Andries Bezuidenhout. My “doodle” by die Woordfees

STELLENBOSCH, ONWAARSKYNLIK

Slaap skaaf die son se oog,
vrank gorrel gist’raand se jongwyn in leivore af.
Onwaarskynlik dat ek vanoggend twee arende
op Neethlingshuis se gewelnokke gewaar,
dat hulle, non en monnik, ʼn hees kantate skree:

Ons naam is Onwaarskynlik,
ons naam is Onwaarskynlik,
ons naam is Onwaarskynlik.

Huise tande in die vallei se gebit,
onsteek waar been en karkas tussen mure vassit.
Onwaarskynlik dat twee suikerbekkies vanmiddag
kom nagmaal hou, aalwynstele
met hul sakrament ontstel, rites tjirp:

Noem ons Onwaarskynlik,
noem ons Onwaarskynlik,
noem ons Onwaarskynlik.

Onwaarskynlik dat die woord hiasint hiér,
so ver van Lorca se benerige neus, tuis sal wees.
Op óns tonge sê die reuk maar net: boslelie.
Doop my! grom die seewier wat sesvoetig
in my wynglas se meniskus spartel:

Doop my Onwaarskynlik!
Doop my Onwaarskynlik!
Doop my Onwaarskynlik!

Ek sweer dis waar,
op alles wat deur hierdie lense verskyn
en hierdie vliese, wat deur ‘n pen geskeur kan word;
ek sweer hierdie sig is nektar,
dié bloed is wyn wat uit ʼn doopvont skyn:

Onwaarskynlik, onwaarskynlik, onwaarskynlik!

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Andries Bezuidenhout. My “doodle” by die Woordfees”

  1. Ronel Nel :

    Engel slaap jy NOOIT?
    Dis beautiful in die Bos, daai….