Andries Bezuidenhout. Die geskiedenis se engel

“Daar is ʼn skildery deur Klee, getiteld Angelus Novus. ʼn Engel in die afbeelding lyk of hy stip oor iets nadink, maar op die punt is om daarvandaan weg te beweeg. Sy oë is gesper, sy mond oop, sy vlerke gespan. Dít is hoe die engel van die geskiedenis moet lyk. Sy aangesig is na die verlede toe gedraai. Waar iets vir ons soos ʼn ketting van opeenvolgende gebeure lyk, sien hy ʼn enkele katastrofe wat onophoudelik soos wrakstukke voor sy voete neergesmyt word. Die engel sou graag wou verpoos, die dooies opwek en dit wat gebreek is weer heelmaak. Maar ʼn storm woed vanuit die Paradys, het hom aan die vlerke beet en waai so onstuimig dat die engel hulle nie weer kan sluit nie. Die storm dryf hom genadeloos die toekoms in, waarop sy rug gekeer is, terwyl die rommelhoop voor hom ten hemele aangroei. Hierdie storm is dit wat ons vooruitgang noem.”

Hierdie is my Afrikaanse vertaling van een van Walter Benjamin se veel aangehaalde aanhalings. Dit kom uit Über den Begriff der Geschichte. Dalk klink dit so lomp omdat Afrikaans te naby aan Duits is.

Die verwysing is natuurlik na Paul Klee, wat deel van Kandinsky se Blaue Reiter-groep was en later ʼn dosent aan die Bauhaus was. Sylvia Plath het ʼn paar gedigte geskryf wat deur van Klee se skilderye en etse geïnspireer is. Op ʼn keer is Klee gevra wat hy werklik sou wou doen… of wat die hoogste vorm van kuns is… of iets soortgelyks. Hy was ʼn skilder, het ʼn gesonde belangstelling in musiek gehad en het gedigte geskryf. Sy antwoord was die poësie.

Die vroeë moderniste interesseer my op die oomblik. Dalk is dit omdat hulle ʼn eeu gelede aan die werk was. Dalk is dit omdat hulle in soortgelyke tye as ons gelewe het, ook nie bewus was van die oorloë wat sou kom nie. Dalk is dit maar net omdat ek aanklank by die estetika vind – die pragtige geboue wat onbeskaamd aan ʼn beter toekoms geglo het. Daardie elegante lyne beteken nou iets heeltemal anders, omdat die engel reeds verbygewaai het. Ons sit iewers op een van die rommelhope, kyk hoe die vlerke fladder.

Wat noem ons hierdie tyd?

Die volgende is ʼn vertaling van een van Klee se gedigte, deur Anselm Hollo. Ek het dit op die internet opgespoor:

INDIVIDUALITY

Individuality?
is not of the substance of elements.
It is an organism, indivisibly
occupied
by elementary objects of a divergent character:
if you
were to attempt division, these parts
would die.

Myself,
for instance: an entire dramatic
company.

Enter an ancestor, prophetic;
enter a hero, brutal
a rake, alcoholic, to argue
with a learned professor.
A lyrical beauty, rolling her eyes
heavenward, a case
of chronic infatuation —
enter a heavy father,
to take care of that.
enter a liberal uncle — to arbitrate. . . .
Aunt Chatterbox gossiping in a corner.
Chambermaid Lewdie, giggling.

And I, watching it all,
astonishment in my eyes.
Poised, in my left hand
a sharpened pencil.

A pregnant woman!, a mother
is planning
her entrance —
Shushhh! you
don’t belong here
you
are divisible!
She fades.

Bookmark and Share

35 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die geskiedenis se engel”

  1. marlise :

    Andries, jy noem hierbo Sylvia Plath – sy het natuurlik ook self baie goed geskilder, waterverwe, tempera, olie, pastelle & kryt. Sy het reeds as kind baie begin teken. Van haar werk is te sien in The Writer’s Brush, paintings, drawings, and sculpture by writers – ‘n wonderlike boek, [457 p.!] een van my gunsteling boeke [geskenk aan my deur die geliefde]waardeur ek gedurig maar blaai. Breyten is die enigste Afrikaanse skilder wat daarin opgeneem is.

