Een van die mooiste eienskappe wat ‘n mens in ‘n persoon kan teëkom, is die totale afwesigheid van ‘n besef van watter impak so ‘n persoon op die lewens van ander mense het wat in kontak met haar of hom kom …
Een só ‘n persoon is my jarelange vriend Chris Coolsma.
Daarom, vergun my vanoggend ‘n persoonlike Nuuswekker; in hoofsaak by wyse van bekendstelling vanweë die feit dat Chris pas na vele versoeke tóg ingestem het om aan Wisselkaarten deel te neem.
Maar wie is Chris Coolsma, sou jy vra. Wel, jy kan hier na sy biografiese skets gaan kyk, maar steeds sal dit geen aanduiding gee van die uitsonderlike mens wat hy is nie, want indien dit jou ooit in jou lewe geluk om paadjies te kruis met ‘n wonderbaarlik kreatiewe en meelewende mens, dan is dit hy.
Ter agtergrond, twee illustrasies: Dit is die vroeë 1990s en die hele internet-gedoente is maar nog in sy babaskoene. Ek ontdek ‘n Nederlandse webblad De Opkamer (in vele opsigte ‘n webruimte soos Woes vandag) en plaas met groot entoesiasme ‘n gedig van my. En die kommentare begin instroom; merendeels negatief en sarkasties aangesien die Nederlandse lesers klaarblyklik nie besef het dat dié gedig in Afrikaans geskryf is nie. Hulle was onder die indruk dat dit iemand is wat probeer gekskeer deur in ‘n baster kindertaal-dialek te dig … Nietemin, ene Chris Coolsma betree die terrein en maak die vloer skoon met ‘n omvattende interpretasie en lesing van die vers. Kan julle dink wat dit vir my, as groentjiedigter op die “internasionale verhoog” beteken het?! Hoe dit ook al sy, in daardie tye, anders as wat dit in die meeste gevalle vandag gesteld is, het bydraers se e-pos adresse onderaan hul inskrywings verskyn; ek het waarderende brief aan hom geskryf en so het die wonderlikste vriendskap oor die bestek van honderde briewe tot stand gekom.
Maar, die mooiste voorbeeld van die mens “Chris Coolsma” is egter die volgende: In 2008 is ek en Marlise na Cambridge vir haar dogter se troue. Chris en sy vrou, Lidi, is ook spesiaal daar van Groningen af. Terloops maak ek die opmerking dat die één ding wat ‘n reisiger grensloos mis, sy “eie” musiek is; dat ek totaal wanhopig uitgehonger is vir ‘n ordentlike stuk (klassieke) musiek. Nietemin, ‘n week later is ons in Amsterdam en Chris bel. Vra of ons een middag aan hom sal kan afstaan. Hy het naamlik ‘n verrassing vir ons. Hy ry toe al die pad van Groningen af na Amsterdam, en neem ons na ‘n vriend se huis in ‘n totaal ander gedeelte van Amsterdam waar ek en Marlise genooi word om aan te sit by ‘n netjies gedekte tafel met kaas, beskuitjies en wyn. Die verrassing? Chris het naamlik twee van sy vriende – ‘n violis en tjellis onderskeidelik – opgekommandeer om ons, met hom as klavierspeler, ‘n drieuurlange uitvoering van Haydn se trios te gee … Ai, mense. Daar sit ons, totaal beknepe in die gesellige binneruimte van verruklike musiek terwyl ‘n sneeugordyn die kaalgestroopte bome buite in die tuin donker vlek. Wat ‘n belewenis, wat ‘n geskenk …
Die mens Chris Coolsma. Meelewend, vrygewend. En nou gaan ons voortaan ook deel kan hê aan die ryk gedagtewêreld van dié begaafde en besonderse mens. Welkom, Chris – ek weet hoe benoud jy is oor dié gedoente, maar by voorbaat sê ek dankie namens al ons lesers.
As lusmaker plaas ek vanoggend ‘n vers van Chris, wat verlede jaar in Meander verskyn het, onder aan hierdie Nuuswekker, met as verdere toegif – én as geskenk aan Chris bedoel – die vers wat na dié besonderse middag ontstaan het.
***
Sedert gisteroggend het daar drie verdere plasings op die webblad bygekom: Bernard Odendaal se wonderlike stuk oor die liefdesvers, Daniel Hugo se haikoe-variasies in sy gedigtekamer en Bibi Slippers wat haar toetrede tot die Nuwe Stemme-blogkamer maak.
Liewe hemel, watter vreugde is die lewe nie! Vreet hom vandag stronk en al …
Mooi bly.
LE
Cyste
Je zult maar dichter zijn;
Gevangene van je geheugen
– om te ontsnappen
sonnetten van de dood
en van verlangen
naar verre geliefden
moeten schrijven-
met ruwe muren
die je zinnen schuren
tot kil diamant.
Je zult maar dichter zijn
en dan moeten ijsberen
op de koude spiegelvloer
van je eigen waan.
Je zult maar gedwongen
dichter zijn
van grafschriften
op een kerkhof
met één zerk.
© Chris Coolsma (Meander, 2009)
Voorkamermusiek
In Cambridge al noem jy heel terloops aan jou vriend
hoe geweldig julle musiek mis
en twaalf dae later trakteer hy julle in Amsterdam
met ‘n voorkamerkonsert
vir twee. Terwyl julle eenkant by ‘n tafel wyn
en kaas geniet, speel hy en twee ander
ure lank Haydn se musiek vir klavier, viool en tjello.
Buite skif sneeuvlokke geluidloos
tussen die bome en geboue deur, warm soos
die samesyn van hierdie bebrilde gryskopvriende
wat jare reeds oor hul bladmusiek buig
om die intiemste gesprek te vind: die weefsel
van klank en ritme wat selde – indien ooit –
so volmaak vervleg soos nou,
met hierdie oomblik in die binneruimte
van ‘n huis
wat delikaat ingesleutel word by
die verloop se
uitgestelde akkoord.
(c) Louis Esterhuizen