Karlien van der Merwe
Ek het die voorlees van Nuwe Stemme 4 in die Kaap baie geniet. Hier is `n stukkie aand:
Ek groet met een van my gedigte geïnspireer deur `n skildery van Anne Archer:
Sy droom vir haar `n lou landskap.
Bruin.
`n Landskap met die lug van net nà aandskemer;
een waarin jy ver kan sink sonder terugkyk of dink.
Dit het die kleur en tekstuur van leiwater op `n soel dag.
Die troebelte is dié van `n stroompie wat urelank lê en slik het
en haar reis bring bruin rus en bruin gekneusde appels
en bitterbruin appelgeur.
Sy systap die son en die maan en die sterre.
Sy pars die blomme van te veel minnaars tussen plat klippe.
Stamper en stempel geslag pak sy laag op laag tussen rotse;
plat, sodat geeneen weer gevoel kry nie en hulle soos ou bruin bloed word.
Maar toe sy wakkerword, wieg sy heen en weer in eie omhelsing,
hande-om-die-knieë in `n snerpend-koue son
honger sy na die bitterbruin van half-geëete appels.
Sy proe die sypel van vrot pulp tussen haar vingers.
Sy ruik die gis
en dink daaraan dat die bruin rante `n steil alleen klim is.
Selfs sonder rugsak.
Karlien van der Merwe.
Baie besonderse woordspeling en die beeldspraak is baie goed. Dit voel asof ek saam met die digter na die kunswerk kyk en nuwe tonele ontdek.