Ek beland nie maklik op Moedverloor se vlakte nie – hou gewoonlik maar verby tot by De Hoop, of, if all else fails, De Rust. Maar op dae soos vandag, wanneer dit moelik gaan met die dinkery oor en doenery van ‘n geskrywery, wonder ek soms wat presies die punt is.
Sien, ek is een van daai suckers wat tog asseblief net iets vir die wêreld wil beteken. Ek wil bome plant en harte oorplant, oorloë eindig en revolusies begin. Dit voel nie altyd asof ek êrens kom deur vir ure te sit en op my sleutelbord te tokkel nie.
Maar dan weer – vir elke boompie wat ek geplant kry kap een of ander toiletpapierfabriek tienduisend ander af. Vir elke hart wat iemand oorplant is daar miljoene mense wat van malaria of VIGS doodgaan. Die oorloë hou aan en die revolusies bring gewoonlik net ‘n volgende stel power-hungry politici en probleme. So ek sug maar ek skryf maar en lees maar die boeke wat voor volgende week moet klaarkom .
Gelukkig lees ek vroeër vanaand iets inspirenrend raak in een van daai boeke waarmee ek so stoei. Dis ‘n aanhaling uit ‘n lesing deur Joseph Brodsky:
“Since there is not much on which to rest our hopes for a better world, since everything else seems to fail one way or another, we must somehow maintain that literature is the only form of moral insurance a society has; that it is the permanent antidote to the dog-eat-dog principle, that it provides the best argument against any sort of bulldozer-type mass solution – if only because human diversity is literature’s lock and stock, as well as its raison d’être.”
Dis net een lang sin, maar dis genoeg om my nou weer vir ‘n wyle te herinner aan die doel van my beroep(ing). Ek dink dit spoor my aan omdat dit ‘n antwoord verskaf vir al daai praktiese mense wat wil weet wat ek met my lewe dóén. Van nou af is ek reg vir hulle. “Ek studeer om ‘n vers-makelaar te word. Eendag as ek groot (en goed) is, gaan ek morele versekering verkoop.”