
Volgens De Papieren Man bevind die 66-jarige Italiaanse skrywer Antionnio Tabucchi hom tans in ‘n hele gemors na aanleiding van ‘n artikel wat hy verlede jaar in die koerant L’Unita gepubliseer het. In dié artikel het Tabucchi teen Renato Schifani, voorsitter van premier Berlusconi se Senaat, uitgevaar en sy sakebedrywighede as “twijfelachtige” beskryf en verwys na die “maffieuse contacten” daarvan. Schifani het nou naamlik ‘n astronomiese eis teen Tabucchi ingestel ten bedrae van 1.3 miljoen euro.
‘n Dertigtal intellektuele en skrywers het egter tot die stryd toegetree ten gunste van Tabucchi, wat as een van Italië se vernaamste skrywers tans gereken word. Onder dié groep is daar vooraanstaande skrywers soos Orhan Pamuk en Philip Roth.
Die veelbekroonde Tabucchi is allerweë bekend as romanskrywer en ook vir sy vertalings van die Portugese digter Fernando Pessoa se werk. Lees gerus die volledige berig (in Frans) hier op Le Monde se webblad.
***
Op die webblad is daar sommer heelwat nuwe plasings vanoggend. So kan jy hier en hier kyk na foto’s van die pasafgelope Versindaba en hier na foto’s van die uitstalling deur digters wat skilder. Lees gerus ook Zandra Bezuidenhout se commendatio tydens die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys. Aan die blogkant van sake vier Andries Bezuidenhout sy terugkeer uit die buiteland met ‘n inskrywing oor ‘n amperse internasionale insident op Frankfurt terwyl Ilse van Staden besin oor die belangrikheid van die woorde by skilderye.
Graag vestig ek ook jou aandag op Louise Viljoen se skitterende artikel oor Afrikaanse digters wat in gesprek is met Breyten Breytenbach as digter. Dié artikel staan hier op LitNet. Ook Riet de Jong-Goossens se artikel oor vertaling en die probleme wat daarmee gepaardgaan, is die lees werd.
Ten slotte, ‘n aanhaling: “Poetry is what in a poem makes you laugh, cry, prickle, be silent, makes your toenails twinkle, makes you want to do this or that or nothing, makes you know that you are alone in the unknown world, that your bliss and suffering is forever shared and forever all your own.” Dit is iets wat Dylan Thomas gesê het en ook die aanhaling waarmee ons vanjaar se Versindaba afgesluit het.
Nou ja, toe. Laat dit ‘n toonkruldag wees vir jou.
Mooi bly.
LE