Voor ek in so ’n betoog uitdraf wil ek myself en enige lesers daaraan herinner dat die poësiekritiek in sy geheel minder waardevol is as die blote vreugde van die lees daarvan – en as eersgenoemde by jou laasgenoemde kompromiteer, moenie verder hier aanlees nie. Maar, as jy vandag reeds op behoorlike wyse ’n gedig geniet het en jy soek iets om te doen terwyl jy wag vir ’n telefoonoproep, doen gerus verder mee.
Soos wat die aard (en funksies) van poësie verander, moet nuwe begrippe dikwels geskep word om die beskouing daarvan betekenisvol en relevant te hou. Dit impliseer egter ook dat sommige begrippe (of waardes) wat in die verlede bruikbaar was, in onbruik sal verval.
Die rede hiervoor is omdat die aard van poësie in die wêreld in die afgelope dekades baie divers geword het en dieselfde by ons ook stadigaan begin gebeur. Ook omdat die kritiek van poësie baie verdiep het. Watter van die nuwer begrippe op die duur waardevol sal wees sal net die tyd leer.
Veel meer seker is watter waardes uit die verlede, hetsy in hul geheel of in hul ou gedaantes, vir ons nutteloos geword het. Boaan my lys hiervan is die begrip “aantal bundels gepubliseer”. Daar was ’n tyd toe hierdie waarde help “bepaal” het watter digters “groter of kleiner bydraes” tot die poësie gelewer het. Dié waarde lyk vir my egter in geen gedaante meer bruikbaar of relevant nie behalwe as kuriositeitswaarde. As ernstige maatstaf is dit in sy geheel uitskotwaardig. Miskien kan dit binne ’n bepaalde oeuvre of digsoort sylangs betrek word, maar nie meer as dit nie.
En tog klink dit asof bundelpublikasietal as waarde soms nog in gesprekke rondom die poësie by ons hoogty vier. Dié digter behoort nie in aanmerking te kom vir so en só ’n prys nie “want sy het nog net twee digbundels gepubliseer” of dáárdie digter “het al twintig bundels onder die belt” en behoort die beurs te kry. Albei hierdie soort opmerkings het ek in onlangse tye weer gehoor, en dit van mense wat nogal hoog opgee oor die “postmodernisme” (!) – daardie moederbron van alle eietydse relativerings – met ’n straight face nogal, en boonop in ’n tyd waarin Afrikaans in ’n globale konteks funksioneer en lankal nie meer ’n kerkbussie onderweg tussen Potchefstroom en Stellenbosch is nie.
Genoemde waarde het relatief geword omdat dit teruggryp na ’n era toe gedigte min of meer almal dieselfde lengte was, min of meer met dieselfde begrip van digtheid gewerk het, min of meer in dieselfde relasie gestaan het tot ander aspekte soos tematiese ontwikkeling en eenheid en digterlike ontplooiing – almal destyds vasstaande, maar sedertdien deur die bank veranderlikes.
Ander waardes wat in hul ou of eenduidige gedaante aan relativering onderworpe geraak het, is: poëtiese digtheid; wat is “hermeties”; vormvastheid; gedig- of bundeleenheid; en vele meer.
Een van die interessantste vrae vandag is, byvoorbeeld: “Wat is digterlike musikaliteit?” Dit is nie alles of enige iets nie, tog kan dit nie langer gelykgestel word aan die ou maatstawwe nie. Gaan vergelyk gerus die “vreemde” musikaliteit van die Nederlandse digter Frans van Dixhoorn, waaroor al op hierdie webblad berig is, met D.J. Opperman. Goeiste, hoe uitgelewer is ons nie aan ons begrippe nie …
Nog ’n interessante geval is metrum. Metrum beteken oorspronklik die patroon van klemverplasings in ’n gedig as dit hardop voorgelees word. Dis veral die patroon wat hieruit voortvloei wat verantwoordelik is vir “musikaliteit”. Maar dan moet mens byvoeg:’n bepaalde soort musikaliteit, overgesetsynde, ’n bepaalde soort patroonmatigheid. Dis moontlik om ander soorte patroonmatigheid aan te tref, soos byvoorbeeld in ’n prosagedig wat in paragraafvorm geskryf is en redelik monotoon voorgedra word.
Want, benewens klempatrone, kry mens ook metapatrone soos die volgende: beeldpatrone, toonpatrone (een van die moeilikstes om te skryf), metaforiese patrone en patrone van emosionaliteit. Hierdie patrone is niks minder nie as metries in effek. Die metapatrone van ’n gedig is dikwels moeiliker om te skryf as die teksturele (plastiese) patrone waaraan oudedoos-kritici poësie so maklik gelykstel. En metapatroonmatigheid is in die eietydse wêreldpoësie dikwels meer bepalend vir die patroonmatige voorkoms van ’n gedig as teksturele elemente.
Terug na pseudo-begrip numero uno: bundelpublikasietal. Vir twee digters se produksie om in hierdie opsig met mekaar vergelyk te word moet al die veranderlikes hierbo genoem, en nog meer, gelyk wees. Die tydgenootlike konteks en die moeilikheidsgraad (moeilik om te bepaal) moet óók dieselfde wees. Anders is die vergelyking vals.
Maar dis nie waar die valsheid eindig nie. Of eerder, dis miskien waar dit eindig maar nie waar dit begin nie. Gestel, argumentshalwe, twee oeuvres is wel presies “gelyk” in al die opsigte hierbo genoem, en ook in die opsig van “gehalte”. Maar, digter A het drie bundels gepubliseer en digter B, twintig. Is digter B ’n bepaalde prys of beurs of kanonisering of meer lesers of die wenprys in die Durbanse poepwedstryd, dan meer werd as digter A?
Nie noodwendig nie. As dit by nadere beskouing blyk dat digter A meer bladsye poësie gepubliseer het as digter B ondanks laasgenoemde se prolifiese bundelpublikasies, wat dan? En as digter A meer reëls gepubliseer het, meer woorde?
En hoe rym hierdie klem op ’n soort kumulatiwiteit met die beweerde waarde van beknoptheid in die poësie? Snaaks dat dit dikwels dieselfde kritici is wat met albei hierdie (teenstrydige) begrippe werk …
Red ons O Vader, van ons vergelykings.
Die getal bundels wat ’n digter agter sy of haar naam kan skryf is ’n prestasie van die uitgewersbedryf, niks meer as dit nie. Indien dit is. Want sommige veelskrywers (en uitgewers) behoort aandadig gehou te word vir die kriminele verlies van bome.
Dis ’n totaal nuttelose maatstaf van poëtiese bydrae, indien nie onnutsig nie. En daar is baie voorbeelde ook uit die plaaslike publikasiegeskiedenis wat dit sal staaf.