Antjie Krog
(‘n Pleidooi met vrye vertalings van gedigte uit Nederlands, Duits en Zulu, gelewer tydens Versindaba 2009)

Ek neem die volle wapenrusting van die gedig op, sodat ek staande kan bly teen die liste van vervlakking en dwaasheid in hierdie dae van weeklagery en onheil.
Ek staan dan vas, my lendene met metrum omgord, met die borswapen van beeldspraak. En as skoene aan my voete die bereidheid van die versreël met sy grenskuiwende enjambement. Behalwe dit alles neem ek die skild van gefokuswees op waarmee ek al die vurige pyle van die te-lui-om-te-dinkers sal kan blus. Ek laat sak die helm van klank oor my kop en neem in my regterhand die swaard van die metafoor.
(lucebert)
ek trag op poëtiese wyse
dit wil sê
eenvoud se verligte waters
die ruimte van die volledige lewe
tot uitdrukking te bring
was ek geen mens gewees nie
soos baie ander mense
dan was ek wat ek was
klippe of vloeibare engel
geboorte en ontbinding het my dan nie aangeraak nie
of die weg van verlatenheid na gemeenskap
die klippe klippe diere diere voëls voëls pad
sou nie so bevuil gewees het
soos hulle nou in my gedigte is nie
die momentopname van die pad
in hierdie tyd het wat mense altyd genoem het
skoonheid skoonheid het haar gesig verbrand
sy troos nie meer die mense
sy troos die larwes die reptiele die rotte
maar die mens verskrik sy
en tref hom met die besef
‘n broodkrummel te wees op die rok van die universum
nie meer alleen die kwade
of die doodsteek maak ons opstandig of deemoedig nie
maar ook die goeie
die omarming laat ons wanhopig aan die ruimte
morrel
ek het daarom die taal
in haar skoonheid opgesoek
hoor daar dat sy niks meer mensliks het
as die spraakgebreke van die skadu
as die van die oorverdowende sonlig
Hoe meer ‘n mens daaroor dink, hoe minder kan jy jou ‘n vyand van die poësie voorstel. Valse vriende ja, verraaiers, misbruikers, uitbuiters miskien, maar iemand wat poësie aanval as ‘n vyand wat uit die weg geruim moet word? Om ‘n saak uit te maak vir poësie, is soos om my ruggraat te verdedig, dink ek, maar ouderdom is besig om my ruggraat aan te val; dis soos om suurstof te verdedig, dink ek, maar besoedeling is besig om suurstof aan te val. Dit is soos om ‘n Godheid te verdedig, maar nouja, alle godhede het fanatiese vyande. Dus is poësie daardie unieke entiteit, op ‘n bepaalde manier selfs unieker as die persepsie van God. Omdat niemand haar kan meet of bepaal nie, kan niemand ‘n slagorde teen haar opstel nie. Ideoloë vryf hulle hande, politici lek hulle lippe, sentimentaliste oefen hulle traankliere, maar voordat jy kan sê rymelary, het poësie haar hieruit losgewriemel en skud sy haar hare vry in die wind.
(C.T. Msimang)
ek sal opstaan met die Môrester
en ‘n liefdesdrank meng
ek sal katdoring en palmwyn inroer
totdat jy vir my ja sê
ek sal uitgaan as die son sy eerste blink blink
wanneer die dag die dou breek
en ek sien hoe jy uitgelei word
deur die geur van die oggend
ek sal vir jou wag by die fontein
en vir jou wag en wag en aanhou wag, ek sal op jou wag
jou siel sal ek sien
as dit verrys saam met die digte oggendmis
wanneer die seekoeie kom lê
my hoop sal saam daarmee rys
as ek sien dat jy die bierpot dra
donker en rond
op die sierlike ronding van jou kop
die rondings van jou wenkbroue
laat my duisel
sodat ek jou aanhou pla
jou aanhou pla totdat jy my van jou water laat drink
geduldig sal ek die bult op loop
sorgvuldig die skuinste uit sny
en met my zuluviool die tradisionele lied van verwagting sing
langs die berge loop ek en sing
die berge bring my dig by jou
my lied hoor jy in die tydelike skuiling langs die tuine waar jy werk
dit hamer teen jou bors
maak oop sodat ek kan ingaan
jy wat bokant die wolke is
my siel sal uitbars in bloeisels
my siel sal vlerke groei soos ‘n arend
sodat ek vinnig oor die uitspansel wiek
sodat ek die golwe van die wind sny
my siel sal ek span soos vlot
jy wat my lewe is
laat my van jou water drink
Poësie gebruik die prag van taalspanning om iets te sê. Poësie gebruik estetika as etiese bril. Hoe skerper en skoner die estetiese lens, hoe skerper en skoner die lem. En omdat poësie inhoud en medium so intiem omvat, lê die vertwyfeling oor wat presies die betekenis van poësie in jou lewe is of behoort te wees, ook dikwels in jouself. Soms staan jy op die kruispad: jou verweefdheid met poësie word deursny met jou geweefdheid as mens binne taal en tyd. Soms kan jy gewoon induik, soms is daar ‘n tyd wat aandring dat jy nie langer vanuit die integriteit van die stamelende voornaam ‘ek’ kan praat nie, maar die ‘ons’ moet word van die gemarginaliseerdes.
(Hugo Claus)
Ek sou vir jou ‘n lied in die landskap van woede wil sing
Livia, wat jou sou indring, jou bereik deur al nege jou openinge
Blond en rekbaar, en hard
Dit sou ‘n vrugteboordlied wees en ‘n gesing van die vlakte
‘n eenmanskoor van skande
Asof my stembande my losbind, ontspring en jou roep
Asof
In die landskap wat my verneder, in die verblyf wat my skaad
(waarin ek op vier voete dwaal) ons nie meer ongelyk verskyn
En ons stemme sluit nie.
Nader my wat nie te naby is nie
Wees nie vreemd vir my soos die aarde nie
Vlug nie vir my nie (al die mankes)
Ontmoet my, voel my
Plooi, breek, breek
Ons is die weerwind, die reën van dae
Sê my wolkloos
Vloei oop woordeloos, word water
Ag die lig is koud en druk sy horingrige hande
In ons gesig wat haper en op en oopvou
Ek sou ‘n vrugteboordlied wou sing Livia
Maar die nag word voleind en gevul
My vlakte steeds digterend aan die dig – jou bereik kan ek
Maar nooit onvervuld nie
Want die keel van die manlike herte groei tot by die daeraad.
In Wes-Afrika ontmoet ek ‘n digter uit die Saharah. ‘n Berber. Hy dra sy gedigte voor en dis asof jy die geluide van wind en kamele daarin kan hoor. In my kultuur, sê ek, word ‘n digter gemeet aan hoe nuut hy dinge kan sê. In my kultuur sê die Berber word ‘n digter gemeet aan hoe jy dinge kan bewaar. Poësie is ons liriese siel, jy leer wie jy is en waar jy vandaan kom uit ons oral poësie. En jy mag dit nie verander nie want dan verskeur jy die geskiedenis van die siel.
Dit is aand op die rand van die woestyn. Die hoof van Tuareg gemeenskap druk sy vuis tussen die swaar plompe sterre in en roep uit oor die mikrofoon:
‘Selfs al breek hulle my pen, my woorde vat vlam;
selfs al vernietig hulle my perde en kamele,
my tande hang van hulle gewrigte.
Selfs al roof hulle my laaste asem, skroei ek in hulle nek.
Ek is die rewolusie.
Die woestyn maak my vry.
Die Egiptiese digter sê:
Jy slaap in die tent, nie ‘n enkele roos nie, maar jou geopende hart
en sy beloftes.
Ek buig oor om jou toe te maak met geur
en vind hom daar tussen ons met sy swart tulband.
Hy deel ons kussing. Ek sien hom op die rand van ons slaapmat.
Hy het tone.’
Hier veg jy nie vir poësie nie. Hier veg poësie saam met jou. Hier help die oeroue onverwoesbaarheid van poësie jou om te oorleef in plekke waar water, honger en ‘n gewelddadige dood die grootste vyande is. Hier kom lê ‘n gedig soos die skoon snit van ‘n duin in jou keel. Jy kan nêrens so diep asemhaal as in ‘n gedig nie.
Ek dink nie, ek sing. Ek is die digter van stilte,
Ek slenter met die woord saam. Ek is die swerwer van die woord.
Ek swendel met die stilte van woorde want ek leef daarin.
Dit is my tent en my watergat. Ek hoort in die woord.’
Bambara: ‘Poësie het altyd te make met lig.
Poësie gloei vanuit die binnekant.
Poësie is die ritueel om klank oor lig te span.
Sodat jy geopend kan leef.
Sodat jou siel sigbaar geskrynwerk word
Anders as Amerika, of God, of Islam, benodig poësie nie dat mense vir haar veg nie. In daardie opsig is poësie magtiger as God omdat sy niemand benodig om haar te verdedig nie. Sy verwag nie dat iemand haar blindelings dien nie. Dié wat haar liefhet doen so uit eie lyf en onmiddellik maak sy jou vry.
