Na ‘n week van omswerwinge is ons weer terug uit die land van melk en heuning, letterlik bedoel. (Ons het ten minste 12 plekname met “melk” daarin getel en 8 met “heuning”!) Nietemin, Nuuswekker behoort darem hierdie week weer hopelik met groter reëlmaat te verskyn …
Vanoggend, synde twaalf dae voor Kersfees, fokus ek jou aandag op Carol Ann Duffy, die Britse poet laureate, se kersfeesvers wat verlede week in die Britse media verskyn het. Maar helaas, vreugdevure en kersboomliggies is nou nie juis vir dié poging aangesteek nie, aangesien die gedig, wat sy op die voorbeeld van die bekende “The twelve days of Christmas” geskryf het, volgens die meeste kommentators bra neerdrukkend en strydig met die gees van die feesgety is.
The Telegraph het byvoorbeeld soos volg gereageer: “Tear down the tinsel, chop up the tree and throw the King’s College Choir out on its ear! Carol Ann Duffy, our Poet Laureate has spoken, and Christmas is officially cancelled, sunk without trace in a quagmire of gloom. Duffy’s Yuletide offering is called The Twelve Days of Christmas, but it could perhaps be subtitled Kick Away The Chair And Let Me Swing, so bleak are her pronouncements on the war in Afghanistan, climate change, corrupt MPs and the parlous state of modern Britain.”
Judith Palmer, direkteur van die Poetry Society, het darem die volgende fluistering ter regverdiging van Duffy kwytgeraak: “I don’t think it’s one of Carol Ann’s best poems. She’s actually a very funny person, with a fantastic sense of humour, and I think in the months and years to come the public will discover what a versatile poet she is.”
Nou ja, toe. Myns insiens weier Carol Ann Duffy gewoon om afstand te doen van die voorneme wat sy uitgespreek het met haar aanstelling as volksdigter: “I will write what needs to be written. I wouldn’t write a poem if it felt forced. But if something occurred at a public or political moment, and it genuinely felt truthful to me, then I would do it.”
En ja, uiteraard geld dit ook vir die jubilasies van ‘n aangewakkerde feesgety. Vir jou leesplesier plaas ek die eerste strofe uit dié gedig hieronder. Die volledige vers kan gelees word op Radio Times se webblad.
***
Dan is dit ook pas bekend gemaak dat Alfred Schaffer se nuutste bundel, Kooi, met die Jan Campert-prys vir poësie bekroon is. Die prysgeld beloop 5,000 euro en sal op 6 Maart volgende jaar tydens ‘n spesiale fees in Den Haag oorhandig word. Meer inligting (asook skakels) sal later vandag op die tuisblad beskikbaar wees. Veels geluk, Alfred – dit is inderdaad ‘n enorme prestasie en ons is saam met jou verheug daaroor!
***
Op ons webblad het daar sedert my laaste Nuuswekker sommer baie nuwe materiaal bygekom wat jy (hopelik) alles reeds gelees het. Maar, ter wille van volledigheid, daar is die volgende: De Contrabas se nuutste Nuusbrief, Willem Fransman se huldeblyk aan Peter Snyders wat vroeër vanjaar 70 geword het, plus nuwe blogs deur Andries Bezuidenhout, Johann Lodewyk Marais, Melt Myburgh en Ilse van Staden. Ook het daar intussen sommer ‘n hele paar nuwe briewe bygekom in die Brieweboks.
Lekker lees aan alles en geniet die feesgety wat op hande is.
Mooi bly.
LE
ON THE FIRST DAY OF CHRISTMAS,
a buzzard on a branch.
In Afghanistan,
no partridge, pear tree;
but my true love sent to me
a card from home.
I sat alone,
crouched in yellow dust,
and traced the grins of my kids
with my thumb.
Somewhere down the line,
for another father, husband,
brother, son, a bullet
with his name on.
© Carol Ann Duffy (The twelve days of Christmas 2009)