Die fees afgerond met … Pushkin!

Deur: Johannes Prins

 

Johannes Prins ontspan 'n bietjie in sy gastehuis

Johannes Prins ontspan

Ek dink ons mis soms poësie omdat ons te besig is om oor poësie te praat.
Hiermee sê ek natuurlik nie dat ons nie oor poësie moet praat of besin nie, maar dat ons binneoor dalk meer ontvanklik moet wees.
Dié idee het oor die naweek by die Versindaba in my kop kom sit.
Dit was eintlik ná die Versindaba toe ons by die gastehuis soos ‘n spul rawe op ons gasvrou se heerlike lasagna toegesak het.
In Stellenbosch sukkel ek dikwels om uit my kop te kom. Elke straat en leivoor het te veel herinneringe. Dis beslis ‘n draak wat ek nog moet aanvat.
Juis met een van dié drake doenig, sit ek aan tafel met Nicol Stassen regs van my. Ons eet nóg lasagna.
En drink nóg wyn.
Agter Nicol het Charl-Pierre en Johan Myburg hulle op kussings neergevly en Charl en Louis is aan’t praat. Eers oor Paul Celan en Antjie se vertalings en later iets anders (jammer, maar ek het nie verder geluister nie).
Agter my het Marlise stil gesit. Waarskynlik aan’t herstel na die malligheid van die laaste paar dae.
En toe in ‘n moeilike Engelse aksent vra ‘n fisikus van die Oekraïne wat links aan die tafel sy aandete sit en eet: “Wat doen julle op Stellenbosch?”
Toe ek vir hom sê ons is Afrikaanse digters wat aan ‘n fees deelneem wil hy onmiddellik weet “hoe klink Afrikaanse poësie” en of ek vir hom sal voorlees?
Ek het twee random verse vir hom gelees en hy’t sy kop gekantel om mooi na die ritme te luister.
Hy’t sy oor na aan die papier gehou.
Toe gesê “ek hou daarvan” en “daar’s baie g’s wat ek hoor?”.
Toe spring hy op en gaan haal ‘n vers van Pushkin wat hy met die hand op ‘n stuk papier oorgeskryf het. Hy dra dit op reise saam in die binnesak van sy baadjie.
Ek dink onmiddellik: ‘n fisikus wat ‘n vers van Pushkin saamdra? Wow!
En toe begin hy lees. En lees. En lees. En die Russies spoel oor my.
Ek sit verwonderd: hoe kom dit dat die Russe my dikwels raaklees & raakdrink in dié Bolandse dorp?
Vroeër op Stellenbosch was dit Johann Johl se Roulet wat my tyd in beslag geneem het en heelwat kuiers met Russiese studente.
Op pad lughawe toe dink ek so half met ‘n glimlag: op dié Afrikaanse versfees was ‘n Russiese voorlesing amper vir my die mooiste.
Maar net amper.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •