VSB Poëzieprijs nie vanjaar toegeken

Na 16 jaar kapot

Tot niet na 16 jaar?

Die VSB Poëzieprijs is die afgelope 16 jaar reeds die belangrikste Nederlandstalige poësieprys. Nou wil dit voorkom, volgens ‘n berig op Knack.be, dat dié prys nié vanjaar toegeken gaan word nie. Volgens Myrle Tjoeng van die Stichting VSB Poëzieprijs, die instansie wat vir die organisasie rondom dié prys verantwoordelik is, is dit weens  “organisatorische hervormingen” binne die Stichting. Selfs hul webblad het glo stilstand gekom met geen aktiwiteit daarop die afgelope jaar nie.

Die VSB Poëzieprijs is in 1993 ingestel deur die VSB Fonds op inisiatief van Huub Oosterhuis met as oogmerk om die beste Nederlandstalige bundel van die vorige jaar te bekroon. In hierdie opsig is dit inderdaad vergelykbaar met ons eie Protea-prys vir Poësie. Die prys behels ‘n brons beeldjie, asook ‘n kontantbedrag van 25,0000 euro. In 1994 was Hugo Claus die eerste bekroonde, terwyl Nachoem Wijnberg, oor wie Luuk Gruwez in sy nuutste wisselkaart skryf, die prys verlede jaar ontvang het. Volgens Knack was Leonard Nolens die laaste Vlaamse digter wat met dié gesogte prys bekroon is.

Gerusstellende nuus is darem dat die organiseerders darem kort ná die berig op Knack bekend gemaak het dat die prys wél in 2011 toegeken sal word. Hulle is glo tans besig om met Poetry International te onderhandel ten opsigte van befondsing én organisatoriese infrastruktuuur. Die prys sal dan weliswaar nie in April toegeken word, soos dit die afgelope jare die gebruik was nie, maar aan die einde van Januarie volgende jaar ten einde met die viering van die Gedichtendag saam te kan val. (Dié betrokke berig kan by De Papieren Man gelees word.)

***

Aan die blogkant van sake het Bernard Odendaal en Andries Bezuidenhout hul bydraes tot vandeesmaand se Blogfokus gelewer. Bernard skryf oor die liefde as lokmiddel, terwyl Andries weer vertel waarom hy nie liefdespoësie skryf nie. Intussen het Yves T’Sjoen die vierde aflewering in sy reeks oor peritekste geplaas en op Wisselkaarten kan Ester Naomi Perquin se nuutste aflewering gelees word. En sjoe, maak seker dat jy die wonderlike gedig van Marije Langelaar waarmee sy haar inskrywing afsluit, onder oë kry. Wonderlike leesstof, ieder en elk.

Ten slotte noem ek graag dat die eerste twee van vier artikels oor die digterskap van TT Cloete deur die loop van die dag geplaas gaan word; een deur Heilna du Plooy oor die ikonisiteit in Cloete se verskuns en een deur Rensia Robinson oor die begrip “God” by Cloete. Gewis iets om na uit te sien, of wat praat ek nou?!

Lekker lees aan alles.

Mooi bly

LE

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •