Desmond Painter. Ernst van Heerden en Paul Wittgenstein

Paul Wittgenstein

Paul Wittgenstein

Ek het in ‘n vorige inskrywing vertel van my ontdekking, op skool, van Ernst van Heerden se poësie, en van die rol wat hierdie ontdekking gespeel het in die aanwakkering van my eie belangstelling in die digkuns.

Sedertdien het ek weer ‘n slag deur sy bundels geblaai, hier en daar gelees, en opnuut onder die indruk gekom van hóé goed Van Heerden op sy beste was; en tot watter mate hy steeds – en dalk toenemend – ‘n onregverdig afgeskeepte stem in die Afrikaanse letterkunde is. Heelparty van sy bundels is immers nie meer in druk nie, en sover my wete strek is ‘n versamelde werke, of selfs net ‘n keur uit sy voltooide oeuvre, nog nooit gepubliseer nie.

 

Ernst van Heerden was, soos Hennie Aucamp, Johann de Lange en Joan Hambidge na hom (om enkeles te noem), ‘n verteenwoordiger van ‘n soort ‘estetisisme’ in die Afrikaanse poësie. Ek verwys hiermee na digters (en skrywers) wat die estetiese (eenvoudig gestel: uitgebreide verwysings na die letterkunde en ander kunsvorme) as temas en onderwerpe in hulle werk ontgin – of eerder, by wie hierdie soort poëtiese ontginning en omploeging van ‘n estetiese verwsyingsraamwerk ‘n (of dalk díé) sleutelkomponent is in hulle digterskap.

Daar is natuurlik belangrike verskille in hoe liggaamlikheid en seksualiteit (byvoorbeeld) by Van Heerden en De Lange onderskeidelik uitgebeeld word; of hoe Van Heerden en die meer postmodernistiese Hambidge onderskeidelik met kulturele verwysings omgaan. Nogtans dink ek hierdie latere digters behoort, wat hulle posisie in die Afrikaanse literatuur (en die verskillende tradisies en tendense wat dit kenmerk) betref, met Ernst van Heerden in gedagte gelees word.  

Van Heerden se oeuvre inkorporeer al sedert sy heel eerste bundel ‘n uitgebreide estetiese verwysingsraamwerk. Sy oeuvre is ryk aan verse oor digters, die skilderkuns en, wat my veral aanspreek, musiek. As jy gedigte soos ‘Symphonie Pathétique’, ‘Prélude à l’après-midi d’un faune’, ‘Nocturne’ en ‘Chopin’ lees (en daar is vele meer), is dit baie duidelik dat Van Heerden ‘n indringende kennis van en groot liefde vir die musiek moes gehad het.

Een van sy latere en beste gedigte oor die musiek is te vinde in my gunsteling Van Heerden-bundel, Amulet teen die vuur (ek sal by ‘n later geleentheid iets skryf oor hierdie bundel, wat ek tans weer aan die lees is). Die gedig is ‘Paul Wittgenstein’. Wittgenstein (broer van die beroemde filosoof met dieselfde van) was ‘n bekende vroeë twintigste-eeuse pianis. Hy het sy regterarm verloor in die Eerste Wêreldoorlog, en was dus, soos Van Heerden, ‘n ‘geamputeerde’ (Van Heerden het beide sy bene in die 1970s verloor).

Na afloop van die oorlog het etlike komponiste werke ‘vir die linkerhand’ gekomponeer, wat dit moontlik gemaak het vir Wittgenstein om sy loopbaan as konsertpianis voort te sit. In Van Heerden se gedig is dit Maurice Ravel se ‘Klavierkonsert vir die linkerhand’ wat ter sprake is. Op briljante wyse versoen Van Heerden die tema van die geamputeerde ledemaat met ‘n hoogs evokatiewe uitbeelding van die stuwing, ritme, toonaard en kleur van daardie musiekstuk.

