O.J.O. Ferreira het reeds ‘n groot bydrae met sy bestudering van aspekte van Portugal se meer as vyf honderd jaar lange kontak met Afrika gelewer. In sy werk word meermale onbekende of vergete fasette toegelig, wat die Afrikaanstalige leser die geleentheid bied om meer van hierdie geskiedenis te wete te kom. Aangesien sy werk op indringende navorsing in Suid-Afrika, Mosambiek en Portugal berus, word talle bronne vir die leser ontsluit en die moontlikheid van verdere navorsing gestimuleer. Sy Portugese leeskennis laat hom bowendien soos geen ander Afrikaanstalige geskiedkundige nie oor hierdie geskiedenis skryf.
Ferreira tipeer Ilha de Moçambique byna Hollands (Adamastor, 2010) as “‘n klein studie” (p. 1) waarin hy poog om iets van die grootsheid van Ilha de Moçambique, die strategies geplaasde tropiese eiland langs die noordkus van Mosambiek, onder woorde te bring. Vir hierdie doel word bykans uit elke denkbare en ondenkbare bron geput en ‘n indringende oorsig van die eiland se geografie, ligging en geskiedenis gegee. Heelwat ruimte word ook gewy aan die Nederlandse blokkades van die eiland en die onsuksesvolle pogings in 1604, 1607 en 1608 om die Fortaleza de São Sebastião te verower (pp. 29-66). Hierdie mislukte pogings is volgens die skrywer een van die redes waarom ‘n Nederlandse nedersetting later in die sewentiende eeu aan die Kaap tot stand gekom het. Tot dusver het hierdie “logiese afleiding” in die algemene geskiedenisse van Nederland en Suid-Afrika onvermeld gebly (p. 1).
Die Ooskus van Afrika het danksy handel met die Arabiere en Perse, asook latere kontak met besoekers uit Europa, wat daar die eerste permanente Europese nedersetting suid van die ewenaar gevestig het, ‘n ryk kultuurhistoriese, demografiese en genetiese nalatenskap. Vir die Portugese was die eiland “‘n uiters belangrike kommersiёle, militêre en politieke skakel tussen Lissabon en Goa in Indiё” (p. 22). Saam met die Lamu-argipel langs die kus van Kenia, asook Zanzibar en Pemba langs die kus van Tanzaniё, is Ilha de Moçambique een van die belangrikste eilande langs die Ooskus. Die wel en wee van die besetters en bewoners van die eiland word in hierdie boek boeiend weergegee en van talle illustrasies en kaarte voorsien. Op hierdie eiland het die groot Portugese digter Luís Vaz de Camões (1524–1580) boonop sy groot epiese gedig, Os Lusíadas, voltooi. Geen wonder dus dat die eiland in 1991 deur UNESCO as ‘n Wêrelderfenisterrein verklaar is nie.
Ilha de Moçambique byna Hollands is in ‘n vloeiende styl geskryf en die algemene versorging (met Schalk le Roux se hulp en talle foto’s) getuig van die hand van ‘n uiters vaardige geskiedkundige wat niks afskeep nie. (Kyk byvoorbeeld na die lys gesaghebbers van die eiland!) Ek het groot vreugde aan die lees van die boek gehad en is dankbaar dat daar nou in Afrikaans ‘n werk bestaan wat die geskiedenis en betekenis van Ilha de Moçambique met soveel respek aan die leser voorstel. Ek twyfel nie daaraan dat hierdie werk daartoe kan bydra om belangstelling in die geskiedenis van die Ooskus van Afrika verder te stimuleer nie.