In ‘n onlangse kommentaar oor die wenslikheid van slypskole en die gepaardgaande gevaar van eenselwigheid, het ene “Booswig” na DJ Opperman verwys en die “klone” wat hy (sou) geskep het. Nou, met die eerste deel van sy/haar kommentaar is ek dit eens, maar met die inspeling op Opperman-klone beslis nie, aangesien ‘n wyd uiteenlopende aantal digters ten opsigte van styl en tema deur sy “laboratorium” na vore gebring is: van ‘n Annesu de Vos, tot ‘n Antjie Krog, van ‘n Fanie Olivier tot ‘n Daniel Hugo, ensovoorts, ensovoorts. En by nie een van hulle kan jy in die volle krag van jou oortuiging sê: Hier is Opperman teenwoordig in die tong van ‘n ander nie. Allermins by Lina Spies en die keur uit haar gedigte wat pas verskyn het.
Maar – “Booswig” se opmerking oor eenselwigheid het my aan die dink gesit, want ek glo nog altyd dat dít ons digkuns se doodsteek sal wees, gegewe die klein watergat waarin daar gehengel word. Pas het ek egter Nuwe Stemme 4 met enorme waardering klaar gelees, en ek kan nie anders as om hande te klap oor die verskeidenheid daarin ten opsigte van tema én aanbod nie. Indien ‘n mens aanvaar dat die toekoms van ons digkuns in hierdie groepie (tot nou nog) onbekende digters se hande lê, kan ‘n mens nie anders as om opgewonde te raak nie.
Tog is die kwessie van “beïnvloeding” nie te ignoreer nie. By verre die meerderheid van die “Nuwe Stemme” het Breyten Breytenbach uitgewys as ‘n vroeë stimulus. So ook Antjie Krog en Gert Vlok Nel. Ook Loftus Marais. Wat my laat wonder: Is ons nie te gou om van “vernuwing” en “vernuwende digters” te begin praat nie? Uniek, ja. Kan ons nie eintlik eers werklik van “vernuwing” begin praat indien daar tóg ‘n mate van navolging plaasvind nie? Was Opperman daarom werklik vernuwend, of was hy gewoon “uniek”? En TT Cloete? Hoveel van ons digters was wérklik vernuwend en hoeveel uniek? Ek wonder maar net …
Nietemin, hierdie problematiek word skitterend verwoord deur die samestellers se “Verantwoording” tot NS4: “Word vernuwing alleen binne die Afrikaanse poësie of in die konteks van die wêreldletterkunde gemeet? Lê die klem op styl of tema? En hoeveel ware vernuwing kan daar wees as die geskiedenis ons leer dat kulture eeue lank al pendel tussen enersyds konserwatiewe, tradisionele en andersyds eksperimentele, anti-tradisionele uiterstes? Is ‘n klem op vernuwing nie maar net die geloof aan ‘n literêre ekwivalent van die problematiese idee van vooruitgang nie – ‘n voorstelling wat impliseer dat die chaotiese mensdom koersvas op pad is na een of ander voorafbestemde beter plek?”
Laat ‘n mens dink, nè? Vir jou leesplesier volg vanoggend een van die werklik vernuwende verse, myns insiens, in Nuwe Stemme 4.
***
Sedert gisteroggend het daar sommer ‘n hele paar nuwe skryfsels bygekom: Ilse van Staden skryf oor goue visse, Andries Bezuidenhout vertel van ‘n heerlike geleentheid by die River Café in Potchefstroom, en so ook Niel van Deventer, terwyl Annie Klopper ons weer met braaivleisgebeure in Oranjezicht. Mmm, en laasgenoemde twee is natuurlik bydraers tot die Nuwe Stemme-blog waaroor ons sommer baie opgewonde is …
Ten slotte vestig ek jou aandag op maar slegs die tweede brief, deur Floris Brown, in die Brieweboks oor die kwessie van liefdespoësie. En onthou: die maand is bykans daarmee heen. So, indien jy nog vir dié kompetisie wil kwalifiseer, sal jy jou moet haas.
Mooi bly.
LE
ayesha het gebid
ayesha met haar boepenslyfie
van tien siele na die aarde bring
lelik, mooi, goed en sleg
was ‘n goeie vrou
‘n goeie moesliem-vrou vir ma leila se allie
van dagbreek tot laataand het sy breed gestaan
omgesien na
ma leila se pispot en allie se goiter-tone
haar kopdoek nooit gelaat
gekook en gesloof
‘n doekmaal hier, ‘n kifayat daar
met terte, birjanie en samoesas
elke tand getrakteer
een dag
een goeie moesliem-dag
sê allie vir ayesha
ek het nog ‘n vrou gevat
soet en sag
ayesha, met kohl-besmeerde oë,
goesel van kop tot toon
die water vloei oor haar trae lyf
daarna sit sy op haar knieë
haar swart kopdoek oor haar hare
haar liggaam toegevou in hijab
en donker skaduwees
allah o akbar
haar vingers styf oor die heilige krale gevou
allie is gedoekom
in haar verweer
gedoem
(c) Sydda Essop (uit: Nuwe Stemme 4, 2010: Tafelberg Uitgewers)