Met my boks-uitpakkery kom ek gister op ’n skryfsel af, en na die deurlees daarvan, kom ek met ’n sug agter dat hierdie stuk nooit in druk die lig sal sien en daarom nooit oorweeg sal word om naas uittreksels uit Raka in Groot Verseboek te verskyn nie. Maar met die terugdink, was dit tog ’n groot plesierigheid wat ek onthou.
Twee jaar gelede is ek deur die ATKV genader om iets te skryf vir hulle jaarlikse Veertjies-toekennings. Dit moes juis oor die liefde wees, want ten spyte van my hoë ouderdom is daar verneem dat ek oud, maar nog nie koud is nie.
Die gevolg was toe Stories oor die Liefde – ’n lang vers wat ek moes skryf oor wat alles tussen die lakens gebeur het van Adam se tyd tot nou met onse Steve Hofmeyr toe.
Na ’n paar dae van skryf, en daarna dae van memorisering (selfs as ek by die gym my boeglam op ’n oefenfiets oefen) was ek gereed om my resitasie by die groot aand te gaan opsê.
Ek was bewus van ’n paar glimlagte en paar fronse by die uitgelese gehoor en het toe besef dat dit die laaste aanhoor van my meesterwerk gaan wees, want daar was ongelukkig geen resensente wat hulle indrukke op papier kon neerkrabbel nie.
Tog was daarna twee persone wat persoonlik hulle indrukke oor hierdie grootse werk aan my kom oordra het.
Eers was daar Helen Zille wat vir my kom sê hoe sy dit geniet het, en omdat ek alreeds van dié vrou se goeie smaak gehoor het, het ek elke woord geglo (net jammer oor al daardie Botox).
Toe was dit dr. Niel le Roux, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees se beurt en hy was blykbaar vreeslik onsteld dat ek die woord moffie in die openbaar kon gebruik, en die ergste nog by ’n ATKV-geleentheid.
En daarna vra hy my ook sommer pertinent of ek ooit die gewraakte k-woord k++++r in die openbaar of selfs in skrif sou gebruik. “Nee, nooit!” het ek geantwoord, “want ongelukkig is daar geen rymwoorde wat ek vir dié woord sal kan opspoor nie.”
“Ja, soveel dae, soveel dinge.”
STORIES OOR DIE LIEFDE
Stories oor die liefde
is al jare lank by ons:
Stories wat jou sag laat ween,
of wat jou hart laat bons.
Al wil jy my nie glo nie;
al klink dit somtyds raar,
is elkeen van die stories
gewis en wragtag waar.
Ek weet wel in die Bybel
was daar g’n Koos of Mybel,
maar wel dat daar geliefdes was
en dat hul soms mekaar betas.
Adam kla glo meer of min:
“Jou appel het dit als begin!”
En sê vir Eva: “Jy’s ‘n luis.
Nou moet ons uit die Paradys.!”
Simson kuier by Delila.
(Hy’s harig nes ‘n bosgorilla),
Maar Lilla gril en sê: “Nee stop!”
En gee sy pounietyl die tjop.
Met Dawid en sy Jonatan
het dit ook soms maar woes gegaan.
Tot Koning Saul steun en kreun:
“Wat maak mens met ‘n moffieseun?”
Nou kom die res – al klink dit Grieks.
Ons storie raak nou opgemieks.
‘n Meisiekind genaamd Helena
had twee harig Griekse bene
en met haar volle lipstieklippies
lok sy gou ‘n duisend skippies.
En van almal daar in Troje
was Heleen die mooiste mooie.
Tog raak die manne siek en sat
oor sy alreeds ‘n boyfriend had.
En klim toe wragtag in ‘n perd.
“Wie wil trou met só ‘n tert?”
Nou reis ons na die sandwoestyn
waar plante van die droogte kwyn.
En hier het neef Antonius
en Cleopatra min gerus.
En al was hy alreeds getroud,
vind Cleo glad nie daarmee fout,
want al wat sy gereeld wou hê
was om met hom te lepellê.
Tog was hul einde ietwat goor:
‘n Dolk het vir Antoon deurboor.
En toe hy sterf het sy gesnik
en ‘n tuinslang teen haar bors gedruk.
Vir Romeo en Juliet
was daar net leed en glad niks pret.
Op haar balkon het sy gewag.
“Ai, waar’s die man? O, gee my krag.”
En gou het sy hom toegesnou:
“Oh, wherefore art thou Romeo?”
Nou raak ons storie minder laf.
Hul einde was besonder taf!
Juliet is eers vergiftig.
Sy laaste woord was glo: ” Genugtig!”
En nou ‘n storie wat erg naar is,
maar wat beslis en rêrig waar is:
Abelard wou Eloise
net nou en dan ‘n bietjie squeeze,
maar squeezery word vryery
en op en af geryery
en eindig met ‘n skree-bek bybie.
Ongetwyfeld en nié mybie!
Haar oom raak toe verskriklik vies
oor sy vir Abelard verkies.
En toe’t daai oom – ja, glo vir my
die ou se tottie afgesny.
Al was dié daad wel ongehoord
leef hulle liefde nou nog voort.
Nou kom ons by ‘n eeu gelede,
en kan ons ween met goeie rede:
Van Gogh sou nimmer-immer trou nie;
ken g’n liefde van ‘n vrou nie.
En sterwe later liefdeloos;
sonder warmte of troos.
Liefde deesdae is maar goor, ja
David Beckham en Victoria.
Tog is daar dié wat ons besiel
soos onse Frans en Sannie Briel.
Of anders lees ons Mills & Boon
waar almal druk en almal soen.
En is jy lief vir Ena Murray
hoef jy rêrig nie te worry.
Hierie antie kry geen rus –
Dis omnibus na omnibus
Hoeveel is daar? O, ja wragtag!
Niks minder nie as agt-en-tagtig!
Vandag se vryers is maar flou
en werklik niks om te aanskou.
Gee my liewer Cleopatra
as Mia Farrow en Sinatra.
Of Romeo en Juliet,
al was hulle einde sonder pret.
Plus Dawid en sy Jonatan
wat net kon druk soos manne kan.
Daai mense het geweet van soen
en ook hoe om die ding te doen.
Dus het ons deesdae goeie rede
om iets te leer uit die verlede.
En wil jy werklik leer wat vry is,
gaan leer by dit wat lank verby is.
Ag Phillip, seg,
dat vond ik heel genotlik
als jy jou woorde so verspotlik
om elke man of meisie vleg
Jy kan wel nog i rym of twee
ter wille van die lag deurgee
Humor maak ons tog wel jong van gees
so vra ek mooi: digter hou my by jou lees