  2. Louis :

    ‘n Wonderlike inskrywing, Andries. Laat my dink aan ‘n gedig van Johan van Wyk – nog een van ons “vergete” digters – wat die volgende vers oor Paul Klee geskryf het:

    Op loop gegaan

    Meneer Paul Klee het op loop gegaan
    met ‘n lyn aan ‘n halsband,
    met skrefies oë, ‘n krulletjie baard
    en ‘n droomhoed
    in die speelpark. Kinders ry
    op drome skoppelmaai.
    Die lyn het op loop gegaan
    met meneer Paul Klee,
    met ‘n droom wat wit kierie loop.

    (Uit: Heldedade kom nie dikwels voor nie, 1978: Perskor Uitgewery)

  3. Desmond :

    Andries, ken jy Laurie Anderson se song oor Benjamin se Engel van die geskiedenis?

  4. Desmond :

    Die naam is The Dream Before, en hier is die lirieke:

    Hansel and Gretel are alive and well
    And they’re living in Berlin
    She is a cocktail waitress
    He had a part in a Fassbinder film
    And they sit around at night now drinking schnapps and gin
    And she says: Hansel, you’re really bringing me down
    And he says: Gretel, you can really be a bitch
    He says: I’ve wated my life on our stupid legend When my one and only love was the wicked witch. She said: What is history?
    And he said: History is an angel being blown backwards into the future
    He said: History is a pile of debris
    And the angel wants to go back and fix things
    To repair the things that have been broken
    But there is a storm blowing from Paradise
    And the storm keeps blowing the angel backwards into the future
    And this storm, this storm is called Progress

  5. Andries Bezuidenhout :

    Yes, Desmond, ek ken dit. Van “Strange Angels” af. Ek dink sy gee darem erkenning aan Walter Benjamin op die cover. Ray Phiri speel ook op daai plaat op van die ander songs.

  6. Desmond :

    Ek dink sy doen, ja. Kan nie onthou nie: het nie self ‘n kopie op CD nie, en het altyd die LP by ‘n vriend geleen. Jy vind aanklank by die vroee moderniste skryf jy; watter, indien enige, van die komponiste van daai tyd doen dit vir jou? Vir my: Debussy veral, maar vele ander ook. Het onlangs Szymanowski ontdek.

  7. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, by musiek moet ek nog uitkom. Schoenberg is hoog op my agenda.
    A

  8. Desmond :

    Ek het laasjaar bietjie Schoenberg begin luister. Tans wag ek vir die posdiens om ‘n CD af te lewer waarop Mitsuko Uchida, onder leiding van Pierre Boulez, onder andere Schoenberg se klavierconcerto speel. (Ek sukkel nog om te besluit watter opnames van sy Pierrot Lunaire en Gurreliedere ek moet koop.) Ek hou eintlik ‘n bietjie meer van sy twee studente, Webern en Berg. Jy kan op EMI se ‘Encore’ reeks (ek het laasjaar stapels gekoop; hulle is heruitreikings van goeie opnames teen budgetpryse) ‘n CD kry waarop Simon Rattle drie orkeswerke van Schoenberg, Webern en Berg onderskeidelik dirigeer. Die Webern, veral, is rock ‘n roll. Op die ou end verkies ek egter die nie- en minder-Germaanse komponiste van daardie jare: Skriabin, Debussy, Ravel, sommige Stravinski — bietjie meer luisterbaar vir my.

  9. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Desmond, dit sal help met keuses. Hel (ek sou ‘n sterker woord wou gebruik, maar dan maak ek moeite vir ons webmeester), ek wens ek het meer lewens gehad om alles in te pas!

  10. Desmond :

    Ja, ek ook!! Wat my onderkry van klassieke musiek is dat daar nie net hordes komponiste en komposisies is nie, maar dat ‘n mens dan nog moet kies tussen hordes verskillende interpretasies van dieselfde werk. Jy kan jou hele lewe lank net na Beethoven se sonatas in verskillende interpretasies luister!! Ek wens ek kon die skilderkuns en argitektuur bybring, maar dit is nog ‘n ongerealiseerde Nuwejaarsvoorneme, daardie een.

  11. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, ek sit en torring aan my navorsingseenheid se jaarverslag vir verlede jaar. Nie baie digterlik nie. Ek kry ook lag as ek dink aan myself in ‘n Corbusier-stoel sit en luister na Scoenberg hier aan die suidpunt van Afrika. Dis die absurditeit van die lewe wat dit seker die moeite werd maak.

  12. Desmond :

    Inderdaad; die lewe is mos immers onnatuurlik. Ek is Secretary/Treasurer van ‘n vakvereniging, so wat ek op die oomblik sit en doen is nie net ondigterlik nie, dit is sommer gewoon anti-digterlik. Ten spyte van alles, egter, is daar steeds nie ‘n beter plek om Schoenberg of enigiets anders te luister as juis die suidpunt van Afrika nie!

  13. Hier is ‘n luistervink uit die Lae Land, die Noorde. Ek onthou Schoenberg het altyd verlang na die moment dat die slagterseuns s’n melodieë sal fluit gelyk Schlagers, glo hy het dit voorspel. Somtyds probeer ek dit, maar dit luk my nie. Selfs na ‘n lang-lang studie van opus 19 en 11 vir klavier (musiek wat die poësie so dig benader as wat doenlik is) is ek amper in staat om ‘n volledige frase te reproduseer. Die stukke moet ek noot vir noot verover, maar die beloning is wonderlik. Jy raak op enige moment bedwelm, high, van daardie musiek. Van die moment af het Schoenberg (en Webern, ja, Webern, die vioolkonsert, die Lyrische Suite, die Lieder!) vir ‘n wyle alle andere musiek verdring. Maar dit beklyf nie in my hoof nie.
    (disclaimer: my Afrikaans is nie volmaak nie. Ek sta nie in vir schade, veroorsaak deur verkeerd gebruik nie)

  14. Desmond :

    Chris Coolsma, ja, Webern se Lieder, inderdaad… En die variasies vir klavier: miniatuur meesterstukke. Ek het die Schoenberg opus 19 en 11 vir klavier in ‘n opname deur Maurizio Pollini. Ek kan dit ook nog nie fluit nie. In Alex Ross se The Rest is Noise lees ek Schoenberg het ook op ‘n stadium die begeerte gekoester dat hy in Hollywood filmmusiek sou kon komponeer, maar dit het nie so uitgewerk nie… hy het glo te veel geld gevra!!

  15. Andries Bezuidenhout :

    Chris! Aangename kennis. Ek kan nie eers probeer om in Nederlands te antwoord nie. Ken jy Fred de Vries se boek “Club Risiko”, oor post-punk in Amsterdam, Parys, New York, Ljubljana, Londen, New York en Johannesburg? ‘n Bietjie na die tyd waaroor jy op jou blog skryf, maar daar’s wonderlike stukke oor samewerking tussen digters, musikante en beeldende kunstenaars daarin.

  16. Andries Bezuidenhout :

    O ja, in die geval van Johannesburg ook Chris van Wyk waarna Louis hier bo verwys. Hy speel nogal in groot rol in die boek.

  17. Andries Bezuidenhout :

    Ag tog, Johan van Wyk, natuurlik.

  18. Louis :

    Andries, enkele weke gelede het ‘n kliënt kom navraag doen oor boeke van die Italiaanse filosoof Giorgio Agamben. Die een boek, “The man without content” het my aandag getrek vanweë die essay “The melancholy angel” wat daarin opgeneem is. Uiteindelik gister by die lees daarvan uitgekom en wow! Wat ‘n ongelooflike stuk werk. Presies wat jy hierbo oor skryf; Walter Benjamin, Paul Klee, Franz Kafka, ens. ens. Jy MOET dit in die hande kry en lees. As lusmaker neem ek sommer lukraak ‘n passasie wat ek vir jou oortik: “Thus aesthetics is not simply the privileged dimension that progress in the sensibility of Western man has reserved for the work of art as his most proper place; it is, rather, the very destiny of art in the era in which, with tradition now severed, man is no longer able to find, between past and future, the space of the present, and gets lost in the linear time of history.” Hierteenoor word Kafka geplaas wat die siening van tyd (en geskiedenis) as synde liniêr ophef; vir hom is dit alles teenwoordig in die moment. Dus – geskiedenis as stand, of te wel: (toe)stand … Fassinerende leesstof, inderdaad. Nogmaals dankie vir jou wonderlike stuk hierbo.

  19. Desmond :

    Deesdae is Giorgi Agamben beslis een van die moet-lees filosowe, lyk dit my, want ek sien oral verwysings na hom. Ek het stukkies gelees waarin hy skryf oor ‘bare life’, kampe en ‘states of exception’, maar dit is al. Ek verneem hy het, benewens die politiek, baie oor kuns en die letterkunde ook geskryf.

  20. Andries Bezuidenhout :

    My kollegas wat oor “soewereiniteit” werk, lees hom. In tye van plekke soos Guantanamobaai is dit interessant dat Agamben mense soos Hobbes en Carl Schmitt se werk herlees. Donker tye, voorwaar! Danie Marais het ook na Agamben verwys in sy referaat oor die verhalende vers.
    NS. Louis, toe vergeet ek my splinternuwe kopie van die Szymborskabundel in die huurkar. Diep sug…

  21. Desmond :

    Ek het ‘n redelike skerp kritiek van Agamben se idees oor soewereniteit en ‘bare life’ gelees in ‘n klein boekie deur Butler en Spivak met die mooi titel ‘Who sings the nation state?’ Maar ek kan niks meer onthou van wat ek gelees het nie. Ek beny ander mense hulle goeie leesgeheues.

  22. Andries Bezuidenhout :

    En ek beny mense wat Spivak lees en ‘n paar sekondes na hulle dit gelees het, kan onthou wat hulle sopas gelees het.

  23. Desmond :

    Ek beny mense wat haar voornaam kan uitspreek sonder om selfs ‘n bietjie onseker van hule saak te lyk. Ek het nog nie eens my tong rondom ‘Barthes’ en ‘Sartre’ gekry nie. Rym hierdie twee name byvoorbeeld?

  24. Chris Coolsma :

    Aangename kennis, Desmond en Andries. Ek het eers vandag die pad na die kommentare terugverover. Versindaba is ‘n paradyselik labirint. Desmond: slegs één interpretasie het vir my ooit die Pollini-versie overtref. My pianodosent het my tot trane toe ontroer met die suggies van op. 19. Dalk omdat ek self met die stukke geworstel het op dié moment. Pollini is ‘n boetie van God. Somtyds té volmaak. Andries: ek sien ek kan veel opsteek in hierdie erudiete geselskap. Ek vra my boekhandelaar vir Club risico en The rest is noise. Glo Giorgi klink as Djziordzji. As ‘n grootneus niesbui.

  25. Chris Coolsma :

    O ja, Barthès rym met fles en Sartre rym op niks. Dit klink as Sàr-trù, as in eh, die Hollandse dinktussenwerpsel, beroemd van die radiospel ‘Zeg eens eh’ waarby jy verlies as jy ‘eh’ seg.

  26. Andries Bezuidenhout :

    Hm, klink of ons ‘n ekwivalent van Monty Phython se “Philosopher’s song” benodig. Iets wat so mooi rym soos: “There’s nothing Nietzsche couldn’t teach ya/ ‘Bout the raising of the wrist./ Socrates, himself, was permanently pissed…” ens. ‘n Mens se tong sal beslis moet sleep as jy Zizek met iets in Afrikaans of Nederlands wil laat rym.

  27. Desmond :

    Chris, ek het die naweek na Pollini se redelik onlangse opname van die Chopin Nokturnes geluister. ‘n Bietjie meer teruggetrokke as waaraan ‘n mens dalk gewoond is (ek dink bv. aan die pragtige Carnegie Hall opnames van twee of drie Nokturnes deur Evgeny Kissin), maar juis daarom besonders en uiteindelik op hulle eie manier aangrypend. Ek sien ook Pollini se opname van Bach se Das wohltemperierte Klavier het pas verskyn. Ek dink amper dit is sy eerste Bach-opname? Sien uit om dit te hoor. Die laaste paar weke het ek juis heelwat Bach geluister: Perahia se Engelse Suites en Aimard se Kuns van die Fuga. Laasgenoemde het ‘n paar slegte kommentare op Amazon gekry, maar ek dink dit is fantasties. O ja, jy sal The rest is noise geniet. Dit was die beste nie-fiksie boek wat ek laasjaar gelees het. Aangrypend en sleg vir ‘n mens se bankbalans…

  28. Desmond :

    Andries, ek neem aan jy is al aan die komponeer aan ‘n Afrikaanse ‘Filosofie song’? Ons wag in spanning!!

  29. Chris Coolsma :

    Desmond, al die Pollini opnames is ‘must have’, daar stem ek saam met jou. Ook sleg vir ‘n mens se bankbalans. Ken jy Perahia s’n uitvoering van die Goldbergvariaties? Dat is hartbalsem. Bach is eintlik altyd by die huis. Daar is ‘n nuwe opname van die Mattheus door Ricardo Chailly met die Gewandhausorchester (Decca 478 2194). Mit Tränen setzen wir uns dabei nieder. Ek is ‘n agnost, maar Bach maak die bybelboodskap sterk en hartverscheurend. Hou jy ook van die partita’s ens vir soloviool?

  30. Chris Coolsma :

    Andries, in Nederlands rym Zizek met grote bek, Beauvoir met zo raar, Sartre en Camus dronken liever wijn dan jus, Plato sprak naar rato, en Aristoteles ging op de fles, net als Barthès en Socrates. Maar Monty Python is ‘n té gedug opponent.

  31. Desmond :

    Chris, Perahia se Goldberg variasies is seker my gunsteling-opname van daardie werk, en ek luister gereeld daarna — wanneer ek werk, wanneer ek lees, en wanneer ek skottelgoed was. Na alles verkies ek dit oor die twee Gould-opnames.

    Die partitas ens vir soloviool is fenomenaal, en ek en my bankrekening wroeg nou al vir etlike maande oor watter van laasjaar se twee groot opnames van daardie werk ons moet koop: Mullova, of dalk eerder die young upstart, Alina Ibrigimova, se ligte, dansende opname. Van laasgenoemde het ek ‘n wonderlike Szymanowski-disc, The Complete Music for Violin and Piano, so ek is reeds ‘n aanhanger. Het dit gekoop nadat ek verlief geraak het op Piotr Anderszewski se opname van Szymanowski se klaviermusiek. ‘n Laatnag-disc soos min ander.

    Pollini: ek het onlangs ‘n mooi essay oor hom gelees, geskryf deur Edward Said.

  32. Chris Coolsma :

    Desmond, ek gaan jou oorhaal tot die koop van ‘n uitvoering op outentieke instrumente. Meer instruksies volg. Kan jy my meer inlig oor die vindplaats van Said se essay?

  33. Desmond :

    Chris, ek sal by die huis gaan soek vir die presiese verwysing vir Said se essay en dit stuur. Ek wag dan in spanning op jou Bach-instruksies! Intussen het die posman so ‘n halfuur gelede ‘n pakkie by kantoor afgelewer: Emil Gilels se opname (saam met Eugen Jochum) van die twee Brahms klavierkonzerte en Fantasien op.116 (tans besit ek opnames van #2 deur Arrau en Zimmerman en #1 deur Weissenberg); Michelangeli se Chopin Mazurkas; en Mitsuko Uchida se Schoenberg klavierkonsert en, ja, die klavierstukke op. 11 en 19 waaroor ons al gesels het. (Sy speel ook op die CD Webern se Variasies Op. 27 en Berg se Klaviersonate Op.1) Presto Classics het ‘n uitverkoping gehad, sien…

  34. Chris Coolsma :

    Desmond, ek kan jou aanbeveel om kennis te maak met Rachel Podger . Sy het die Partitas en sonates van Bach ingespeel op Channel Classics CCS 12198 en 14498. Ek ken nie ‘n so natuurlike en stromende, skynbaar moeitelose uitvoering van daardie wonderwerke nie. Daar is nie ‘n skeiding tussen die musiek en die luisteraar nie. Sy is die ideale vertolkster, integer, sonder effekbejag. Glo tog die bankrekening is ‘n groot vriend van jou, Desmond. My persoonlike geldbewaakster sou my beveel ‘n week buite te slaap as ek in dié mate inkoop. ek is ‘n bietjie groen aangeloop by die lys van jou. Gilels! Michelangeli! Uchida se Schoenberg!! Ek kwyl vir jaloesie.

  35. Desmond :

    Hallo Chris. Ek het ‘n bietjie gaan kyk, en Podger se CDs is ongeveer 50% goedkoper as die’s waarna ek gekyk het, so ek sal jou raad heel moontlik volg… Wat my bankrekening betref: binne die volgende maand trou ek en ek begin ‘n huislening terugbetaal, so ek moet nou noodgedwonge soveel moontlik koop!! Wanneer die maer jare kom, sal dit ten minste ‘n soundtrack het.

  •