Ilse van Staden. Woordgebore

Om voortdurend gebalanseer te staan op die rand tussen kuns en wetenskap verg konstante psigiese aandag. Praat maar van kombinasie en integrasie en kreatiewe spanning. So maklik is dit nie.

   Net soos ek dikwels spot dat my beroep as veearts “geneties onvermydelik” was – my oupa, pa, pa se neef en oom is of was immers almal veeartse – so is my doenigheid met die kunste seker tot net so ’n mate “oorgeërf”. Einste pa en oupa is/was nie te sleg met woorde nie en my oupa kon op tagtig nog wonderlike kleibeelde maak. Met houtsneewerk en borduurwerk was my een ouma heel vaardig. Van my ma praat ek nie eers nie. Oortreffende trap.

   Waar genetika en liefde egter saamsweer, broei baie dinge uit. In ’n huis vol boeke en prente, met ’n ma wat al op sewe of agt, saam met Newton se wette, ook Shakespeare moes aanhoor en soortgelyke aspirasies vir haar eie dogter gehad het, hoe anders as dat ek in poësie gebore en getoë sou word?

   Toe my broer, ’n jaar ouer as ek, skool toe is en die skool my op vyf jaar oud nie saam met hom wou toelaat nie, het my ma my tuis leer lees. ABC met ’n verfkwas agterop skilderye, terwyl sy in haar ateljee besig was. Van toe af kon jy my nie van woorde weghou nie.

   Ek vermoed die Kleuterverseboek het gou gevolg, al onthou ek dit glad nie. Wel Opperman se Groot Verseboek, met “Klaas Geswind” en “Nuttige resepte” (wat ek probeer nadoen het) en “Ek hou van blou”. Vroeg die volgende jaar, toe ek wel in die skool uitkom, het ek dus verklaar dat ek ’n “digteres” gaan word.

   My eerste eie pogings tot poësie het ek daardie jaar, 1979, saamgevat in ’n “bundel” wat ek bloot genoem het: Gedigteboek deur Ilse. Dit was skynbaar ’n Kersgeskenk aan my Oupa de Boom, want agterop staan daar: “My liewe vadie ek het hierdie boek spiesiehaal vir my liewe vadie gemaak”. Ensovoorts. Ek het dit nog steeds. Dit is foliogrootte, met garing vasgewerk in die middel, met ’n totaal van nege gediggies en meegaande illustrasies in helder poeierverf. Nóg gedigte nóg tekeninge getuig van enige toekomstige talent. Daar is darem een wat skaflik is en wat ek as wegspringpunt gebruik het in die gedig “Variasie op ’n tema” in Watervlerk:

Eendjie eendjie plattepoot

sy loop daar in die watersloot.

Sy sien ’n vis

en kyk gou of dit ene is.

   Vir daardie selfde Kersfees het ek van my ma, ewige optimis, ’n versamelbundel van Elisabeth Eybers gekry. En “Maria” en “Die eerste nag” leer ken. Sy bly my eerste liefde.

   ’n Bekering tot poësie was dit dus nie. Eerder ’n gebore-word tot woorde. Die vraag waarom ek my bemoei met poësie is dan net so onbeantwoordbaar soos waarom ek bry of blou oë het. Dit is maar soos dit is. Ek is erflik belas.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Ilse van Staden. Woordgebore”

  1. Evette Weyers :

    Heerlik dat jy jou eie geskiedeins en bakermat van liefde vir- en kuns met woorde met ons gedeel het. “Om te muis” was ook baie genoeglik en het vrolike ontvangs gekry by my tans buitelandse vriende. Ek het Watervlerk baie geniet. Dis speels , so poëties. Die engelse woorde “whimsical” en “fey” is so gepas daarvoor. Soos die gedig oor om ‘n engel in ‘n woonstel in te pas. Die magiese realisme daarvan en hoe jy mens met klein stappies dieper en dieder in die magiese inneem het my so bekoor.
    baie dankie
    evette weyers

  2. Dankie vir die mooi kommentaar. Mens huiwer maar soms voor die besluit van wat om te deel en wat nie.
    ilse

  •