
Volgens die BBC is William Jacques (40), ‘n voortvlugtige boekedief, op Kersdag in hegtenis geneem en die daaropvolgende week voor die hof gedaag. Mnr. Jacques het naamlik die dertien dele van die Nouvelle Iconographies des Camellias deur die Vlaamse negentiende-eeuse botanikus Ambroise Verschaffelt tussen Desember 2006 en Februarie 2007 uit die Royal Horticultural Society se biblioteek in London gesteel. Die totale waarde van dié stel beloop ongeveer £50, 000.
In April 2007 is mnr. Jacquez wel voor die hof gedaag, maar op borgtog vrygelaat. Daarna het hy spoorloos verdwyn tot hy uiteindelik einde verlede jaar in Selby, North Yorkshire, aangekeer is.
Die stel wat hy gesteel het, is juis so waardevol omrede dit kleurplate van verskillende soorte camelia’s met meegaande teks deur Verschaffelt (1825-1886) bevat. Die foto hiernaas is ‘n illustrasie van die camelia wat na hom vernoem is, naamlik die Theaceae-Camellia Madame Ambroise Verschaffelt. (Lees ook die berig by De Papieren Man en indien jy nog kan onthou wie Marc Bolan is, kan jy hier gaan luister na hoe hy sy gedig “Camelia” voordra.)
Maar vir jou besonderse leesplesier plaas ek egter vanoggend Jan FE Celliers se gedig “Blomme” hieronder.
***
Een van hierdie webblad se oogmerke is om ook as “dokumentasie-ruimte” te dien deur, in soverre dit moontlik is, alles wat met die Afrikaanse digkuns te make het, byeen te bring en tot die beskikking van alle poësieliefhebbers te stel. Vandaar ons motto vir dié blad: “die Afrikaanse digkuns in een kraal.” Daarom kan ons vanoggend bekendmaak dat Stilet ingestem het om alle artikels wat hulle tydskrif ontvang en wat met die digkuns te make het, ook op die webblad beskikbaar te stel. Sedert Vrydag is die eerste twee hiervan, “Narratiewe elemente in Danie Marais se debuutbundel in die buitenste ruimte (2006)” deur Bernard Odendaal, en “Van Wyk Louw en die Nederlande” deur FIJ van Rensburg, ontvang en geplaas.
Aan die blogkant van sake is daar ‘n nuwe inskrywing deur Andries Bezuidenhout, asook twéé nuwe inskrywings deur Johann Lodewyk Marais oor sy ervarings in Oos-Afrika, te wete “Stegies van die geskiedenis” en “Tot langs die Choberivier“. In die Brieweboks is daar ‘n eerste brief (deur Hennie Aucamp) oor ons blogfokus vir Februarie en van sowel Joan Hambige as Johann de Lange is daar nuwe gedigte ontvang en geplaas.
Sjoe, wat ‘n rykdom aan nuwe inhoud om die week mee te begin! Lekker lees. En mag dié week ‘n vreugdevolle een vir jou wees.
Mooi bly.
LE
Blomme
Ek kom om 'n kransie van rou te breng,
Op kindergraffies 'n traan te pleng.
Maar kyk, dis 'n fees wat my oog gewaar
van blommetjies, blommetjies aanmekaar,
op ranke stingel oor graffie en steen -
soos graan op die lande, aaneen, aaneen;
soos kindertjies selwe in feesgewaad,
in hupp'lende dans op die windjie se maat;
spierwit hul kleertjies en roserooi -
die sonlig se glans op hul hemelse tooi.
O, moedertjies wat in die verte nog ween
om blompies ontnome, wat God had geleen,
kom kyk, uit elkeen en elk bittere traan
is 'n heldere blompie weer opgestaan.
Dis net of die Vader sê "Vertrou!
"My blomme sal groei oor die kranse van rou,
"Ek gee weer terug wat gegee is aan My:
"waar blomme gesaai is, sal blomme gedy."
(c) Jan FE Celliers (1865 – 1940)