Sondagoggend laai ek en my vrou die kinders by ouma en oupa af en ons ry Brooklyn Mall toe vir ‘n welverdiende fliek. Gelukkig kan ons vir ‘n slag ooreenkom oor wat om te gaan kyk en skuif ons reg vir Jane Campion (sy van The Piano faam) se Bright Star, wat handel oor die lewe van die digter John Keats en sy verhouding met Fanny Brawne.
Ek moet ruiterlik erken, my kennis van John Keats was beperk tot die paar opstelle wat ek in my tweede jaar van Engelse Poësie oor hom moes skryf. Ek vind sy werk effe soetsappig, miskien te verwagte van ‘n Romantiese skrywer.
Arme ou Keats het omtrent elkeen van die digterlike ‘stereotipes’ uitgeleef: die kritici van die dag het gereken sy werk is swak, omdat hy brandarm was kon hy nie met die meisie van sy drome (Fanny) trou nie, hy kry tuberkulose, moet Engeland verlaat en sterf in Italië op die ouderdom van 25. Hy ag homself so gering as digter dat hy versoek dat hulle op sy graf onder ander die woorde… “here lies one whose name was writ in water” aanbring. Geyk soos dit mag wees word hy na sy dood as een van die grootste van die Romantiese skrywers gereken.
Maar hier’s die ding. Ek sit en kyk na Jane se pragtige fliek en ek kan nie wag om by die huis uit te kom waar ek seker is iewers ‘n Wordsworth thrift uitgawe van Keats se werk in ‘n boekrak staan of ten minste weet ek vir ‘n feit dat La Belle Dame sans Merci en Ode to a Grecian Urn in my Norton Anthology is. Met weergalose talent skep Campion ‘n film wat niks anders as ‘n visuele gedig is nie, met ritme, klank en beelding skryf sy deur die lens ‘n metagedig wat my inspireer om ‘n vergete (vir my) digter se werk te gaan lees, iets wat Keats se werk opsigself nooit by my kon bewerkstellig nie.
‘n Maand of wat gelede leen ‘n vriend vir my die DVD Little Ashes, die verhaal van die vriendskap tussen Dali en die digter Lorca. Goed, ek vermoed hy het die DVD aangeskaf om oor die bleeksiel-vampier akteur Robert Pattinson wat die rol van Dali vertolk te kwyl. Des nieteenstaande het die kyk van die film my genoop om onverwyld Lorca se Versamelde Werke aan te skaf… en sal my lewe as digter nooit weer dieselfde wees nie.
Hierdie is bloot twee onlangse voorbeelde, ek weet daar is baie ander.
Ek dink ons vergeet soms dat daar ‘n klomp mense is wat nooit eerstehands met die digter en sy werk te doene kry nie en dan op ‘n dag, onverwags deur ander mediums hulle pad na die grondtekste vind. Met verwysing na Shirley Dent van The Independent wat dit het oor “Poet-oxemia” en die Artic Monkeys oor wie Louis Esterhuysen op die 22ste Februarie geskryf het; ek dink nie die Afrikaanse digkuns loop tans die gevaar om “trendy” te word nie… nie gemeet aan my groep 25 tot 35 jarige drinkebroers wat steeds reken “poëties” beteken die kuier van ‘n Bloubul vleuel agter Loftus se doellyn in die doodsnikke van ‘n Super 14 wedstryd nie. Goed, miskien kort ek ander vriende, maar vir my maak dit nie saak as ‘n tiener vir Dante deur ‘n TV-speletjie ontmoet nie… dink Dent werklik hy/sy sou die digter op ‘n ander manier raakloop? Solank films, speletjies, popliedjies – heng, wasgoedseep-advertensies – mense bewus maak van digters en digkuns… awesomeness! En as daardie medium – soos Bright Star – boonop insigself poëties kan wees, soveel te beter.
Ek laat julle met kort aanhalings uit werke van elk van die digters hier ter sprake, in gesprek met die geliefde:
“No — yet still stedfast, still unchangeable,
Pillow’d upon my fair love’s ripening breast,
To feel for ever its soft fall and swell,
Awake for ever in a sweet unrest,…”
© John Keats, Bright Star
“You’ll be laid out tonight
on a poet’s bed.
What child ever dreamed
a dream inside a flower”
© Federico Garciá Lorca, Memento
“My thoughts got rude
as you talked and chewed
on the last of your pick-and-mix”
© Artic Monkeys, Crying Lightning
Keats: “A poem needs understanding through the senses. The point of diving into a lake is not immediately to swim to the shore but to be in the lake, to luxuriate in the sensation of water. You do not work the lake out, it is a experience beyond thought. Poetry soothes and emboldens the soul to accept the mystery.”