Tussen die Woordfees en poësie het daar reeds sedert sy ontstaan in 1999 ‘n besonderse band bestaan en vanjaar se fees, wat vandag begin, is geen uitsondering nie. Die digkuns word gewis sterk verteenwoordig in vele vorme. Op sy blog het Melt Myburgh, Woordkuns-projekbestuurder by Woordfees, te kenne gegee dat hy van tyd tot tyd lusmakers gaan plaas vir die poësie-komponent van die fees. Maar, helaas, lyk my dinge verloop maar ietwat dol daar by sy kant van die draad.
Ek help hom dus graag in hierdie enorme taak deur jou aandag op die mees vername poësie-items te plaas deur hulle vir jou gerief onder aan vanoggend se Nuuswekker vir jou te lys. Maak seker dat jy nie dié besonderse geleenthede misloop nie. Hulle is in volgorde van dag-tot-dag ingedeel.
Die volledige program kan hier bekyk word. Ook het ek skakels by bepaalde items na toepaslike inhoud op die webblad aangebing.
***
Vanoggend wemel die webblad weer met nuwe inhoud. So is De Contrabas se Nuusbrief vir Februarie geplaas, terwyl Chris Coolsma sy toetrede tot Wisselkaarten maak. Aan die blogkant van sake is nuwe inskrywings geplaas deur Philip de Vos en Johann Lodewyk Marais, met nie minder nie as dríé nuwe inskrywings by die Nuwe Stemme-blog, te wete: Lize Viljoen, Lewies Botha en Jannie Malan. Ten slotte vestig ek jou aandag op nuwe gedigte wat van Zandra Bezuidenhout en Joan Hambidge ontvang is en in hul gedigtekamers geplaas is.
Lekker lees aan alles en mag dié week vir jou ‘n feestelike een wees …
Mooi bly.
LE
Klanktitels
Met Jan-Hendrik Harley (altviool), Brydon Bolton (kontrabas), John Pringle (perkussie) en Pierre-Henri Wicomb (klavier). Gedigte deur o.a. Willem Anker en Rob Bolton
In hierdie projek, spesiaal vir die Woordfees aangepak, word musiek op onkonvensionele wyse gekombineer met teks om aanknopingspunte tussen verskillende media te vind. Ejncp, oftewel Ensemble je nes comprends pas, is een van die weinige Nuwe Musiek-ensembles in die land. Die lede daarvan is almal komponiste in eie reg.
1 Maart 17:30 ● Fismer-saal ● 55min ● R65
Marion de Vos en Floris Brown lees verse voor uit hul publikasie Drieluik, waarin foto’s van Hilde Vaatstra opgeneem is. Nederlands en Afrikaans word verknoop rondom temas soos verbondenheid met die natuur, die kosmos, die liefde en ʼn soeke na spirituele wysheid.
2 Maart 14:00 ● Erfurthuis ● 60min ● Gratis
Met Lina Spies, Johann de Lange en Louise Viljoen
Hierdie keur uit die werk van Lina Spies, saamgestel deur Johann de Lange, erken en bevestig ‘n belangrike digterskap wat oor byna 40 jaar strek. Kom vier hierdie besondere publikasie van Human & Rousseau. Louise Viljoen praat met die digter en die samesteller.
2 Maart 18:00 ● Erfurthuis ● 60min ● Gratis, RSVP 021-406 3477
Iris Bester en Deon Knobel gesels oor hierdie gewilde kunstenaar en skrywer wat in 2009 ‘n volle 70 jaar jonk geword het, terwyl Philip en Albie Louw met uittreksels uit Brommer in die sop self wys waarom mense so graag sy vertonings bywoon. Geweet hoe ‘n goeie fotograaf Philip is? Kom kyk ook na sy foto-uitstalling en geniet ‘n gratis glasie Bain’s Cape Mountain Whisky. Met Dorothea van Zyl as fasiliteerder.
2 Maart 19:00● kykNET-Boektent ● 60min ● R40
(Ondersteun deur Human & Rousseau)
Fanie Olivier in gesprek met Joan Hambidge
Ná 21 jaar se stilte keer Fanie Olivier terug tot die poësie met Apostroof, wat handel oor die siekte en sterfte van sy geliefde vrou Rike. Kom maak opnuut kennis met die digter van hierdie aangrypende, gestroopte en deerniswekkende verse.
