My 10 hoogtepunte by Versindaba 2009

  1. Antjie Krog se voorlesing van haar vers “Die laning”. Poësie met ‘n hoofletter-P; liefliker as dít kry jy nie maklik nie.
  2. Luna Paige wat Sappho-verse in Afrikaans sing. “Bitterlemoene” is glo ‘n samestelling wat die eerste keer deur Sappho gebruik is. Dié digteres van Lesbos se Afrikaans was weliswaar uitstekend. 😉 Nietemin, die stem wat uit daai Luna-lyfie kom, is groot genoeg om eilande stroom-af te laat koers kies.
  3. Krog se lesing, “Hoe ek ontnugter is tot die poësie”.
  4. Danie Marais se voorlesing en Diek Grobler se animasiefilms. Marais se poësie kom volkome tot sy reg binne dié soort aanbieding.
  5. Nic de Jager en Antoinette Kellerman se voorlesing van verskeie verse. Subliem!
  6. Die skilderasies van heelparty digters wat uitgestal was. Ek het so lekker gelag vir party van dié werke, amper soos Casper de Vries se Oom Kalamari wat geskater het oor die diens wat hy van sy bank kry – Vokskas.
  7. Om vir Bernard Odendaal en vir Cas Vos raak te loop, was ‘n groot plesier. Twee jintelmanne met hartlike handdrukke.
  8. Laurinda Hofmeyr met haar Breytenbach-program. Met Schalk Joubert en die dromspeler (wat is sy naam nou weer, Louis?) word mens se stoel van die Oude Libertas amfiteater se vloer ontheg sodat jy jouself oomblikke later tussen sterre bevind.
  9. Joan Hambidge se “bok op linoleum”-verwysing tydens haar lesing oor die Tagtiger-digters. Hehehehehe.
  10. My eerste ontmoeting met ‘n Facebook-vriendin van Bloemfontein, Nandi Venter. Nandi en haar vriendinne het saam met haar loods-broer wolke en lugleegtes in ‘n ligte vliegtuig aangedurf om Versindaba by te woon. Sy sê SANLAM was ‘n trotse borg van ‘n GLAAD-geleentheid in Bloem (Sy is betrokke by dié organisasie). 
Bookmark and Share

4 Kommentare op “My 10 hoogtepunte by Versindaba 2009”

  1. Louis :

    Dankie hiervoor, Melt. Dis altyd lekker om te verneem watter items vir iemand spesiaal was. Nietemin, die dromspeler is Gavin Gibson. (Blykbaar geen familie van onse Gilbert nie.) Maar briljant was hy inderdaad.

  2. Andries Bezuidenhout :

    Melt, ek rol vir jou as jy vir my skilderye lag.
    A

  3. melt :

    Andries, jy moes my hoor lag toe Johan Myburg jou portret van Loftus Marais aan my wou afsmeer! hahahahahahahahahaha.

  4. Nandi Venter :

    Ai Melt, ja, deur berge en in dale, net om Versindaba by te kon woon. Wat ‘n inspirasie! Dit was heerlik gewees! Luna is fantasties. Krog het my na aan trane gehad, Hambidge het my laat giggel in my mou toe die aircon af was en sy vir my gevra het “kry jy ook warm of is ek net menopousaal”. Ek sien uit na volgende jaar!

  •