Philip de Vos. Alice in Wonderland

 

Vir baie maande reeds word dit geadverteer dat Tim Burton se rolprent Alice in Wonderland wêreldwyd op 5 Maart 2010 sou begin draai met wonderlike foto’s om kykers alreeds ’n voorsmakie te gee.

Gisteraand dus, sit ek in ’n donker Ster Kinekor-teater met ’n grys 3D brilletjie om al die nuwe wondere van die tegnologie te aanskou. En onmiddellik was ek weer terug in Bloemfontein in 1953 in die Plaza met ’n groen en rooi brilletjie terwyl ek my doodgril vir Vincent Price in The House of Wax met allerhande dinge wat sommer reg uit die skerm spring en op my skoot beland.

En gister toe Alice by die erdvarkgat (het hulle erdvarke in Engeland?) af val tot by die wonderwêreld het ek eers ge-oe en ge-a, want daardie wêreld was amper nog wonderliker as die foto’s wat ek alreeds op internet gesien het: pratende blomme en ’n yslike pyp-rokende ruspe op ’n paddastoel, ’n Cheshire Cat wat soos ’n wasempie rook verskyn en verdwyn en ’n wonderlike Queen of Hearts met ’n kop wat lyk of jy haar deur ’n vergrootglas aanskou.

Maar teen die einde se kant, nadat ek alreeds een of twee keer vir ’n paar sekondes ingedut het, dink ek skielik aan my gunsteling rolprent van alle tye: The Wizard of Oz en wens ek dat ek liewer in Oz kan vertoef as in Alice se donker Wonderland.

Nou wonder ek, is dit miskien ’n teken van oud-word, want The Wizard of Oz is in 1939 uitgereik, die presiese jaar toe ek gebore is en is dit dalkies die reken waarom ek so ’n sagte plekkie vir hierdie rolprent het?

Die vytigerjare toe ek grootgeword het, was onskuldige jare met liedjies soos:

 

How much is that doggie in the window?

The dog with the waggley tale (woof! woof!)

 

of

 

She wore an itsy bitsy teeny-weeny

yellow polkadot bikini …

 

Deesdae is dit musiek wat doef-doef met woorde wat g’n mens kan uitmaak nie of Zef Side met Die Antwoord.

Nou dat ek kan terugsit en dink oor Alice en die land van Oz reken ek dat Oz my veel meer menslike warmte bied as wat Alice se wêreld my ooit kan gee.

  

The Wizard of Oz het inderdaad karakters vir wie ’n mens met liefde kan omgee. Dorothy Gale met haar:

  

Somewhere over the rainbow

way up high,

there’s a land that I heard of

once in a lullaby.

 

En drie karakters: een sonder hart, een sonder verstand, en een wat bra bangerig is. Karakters met wie mens kan identifiseer. In Alice is daar niemand met warmte vir wie ek kan omgee nie. Vir Alice leer ’n mens nie ken nie. The Mad Hatter (nee!) The White Queen (nee!) The Jabberwocky (beslis nee!) Die enigste karakter vir wie ek liefgekry het was ’n klein krimpvarkie wat deur die Queen of Hearts gedurende haar croquet-spel met ’n flamink gemoker word, maar dié toneel was binne drie sekondes verby.

 The Wizard of Oz (ten spyte van sy kru effekte) is na 70 jaar nog steeds wêreldwyd geliefd. Ek twyfel of Tim Burton se Alice in Wonderland (met al sy oe- en a-effekte) steeds in 2080 met liefde onthou sal word.

 Want The Wizard of Oz se menslike boodskap bly nog steeds There’s no Place like Home en dít is myns insiens waarom hierdie film oor 70 jaar nog êrens vertoon sal word.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •