Andries Bezuidenhout. Hul laaste dae in Johannesburg, skets 5c

1
Hy sit gister in ʼn vergadering met Suid-Koreaanse vakbondamptenare. Hy verduidelik hoe COSATU van Thabo Mbeki ontslae geraak het, deur by die ANC se takke aan te sluit en hul eie kandidaat in te stem. Hy verduidelik COSATU se posisie oor Mbeki se makro-ekonomiese beleid, hoe honderde duisende werksgeleenthede in die vervaardigingsektor daarmee heen is. Ook hoe hulle alliansies met ander groeperinge moes sluit om Mbeki uit te skop, mense wat nie noodwendig hul sienings deel nie. Hy vertel oor die teorie van die National Democratic Revolution, oor hoe daar nog altyd spanning tussen nasionaliste en sosialiste in die ANC was. Ook oor die feit dat Jacob Zuma se ondersteuners eerder ʼn alliansie teen iemand is, as wat dit ʼn alliansie vir iets is. COSATU hoop vir ʼn skuif links, na ʼn meer pragmatiese makro-ekonomiese beleid, ʼn monitêre beleid wat ons fabrieke weer mededingend sal maak. Ebrahim Patel en Rob Davies, onderskeidelik Ministers van Ekonomiese Beplanning en Handel en Nywerheid ondersteun hulle. Trevor Manuel is hul teenstander. Die vraag is wat Pravin Gordhan en Gill Marcus, Minister van Finansies en die baas van die Reserwebank gaan doen. Die feit dat COSATU ʼn beleidskwessie verpersoonlik, deur Trevor Manuel persoonlik aan te val, vervreem hulle van die ANC. As hulle nie versigtig is nie, gaan Ebrahim Patel word soos Jay Naidoo destyds was, wat nie eers van die nuwe makro-ekonomiese beleid bewus was toe dit aangekondig is nie. Ensovoorts…

2
Kom vlug met my uit hierdie bedreigde stad waar die heersers hul ondergang afwag, terwyl die inwoners dit lankal reeds ontruim het. Ons sal vir ons ‘n pad vind tussen die bouvalle en die ontreddering waarin daar geen landmerke oorgebly het om ons rigting te gee nie, waar die strate uitgewis is, die pleine gevul met puin, die brûe gebreek. Die leërs het hulle teruggetrek, die laaste sluipskutters het hul stellings verlaat, die gedreun van die lug het stil geword …
– Karel Schoeman, Afskeid en vertrek

3
Hy weet nie wat die Koreane hiervan maak nie, maar dit lyk of hulle verstaan. Hulle was ook ʼn kolonie, van Japan. En dan is daar die Noord-Suid-kwessie wat ook soos ʼn San Andreasfout deur die left loop.

4
Na die tyd gaan laai hy ʼn Suid-Afrikaanse vakbondamptenaar, wat die vergadering bygewoon het, af. ʼn Metropolisieman keer hulle voor. Sy kar se lisensie het verval. Die polisieman gaan tekere, maar maak nie aanstaltes om ʼn kaartjie uit te skryf nie. Die vakbondamptenaar praat met die metropolisieman, sê vir watter vakbond sy werk. “Gee vir hom iets,” sê sy. “Nee,” sê hy, “hy moet ʼn kaartjie uitskryf.” Verdere onderhandelings. “Hy’s ʼn comrade,” sê sy. Die polisieman gaan praat met nog ʼn offisier. Hulle laat hulle gaan.

5
Tog interessant, die toenemende openbare rol wat Afrikaanse digters speel. Daar is die brief-inisiatief na Chris Louw se selfmoord wat deur Breyten Breytenbach begin is. Tim du Plessis haal vanoggend vir Antjie Krog aan in ʼn argument vir ʼn ander benadering.

5
Hy dink aan die Kanadese film “Barbarian Invasions” – spesifiek die tonele oor die rol van die vakbond in die hospitaal.

6
Bron: Karel Schoeman. Afskeid en vertrek (Human & Rousseau, 1990).

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •