Desmond Painter. Paul Lewis se Beethoven-opnames

Die Britse pianis, Paul Lewis, het gedurende die laaste paar jaar naam gemaak as een van die voorste hedendaagse eksponente van Beethoven se klaviermusiek. Sy opnames van die 32 sonates is dan ook onlangs as ‘n 10 CD-stel uitgegee deur Harmonia Mundi. Lewis lewer ‘n sensitiewe, soms delikate, deurgans intelligente en veral emosioneel deurleefde interpretasie van hierdie merkwaardige en steeds aangrypende siklus – ‘n siklus wat nie net ‘n musikale revolusie verteenwoordig en karteer nie, maar ook ‘n reeks maatskaplike en psigologiese revolusies.

Jy sal sekerlik elke nou en dan ‘n ander pianis se interpretasie van ‘n spesifieke sonate verkies (vir my, byvoorbeeld, bly Emil Gilels meester van die ‘Waldstein’ en ‘Hammerklavier’-sonates), maar as jy die volledige stel wil aanskaf kan jy nie juis verkeerd gaan met hierdie groot poging van Paul Lewis nie. Ek het vir lank Alfred Brendel se opnames van die laaste drie sonates geluister; Lewis se benadering tot hierdie verstommende drieluik is vars en opnuut onthullend. Om bekende musiek weer te hoor asof vir die eerste keer: wat meer kan ‘n mens voor vra?

Paul Lewis

Paul Lewis

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Desmond Painter. Paul Lewis se Beethoven-opnames”

  1. Johann :

    Desmond, wat kan jy my vertel van Richard Goode se 10CD-stel van die klaviersonates?

  2. Johann :

    En Barenboim s’n? Ek is van skooldae af ‘n liefhebber van Beethoven.

  3. Desmond :

    Hallo Johann. Ek het nog nie Goode gehoor speel nie; ek weet ook Andras Schiff is besig om die hele siklus op te neem (of het onlangs). Goode se onlangse opnames van die 5 klavierkonserte kry baie goeie resensies; ek wil dit graag aanskaf. Tans besit ek net 3 & 4 met Alexis Weissenberg, Karajan en die Berliner Philharmoniker; en 5, met Maurizio Pollini (en Karl Bohm, dink ek).

    Wat Baremboim betref, ek is ‘n groot aanhanger van hom (as pianis, dirigent en ook as ‘n denker – lees maar sy blog en sy onderhoude met Edward Said) en hou ook van sy interpretasie van die Beethoven-sonates. Toevallig het ek gisteraand sy opname van die Appasionata (#23, dink ek) en Lewis s’n direk na mekaar gespeel. Ek sou nie een van die twee wou opgee nie. Baremboim s’n (veral in die derde beweging) is vinniger, meer dinamies en dramaties – dit is ‘n storm-en-drang, bloed-en-derms Beethoven wat ‘aan die woord’ is. Lewis speel dieselfde beweging veel stadiger, so dit verkry ‘n heel ander emosionele effek. Anders, nie noodwendig beter nie: altwee is tegnies briljant en verstaan Beethoven se musiek.

    Maar luister ook na Piotr Anderszewski se opname van Sonate 31 op sy onlangse Live at Carnegie Hall CD. Hy het ook ‘n hoogs-aangeskrewe opname van Beethoven se Diabelli Variasies gemaak; uitstekend. Of hy ooit al die sonates sal opneem weet ek nie. As jy hoor met watter intelligensie en emosionele intensiteit hy #31 doen, sal wel hoop hy begin daardie berg te klim!!

  4. Desmond :

    Johann, ek moet bys^e: ek het na Baremboim se vroee EMI-opnames geluister (uit die 1960s); ek ken nie sy meer onlangse stel wat deur Deutsche Gramophone uitgegee is nie.

  5. Johann :

    Goode kry allerweë goeie reaksie, hoewel sommige meen dat emosie soms oorskadu word deur sy tegniese virtuositeit.

    Ek dink ek kry sommer beide Goode & Barenboim se stelle. En dié van Lewis. Dan kan ek na hartelus luister (ek sê met opset nie ‘vergelyk’ nie, want ek is ‘n volslae leek).

  6. Louis :

    Menere, nóú praat julle mos van musiek in hoofletters en in Kodak Technicolor, want sedert my 50ste verjaarsdag – toe my hartsbruid vir my die volledige opnames van Barenboim (EMI) as verjaarsdaggeskenk gegee het – is hierdie by verre my gunstelingmusiek. Om die waarheid te sê, wanneer jy na daardie spreekwoordelike eiland moet gaan waarheen jy net één item mag neem, is dit dié boksie met sy 10 CDs wat jy gryp; die emosionele reikwydte en omvang van hierdie klaviersonatas is iets wat g’n mens ooit in sy leeftyd sal kan deurgrond nie …
    Maar ek sal Lewis se vertolkings gaan soek en met ‘n oop gemoed beluister, Desmond. Ek beloof. 🙂

  7. Desmond :

    Johann, kry die goedkoopste van die stelle, en koop dan opnames van individuele sonates deur ‘n hele reeks ander pianiste… Dit behoort jou dan jare besig te hou!

    Louis, ja, dit is inderdaad geniale musiek wat ‘n mens nie sommer sal deurgrond nie; en wat dan nog boonop verskillend geinterpreteer word deur die baie briljante pianiste wat dit speel!

    Ek sien toevallig Naxos Historical het (vir ‘n skrale R70) ‘n baie vroee opname van die laaste drie sonates deur Glen Gould heruitgereik — ek het dit in die uitstekende klassieke seksie van Canal Walk se Look & Listen gesien. In sy hande is hulle weer iets heel anders. Maar gaan luister na Anderszewski se #31 op sy Carnegie Hall CD, dit het my tot stilte gedwing — hy speel ook Bach, Janacek, Schumann en Bartok op daardie opname. Verhewe dinge.

  •