3 Maart 18:00 ● Erfurthuis ● 60min ● Gratis
Hertzog-pryswenner Petra Müller is ook 75 in 2010! Hannes van Zyl en Cas van Rensburg gee agtergrond oor haar poësie, prosa en ryk loopbaan, met skyfies ter agtergrond. Petra se eie gedigvoorlesings toon watter voortreflike voordragskunstenaar sy is. Met Dorothea van Zyl as fasiliteerder. Bain’s Cape Mountain Whisky word bedien.
3 Maart 19:00● Sasol Kunsmuseum ● 60min ● R40
Boekbekendstelling – Wat die water onthou
Louis Esterhuizen in gesprek met Louise Viljoen
In hierdie agste bundel van Esterhuizen word verskillende vorms van water en die verband wat water met die mens het, verken: die see, riviere, mis, wolke, ys, wasem. Soos vloeiende water loop ‘n verskeidenheid temas deureen in die bundel en word water juis ‘n beeld van die veranderlikheid en onvastheid van dinge, gevoelens en idees.
4 Maart 19:00 ● Protea Boekhuis ● 120min ● Gratis, RSVP 021-882 9100
Klankdig
Met Danie Marais, The Orange Stilletos, Ronelda S Kamfer, Andries Bezuidenhout, Die Kaalkop Waarheid, Hanru Niemand, The Black Cat Bones en Jack Parow
‘n Opwindende mengelmoes van digkuns en akoestiese rock-musiek, voorgedra en opgevoer deur van die land se mees befaamde kunstenaars asook interessante nuwelinge. Klankdig, wat “beat-poetry” eggo, trou woordkuns en musiek op ‘n kontemporêre wyse. In samewerking met Beyerskloof beloof hierdie Trouvrou – en DPK produksie om ‘n heerlike versnit op te lewer. Daar’s ook lekkernye en wyn!
4 Maart 19:00 ● Beyerskloof ● 90min ● R120
Met digters Jou Moer! (Jo Prins), DJ Totterman (Andries Bezuidenhout), NP van Lykskou (Danie Marais), JC Van (Christo van Staden), Ingrid Dronker (Ronel Nel), Jan Kolonie Hoenderdief (Charl-Pierre Naude)
Skeidsregter: Uys Intrige (Neil Sandilands)
Puntehouer: Sheila Concussion (Charlene McKenzie)
Musiek: John-Henry Opperman en Dawie Roux van Klopjag vs Jaco Lotter en Nardus du Plooy van DKW.
Die Woordfees se eerste Poetry Slam! Lus vir ʼn bekgeveg met tunes? Die bestanddele is eenvoudig: 6 digters, 4 musikante en ʼn crazy gehoor. Die gehoor sê wat en wys wenners aan; digters en musikante doen!
4 Maart 20:15 ● Fismer-saal ● 90min ● R40 (Muratie verskaf die wyn)
Nuwe Stemme 4
Die Nuwe Stemme-reeks is ‘n opwindende projek waarmee Tafelberg-Uitgewers publikasiegeleenthede skep vir jong digters wat nog nie genoeg gedigte het vir ‘n eie, selfstandige debuut nie. Nuwe Stemme 4 is saamgestel deur Danie Marais en Ronel Foster. Kom geniet ‘n glas wyn en iets te ete by dié bekendstelling.
5 Maart 18:00 ● Erfurthuis ● 60min ● Gratis, RSVP 021-406 3477
Kaapse digter en liedjieman Peter Snyders was 70 in 2009. Willem Fransman bring hulde en Robert Pearce se praatjie: ‘Peter Snyders – nie ʼn ordinary vriend’ toon met watter besondere kunstenaar en mens ons hier te doen het. Met gratis Three Ships whisky.
5 Maart 19:00 ● Sasol Kunsmuseum ● 60min ● R40
Soete groete
Nederlandse en Afrikaanse skrywers span talente saam vir ʼn onvergeetlike aand van woord- en musiekkuns. Kom geniet Stellenrust se kos en wyn saam met groot name soos Stef Bos, Lina Spies, Menno Wigman, Annelies Verbeke, Marion de Vos, Floris Brown en Theatergroep Flint.
5 Maart 19:00 ● Stellenrust ● 180min ● R170
Francis Galloway gesels met die akademikus Louise Viljoen, wie se bundel opstelle oor die werk van Antjie Krog onlangs verskyn het. As skrywer en kommentator oor sosiale en politieke kwessies strek Krog se invloed wêreldwyd. Hierdie gesprek beloof verrykende insigte oor die werk van ʼn grootse digter.
6 Maart 12:00 ● Ou Hoofgebou: Lokaal A ● 50min ● R30
Louis Esterhuizen lees gedigte uit sy nuwe bundel voor, terwyl Marietjie Pauw die verse met haar dwarsfluit eggo. Die musiek is van verskeie komponiste en is geneem uit die repertorium vir solofluit.
6 Maart 12:00 ● Erfurthuis ● 50min ● R30
Nuwe woorde word nuwe liedere
In samewerking met Woordpoort, Pretoria
Met Deirdré Blignaut (sopraan), Linette van der Merwe (mezzo), Chris Mostert (tenoor) en Wessel van Wyk (klavier).
Splinternuut en pragtig! Daniel Hugo, Hennie Aucamp, Hennie van Coller en Carina Stander het spesiaal gedigte geskryf wat deur leidende komponiste soos Niel van der Watt, Hendrik Hofmeyr en Martin Watt getoonset is. Met die ondersteuning van die FAK gee hierdie opdragproduksie ʼn stewige hupstoot aan die Afrikaanse kunsliedereskat. Met wyn van Kaapzicht.
6 Maart 12:00 ● Fismer-saal ● 50min ● R60
Woordkuns en oorlog
Oorloë dien nie net as voedingsbron vir poësie in enige taal nie; die verskuns word dikwels ingespan as wapen en uitdrukkingsmiddel vir emosies oor onheil, onmenslikheid, pyn; vir weersin maar ook humor. Die heel eerste ‘Afrikaanse’ gedig uit 1795 was juis ‘n oorlogsgedig. Kundiges kom werp lig op die rol van die digkuns in konflikte soos die ABO, die Tweede Wêreldoorlog en die onlangse Grensoorlog.
Martiens van Bart
Digkuns as medium van oorlogvoering
6 Maart 09:00 ● Ou Hoofgebou: Lokaal B ● 50min ● R20 by die deur
Johann Lodewyk Marais
Die digkuns as manier van oorlogvoering
6 Maart 10:30 ● Ou Hoofgebou: Lokaal B ● 50min ● R20 by die deur
Trevor Emslie
Leipoldt oor Afrikaans
6 Maart 12:00 ● Ou Hoofgebou: Lokaal B ● 50min ● R20 by die deur
Wium van Zyl
Die digkuns in die oorlogstyd
6 Maart 13:30 ● Ou Hoofgebou: Lokaal B ● 50min ● R20 by die deur
Skemerverse
Met Abel Kraamsaal, Marlise Joubert, Louis Esterhuizen Diana Ferrus, Danie Marais, Loftus Marais en Jasper van Zyl
Daar is nie ʼn beter manier om die Woordfees af te sluit met strelende musiek en kwaliteit-poësie in die rustige atmosfeer van die Trumpet Tree nie. Kom klink ʼn glasie en geniet ʼn happie in die geselskap van die voorste versmakers in Afrikaans.
7 Maart 18:00 ● Trumpet Tree ● 120min ● R80 (ligte ete ingesluit)
stuur asb datums vir woordfees 2011
Dankie, Ria. Ons is net so beïndruk met die Woordfees-program EN die Nuwe Stemme-bloggers. Nogtans vind ek dit net jammer dat soveel van die poësie-items op die program oorvleuel … Ai, ai. ‘n Mens gaan maar moeilik kan kies tussen soveel opwindende dinge.
Louis
Dit klink na ‘n uitstekende program wat Woordfees vir ons poësieliefhebbers saamgestel het. Ek sal beslis van hierdie items bywoon! Terloops, die Nuwe Stemme blogs is absoluut opwindend om te lees.
Groete,
Ria