteit van die Afrikaanse poësie is noodsaaklik vir die voortbestaan daarvan.” En dít, Liewe Leser, is die groot waarde van dié publikasie. As toonbeeld van die resente diversiteit van ons digkuns het dit haas geen gelyke in ons letterkunde nie en bly dit iets van enorme waarde.
En blaai ‘n mens deur die vorige bundels, tref twee dinge ‘n mens soos ‘n vuishou tussen die oë: die groot aantal jonger, “ontluikende” digters wat by tye van hul eerste optredes maar pas gepubliseer het (of nog nie) en hoe vinnig hulle opgang in ons digkuns was: Loftus Marais, Danie Marais, Ronelda S. Kamfer, Carina Stander en Gilbert Gibson. Niemand kan vandag ontken dat dié digters onder ons vernaamste digters gereken kan word nie. Aan die hartseerkant is daar ook dié toegewyde en gereelde staatmakers wat ons die afgelope vyf jaar ontval het: Ronnie Belcher, Jan de Bruyn, George Weideman, Barend Toerien, IL de Villiers … Ai, hoe goed onthou ‘n mens nie nog húlle optredes nie.
Daarom, skaf vanjaar se bloemlesing aan, want dit is sowel moment- as bestekopname, ‘n kleinood om aan vas te hou; nie net bevat dit jou digters van vandag nie, maar ook van môre. En gister.
As lusmaker plaas ek vanoggend ‘n gedig deur Jasper van Zyl wat vroeër vandeesweek verjaar het. Sy debuutbundel verskyn vroeg volgende jaar.
***
Op die webblad moet jy beslis ‘n draai maak by Yves T’Sjoen se blogruimte. Hy het naamlik ‘n nuwe stuk oor Willy Roggeman geplaas.
En dan, uiteindelik, het al die slapies opgeraak – dis Versindaba-tyd!!! Maar onthou, die fees begin al om 17:00 met die opening van die kunsuitstalling by Oude Libertas. En hierdie uitstalling, met bykans veertig kunswerke deur digter-skilders, is inderdaad ‘n unieke gebeurtenis en met Johan Myburg as kurator is jy verseker van ‘n stylvolle en indrukwekkende eindproduk. So, kom vroeg, geniet wat daar is om te geniet en stap dan sommer oor na die Amfiteater waar David Kramer om 19:05 die eerste akkoorde van die fees gaan slaan terwyl die son gaandeweg greep verloor op die berge rondom Stellenbosch, want vanaand en die hele dag môre, vier ons fees!
Hierdie naweek is dit immers die digkuns se beurt om skaamteloos te staan en pronk.
En ons hoop om jou daar te sien.
Mooi bly.
LE
melée
die nuwe meisie in die skool vertel
dat sy saans, wanneer sy bad,
die water met haar hande roer.
sy verbeel haar dan dat seerowerskepe
in die storms om haar bene vaar,
op soek na ‘n skat wat daar laat val is.
soms, as die druppels van haar arms rol,
is dit reën wat die bemanning teister,
maar die volgende aand is hulle terug.
die meisie met die atlantiese oë
leer my rook agter die engelsklas
en ek wonder hoeveel bloed
sy in haar are het, in haar saggeweekte hande
met die stadige voue, skatkaarte op haar palms
(c) Jasper van Zyl (Uit: Versindaba 2009)