 

Paul Wittgenstein

Klavierkonsert vir die linkerhand (Ravel)

 

Wanneer ‘n ongevulde regtermou

die snyerslanfer onderstreep

en skielik aandag opeis,

bedaar geroesemoes;

 

algaande minder soberend

deur wilder sproeisels heen,

word tarantella-vuur gestook,

‘n teistering, ‘n woede opgewek;

 

wanneer weemoed en bravour

hul eie bane uitstip,

word deur gekerm en gesnater

‘n waterval van ánder kleur gebou

en vredes sprokkelwys opeengehoop.

 

Wilgers ruis in kontrapunt

en seë slaan ‘n hele klankbord los,

terwyl ‘n volle somer

aan die son se tepel suig.

 

Triomf en dawering!

 

Die mou buig saam

voor ‘n dubbelhandige applous. 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Desmond Painter. Ernst van Heerden en Paul Wittgenstein”

  1. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, elke jaar beland daar ‘n e-pos in my “inbox” wat mense uitnooi om in te skryf vir die “Ernst van Heerden creative writing award.” Toe ek ‘n ruk gelede saam met Clive Chipkin deur Johannesburg ry om oor argitektuur te praat, het ons ook by Van Heerden se huis in Westcliff stilgehou. Daar is ‘n gedenksteen buite die huis wat aandui dat hy eens daar gewoon het. Die nuwe eienaars het ‘n muur gebou wat so hoog is dat jy glad nie kan sien hoe dit huis lyk nie. Gisteraand, met my CD se bekendstelling, het ek vir Paul Riekert in die gehoor gewaar. Toe onthou ek dat hy Afrikaans aan Wits studeer het. Irma se pa, Koos du Plessis, ook. So twee van die Afrikaanse musiekwêreld se grootste figure het hier by Wits Afrikaans studeer. Vroeër was dit natuurlik NP van Wyk Louw se werksplek. Dis vreemd, maar terwyl ek sing, dink ek aan al hierdie dinge (gelukkig het ek die woorde en akkoorde op ‘n musiekstaander gehad, anders sou ek die draad heeltemal verloor het.) Ek wonder nou al ‘n paar weke oor Wits en Afrikaans. Dalk het ek maar gisteraand daaroor gedink omdat van my kollegas hier by Wits vir die eerste keer kom luister het wat ek in die nag doen. Noudat die bure basies nie meer ‘n Afrikaanse universiteit is nie (die voormalige RAU), hoor ‘n mens baie meer Afrikaans op die kampus. Wits het natuurlik nie meer ‘n Departement Afrikaans nie. Dis jammer, veral as daar meer Afrikaanssprekende studente hierheen gaan kom as gevolg van die verengelsing van UJ. Al wat hier oorbly is die “Ernst van Heerden creative writing award.”

  2. Lucas Malan :

    Dankie vir jou waarderende kommentaar oor Ernst van Heerden se gedig oor Wittgenstein.
    Hy het die klassieke musiek inderdaad goed
    geken en waardeer. (Ek is sy literêre erf=
    genaam.)

    Aan Andries Bezuidenhout net ‘n regstelling:
    Van Heerden het tot sy dood in Prenticeweg 15, Greenside gewoon. Dis in die buurt van
    Westcliff, maar ‘n hele ent daarvandaan. Dit
    was ‘n ruim, maar geen indrukwekkende woning nie. Ek was sedert sy dood in 1997 nog nie weer in JHB nie en weet dus nie hoe die huis
    nou daar uitsien nie. Dankie nietemin vir die
    belangstelling in sy werk en sy literêre
    fonds vir nuwe skrywers by Wits.
    Lucas Malan

    by Wits.

  3. Bernard Odendaal :

    Andries, die verhaal van die be-eindiging van die Afrikaans-departement aan Wits, nog voordat veel waarskynliker sluitingsgevalle by ander universiteite voorgekom het, is een wat ek graag voluit sou wou hoor. Miskien moet jy een van die oud-dosente aan daardie voormalige departement vra daarna.

  •