Poësie is die groot Ongekontamineerde. Dit is seëvierend anderkant oppermagtig omdat dit die mens in ‘n verhoogde staat van bewussyn plaas altyd met verhelderende gevolge. Dis asof jy vir ‘n moment deur ‘n spieël tot ‘n raaisel breek. Asof jy op die drumpel van asem staan. Asof jy suurstof uit koel bome kry en skielik vorentoe gaan. Dis waarom digters skryf, om te kan lewe. Dis waarom lesers lees, om te kan lewe. Verhelderend. Om iets van die sterflike lewe te ontruk. En daar is niks magtigs genoeg wat poësie hiervan kan beroof nie.
(NP Van Wyk Louw)
Kom, aand. Kom, nag. Dan is ek weer alleen.
Ek eers in jou, my half-silwer aand:
half van die wereld, ek, en half van jou;
iets soos April: lente en hongerig, want
ervaring van oop-maak, van die groot-
en blinker-word in die kastanjeboom,
en half nog: trug-van-hunkering,
in Desember en die donker en die sneeu.
En dan: my nag, my nag: vervulling
volmaakter as die wereld wat ek weet:
kinderlose, vreugdelose en ondroewige
getyelose maat van my, my nag.
Mense kan stry oor of poësie relevant of persoonlik moet wees, of praisepoetry, rap en poetry-slam werklik poësie is. Daar is digters wie se werk geweldig gewild was, selfs die Nobel prys gekry het maar kort na hulle dood vergete is, daar is ander wat onbekend in hulle leeftyd was, maar wie se werk ewig bekend sal wees. Daar is aangrypende werk wat in ander tale gedoen word, daar is gedigte wat vir vyf minute iemand in die allergrootste nood of verdriet gehelp het, daar is lang indrukwekkende gedigte wat deur niemand gelees word nie, daar is gedigte wat net deur musiek onthou word, daar is geskiedenisse wat net in gedigte bewaar gebly het, daar is gedigte wat onder orale tonge of in lessenaar-laaie lê en nooit gepubliseer gaan word nie maar gesorg het dat die vingers om die digter se keel hulle greep vir ‘n moment verslap het. Hieroor kan ‘n mens debateer en wonder, maar die suurstofgewende eienskap van poësie kan nooit van haar weg geneem word nie. Want poësie is fundamenteel ‘n selfverhelderende vindingrykheid, iets wat met louter vreugde taal gebruik om iets onbegrypliks van die wêreld vas te vang.
Poësie verwissel nog altyd triomfantlik van gedaante na gelang van getye, modes en node, maar sy is onvernietigbaar. Lank nadat ek en u verby gegaan het, lank nadat die beskawings en tale waaraan ons deel was tot niet gegaan het, sal poësie voortgaan. Want die woord wat in die begin was, was natuurlik die skeppende woord, die woord van oorlewing.
Poësie is die eerste aankondiger dat ‘n kreoolse mengsel ‘n waaragtige taal aan’t word is. Mens sou dus kon aflei dat indien die digkuns verdwyn in ‘n taal, dan sterf daardie taal. ‘n Mens is dus bly vir elke gedig in Afrikaans, maar moet ook waak om ‘n tuisnywerheid letterkunde te kweek waar anything goes terwyl die ou bekende weer eens opgedis word maar nou met kitsmagarine en foproom. ‘n Taal moet ‘n slagaar hê en poësie moet kan skreeu uit haar gut.
(Paul Celan)
Naby is ons, Here
naby en grypbaar.
Reeds gegryp Here
inmekaar in verklou, asof
elk van ons liggame
jou liggaam is, Here
Bid Here
Bid tot ons
Ons is naby
Windskeef slinger ons vorentoe
slinger ons vorentoe, ons buk
oor krater en massagraf
Om te drink gaan ons Here
Daar was bloed, dit is
wat jy gegiet het, Here
Dit glans.
So groei jou beeld in ons oë, Here.
Oë en mond staan so oop en leeg Heer.
Ons het gedrink, Heer
Die bloed en die beeld wat in die bloed was, Heer.
Bid Here
ons is naby
(Paul Celan)
Tel die amandels
tel, wat bitter was en jou wakkerhou
tel my daarby
Ek soek jou oog, toe jy uitgekyk het en niemand jou oog gesien het nie
ek span die geheime garing
wat jy verbind het met die dou toe dit waaraan jy gedink het
teruggeglip het in die kruike
vergesel van spraak wat niemand se hart kon aantref nie
Eers daar tree jy die naam binne wat jy is
met vaste tred stap jy na jouself toe
swaai jy die hamer vry in die kloktoring van stiltes
styg die afgeluisterde na jou toe op
daar lê die dode nou sy arm ook om jou
en julle drie stap deur die aand
Maak my bitter, tel my
Tel my saam met die amandels
(C) Antjie Krog